Polisieman by laerskool doodgeskiet

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

ʼn Polisiebeampte, wat nie aan diens was nie, is Dinsdagaand in sy eie motor by ʼn laerskool in Kaapstad doodgeskiet.

Lt.kol. André Traut, polisiewoordvoerder van die Wes-Kaap, het gesê die beampte, ʼn 37-jarige konstabel wat by die Simonstad-grensposeenheid gestasioneer was, is omstreeks 20:00 by Ludwe Ngamlana Primary School in Kuyasa, Harare, doodgeskiet.

“Die slagoffer het om 19:00 sy skof klaargemaak en het nog sy uniform aangehad toe hy geskiet is,” het Traut gesê. “Ons glo die motief vir die moord was roof, want die konstabel se dienspistool is gesteel.”

Die polisie ondersoek die voorval en het ʼn beroep op die publiek gedoen om na vore te kom as hulle enige inligting oor die voorval het. “Alle inligting sal vertroulik hanteer word. Skakel Crime Stop by 08600 10111.”

Traut het namens die bestuur van die Wes-Kaapse polisie hul innige meegevoel betuig aan die familie en kollegas van die gevalle lid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

vermeende ·

Ek praat dit nie goed nie maar sou dit in die bree media gewees het as hy nie ‘n polisieman was nie. Sal die polisie die selfde gehalte ondersoek loods as dit ‘n wit tante van 80 op ‘n plaas was????????
Nee hulle sou nie!!!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.