Polisieman kritiek ná transitorooftog

Die nooddienste het die sekuriteitswag en polisiebeampte op die toneel behandel (Foto: Verskaf)

ʼn 25-jarige polisieman is in ʼn kritieke toestand in die hospitaal nadat hy tydens ʼn transitorooftog in Durban, KwaZulu-Natal, geskiet en ernstig gewond is. ʼn Veiligheidswag is ook raakgeskiet.

Brig. Jay Naicker, woordvoerder van die polisie, sê polisiebeamptes van die Durban-Sentraal-polisiestasie was Dinsdag by ʼn bekende winkelsentrum in die middestad toe hulle van die transitorooftog by die sentrum in kennis gestel is. Hulle het dadelik gereageer.

“Daar word beweer dat ʼn veiligheidswag omstreeks 15:30 deur vyf mans oorval en van kontant beroof is,” sê Naicker. “Die polisiebeamptes, wat dadelik op die rooftog gereageer het, kon daarin slaag om die mans in hul spore te stuit voordat hulle met die geld kon vlug. Die verdagtes het op die beamptes losgebrand en een konstabel en ʼn veiligheidswag in die proses raakgeskiet.”

Rescue Care Paramedics is ook na die toneel ontbied waar hulle die twee gewondes op die toneel behandel het. Volgens ʼn verklaring van dié nooddienste is die beampte in die bors geskiet. Hy is in ʼn kritieke toestand na ʼn plaaslike hospitaal geneem vir verdere mediese behandeling.

Die Valke ondersoek die rooftog en beoog om eersdaags die skuldiges vas te trek.

Lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi, die provinsiale polisiekommissaris in KwaZulu-Natal, het die beamptes geloof vir hul vinnige reaksie.

“Ons is hartseer om te hoor dat ʼn polisiebeampte en ʼn veiligheidswag in die proses gewond is en ons wens hulle ʼn spoedige herstel toe. Ons sal als in ons vermoë doen om die skuldiges vas te trek,” het Mkhwanazi gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Tanniepetoors ·

In die bors geskiet? Met of sonder koeëlvaste baadjie? Ek hoop in elk geval vir spoedige herstel vir albei.

Francois ·

Die Valke ondersoek die rooftog en beoog om eersdaags die skuldiges vas te trek.

Ag asseblief. In watter ere leef ons. Hulle word gewoonlik nie gevang

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.