Polisiewaghond moet nog besluit oor Phala Phala-ondersoek

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die polisiewaghond, die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod), het ʼn formele verklaring van die president van die African Transformation Movement (ATM) afgeneem na aanleiding van ʼn klag oor die polisie se hantering van die beweerde diefstal op pres. Cyril Ramaphosa se Phala Phala-wildplaas.

Die ATM het Opod gevra om onder andere die polisiehoof, genl. Fannie Masemola, sowel as sy voorganger, genl. Khehla Sitole, in verband met die saak te ondersoek.

Vuyolwetu Zungulu, ATM-president, het luidens berigte vroeër aangevoer inligting is aan die media gelek dat die Namibiese polisie in verbinding was met sekere polisiebeamptes in Suid-Afrika – insluitende Masemola en Sitole – ná die inbraak op die wildplaas in Limpopo. Volgens Zungulu is ʼn geheime ondersoek in 2020 gedoen na die diefstal van miljoene dollar op die plaas.

Die buitelandse valuta is glo in meubels op die plaas versteek en Ramaphosa en die polisie word van ʼn toesmeerdery oor die voorval beskuldig.

Lizzy Suping, woordvoerder van Opod, sê die waghond het Maandag met Zungulu vergader en Opod se uitvoerende direkteur sal nou besluit of die instelling ʼn omvattende ondersoek na die voorval kan doen.

Ingevolge wetgewing kan Opod sake ondersoek wat deur die uitvoerende direkteur verwys is, op versoek van ʼn minister, LUR, of die sekretariaat van die polisie.

“Opod sal ʼn aankondiging doen sodra die uitvoerende direkteur ʼn besluit geneem het oor die ATM se versoek om die polisie se optrede tydens die saak te ondersoek” sê Suping.

Die kantoor van die Openbare Beskermer (OB) sowel as die Valke het reeds ondersoeke daarna van stapel gestuur. Die OB se kantoor het vier klagte oor die voorval ontvang, waarvan die ATM een ingedien het.

Ramaphosa het tot 17 Julie tyd om die OB se 31 vrae oor die beweerde diefstal te beantwoord.

Die ATM het die OB vroeër egter daarvan beskuldig dat sy ʼn sogenaamde geheime ooreenkoms met Ramaphosa aangegaan het vir ʼn verlenging van die spertyd om sy antwoorde in te dien. Volgens die party is dit die plig van die waarnemende OB, adv. Kholeka Gcaleka, om die mense van Suid-Afrika – en nie die president nie – te beskerm.

Die rits ondersoeke spruit uit klagtes wat Arthur Fraser, ʼn voormalige spioenbaas, oor die voorval by die polisie ingedien het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johann ·

Die “mesias” RamaNocio is toe bloot wie en wat sy comrades was en is en sal wees. Self verrykende magsmal vergrypers. Geen gewete of aanspreeklikheid nie.

Harley Davidson ·

As ek dit gedoen het was ek reeds gearresteer niks van besluit of ek vervolg moet word of nie,Ramaposa stel teleur ek het hoop gehad nie veel maar daar was hoop toe hy Zuma opgevolg het maar hy het ook te lig geweeg.

Chris ·

Diefstal, leuens en bedrog was sedert die grensoorlog aan die orde van die dag, ingeslote die “koning “se lafhartige optrede deur Piet Retief te vermoor. Ons volkie sal moet begin saamstaan om die wetteloosheid hok te slaan.

annie ·

Is dit sowaar nou die geval van the boiling toad in the pot calling the old fat kettle black? Ons sit met ‘n erge probleem: Wie kan ons enigsins op hoop om Zyril te vervang sou hy ook duik? Dit is hoe sleg dit met ons gaan: Geen goeie leier in plek nie, niks water in die dam nie, net krag nou en dan, met die staatskas dolleeg, petrol en kos te duur en rentekoerse hemelhoog. Wie weet nog hoe om ‘n ou ossewa se wiele te versool?

Swerwer ·

AArtjie na kader. Dit is hoe hul opgevoed is en voorberei is om as kommuniste

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.