Polisieman sterf toe hy dieseldiewe agterna sit

(Foto verskaf deur die Valke)

ʼn Polisiebeampte is dood en ʼn tweede beseer toe hulle vermeende dieseldiewe in Mpumalanga wou voorkeer.

ʼn Beampte van misdaadintelligensie in Middelburg, Mpumalanga, het Maandagoggend ʼn wenk van ʼn informant ontvang oor die diefstal van diesel by ʼn myn naby die N4, sê kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke).

Die beampte het sy kollega van Middelburg-speurdiens gekontak en hulle het saam in ʼn staatsvoertuig, ʼn wit Toyota Hilux-dubbelkajuitbakkie, met die Stoffbergpad na die toneel gery.

“Hulle het op pad ʼn geel tenkwa teëgekom wat by die beskrywing gepas het wat die informant deurgegee het. Hulle het ʼn U-draai gemaak en die voertuig voorgekeer. Drie mans het uit die vragmotor gespring en op die beamptes losgebrand.”

Een van die beamptes is geskiet en het later aan sy beserings beswyk. Die tweede beampte het ernstige beserings opgedoen en is na ʼn hospitaal in Middelburg geneem vir behandeling.

“Drie pistole met 25 patrone en vyf selfone is op die misdaadtoneel gevind,” voeg Sekgotodi by.

(Foto verskaf deur die Valke)

Genl.maj. Gerber, provinsiale hoof van die Valke, het die aanval veroordeel. Hy doen ʼn beroep op enigiemand wat moontlik die voorval gesien het of enige verdere inligting het om met inligting na vore te kom.

“Dit is ʼn baie hartseer dag wanneer polisiebeamptes tydens die uitvoer van hul pligte doodgeskiet word,” het Gerber bygevoeg.

Enigiemand met inligting kan kol. Nkoana kontak by 071 481 3503 of kapt. Maboko by 071 481 3098.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kokerboom ·

Die boewe is desperaat en koelbloedig. SAPS sal nuwe tegnieke van arrestasie moet bedink

Amelia ·

Moet meer as 1 voertuig uitstuur met sulke gevalle vergeet daar is nie nog voertuie nie dit is mos gewoonlik verskoning wat gebruik word

Hendrik ·

Dis tragies. Oor die artikel self, is die die diewe aangekeer (aangesien daar op wapens beslag gelê is)? is die diesel teruggevind? Is die diefstal verwant aan georganiseerde misdaad by kragstasies?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.