Politieke herskikking ‘soos in 1980’ op pad

(Argieffoto: Rodger Bosch/AFP)

“Ons betree in Suid-Afrika nou ʼn politieke waterskeidingsfase, vergelykbaar met die laat 1980’s, waartydens ons geboorte gaan moet gee aan ʼn nuwe bedeling.”

So het prof. André Duvenhage, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, Donderdag tydens ʼn sakeontbyt van die Pretoria Sakekamer gesê.

Duvenhage meen Suid-Afrika se huidige bestel moet totaal hervorm word sodat daadwerklike staatkundige, ekonomiese en maatskaplike vernadering in die land teweeggebring kan word.

“Ons kan nie nog vyf jaar van ANC-regering bekostig nie.”

Om die ANC in die komende nasionale en provinsiale verkiesing te oorwin, sal egter net die beginpunt wees, sê Duvenhage.

“ʼn Oorwinning by die stembus is ook nie noodwendig gelyk aan regeringsoorname deur opposisiepartye nie.”

Politieke oorwinning nie genoeg

Die ANC sal nie skik as hy politieke mag verloor nie, waarsku Duvenhage.

“Die ANC is nie net ʼn party in regering nie, maar ʼn totale regime van gevestigde belange, so wanneer toegang tot regering verloor word, tree die regime in om te stabiliseer.”

Volgens Duvenhage het die ANC in die verlede gewys dat hy hierdie tipe gedrag ondersteun.

“Ten minste twee of drie keer nadat die Zanu PF in Zimbabwe by die stembus verloor het, het die ANC Zanu PF ondersteun in sy voortgesette regering.

“Die ANC sal baie moontlik ook inmeng by die uitslae van die verkiesing as dit nie in sy guns uitdraai nie.”

Dit is waarom die rol van die Onafhanklike Verkiesingskommissie so belangrik is, beklemtoon Duvenhage.

“Hier gaan die burgerlike samelewing en sakesektor ook ʼn belangrike rol speel in die afdwing van ʼn nuwe bedeling. Politieke partye gaan hierdie geveg nie alleen wen nie, juis omdat volgende jaar se verkiesing deel vorm van ʼn bedelingsomwenteling.”

Hy sê parallelle strukture is nodig om leemtes te vul waar die staat nie meer funksioneer nie.

Kantelpunte

Volgens Duvenhage kom hierdie tyd van herskikking weens deurslaggewende kantelpunte in die omvorming van die Suid-Afrikaanse bestel – die belangrikste hiervan die Julie 2021-onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng.

“Hierdie was ʼn opstand teen die ANC, vanuit die ANC, gereël vanuit die Staatsveiligheidsagentskap wat dit duidelik gemaak het dat ANC-leierskap hulself nie gaan laat intimideer deur diegene wat hul mag bedreig nie.”

Die fondasies is besig om te verkrummel.

Die opstand was ook aanduidend van die grootskaalse interne konflik waarmee die ANC worstel en wat die party onstabiel die volgende verkiesing instuur, meen Duvenhage.

“Verskeie meningspeilings bevestig ook dat hierdie die moeilikste verkiesing vir die ANC sedert 1994 gaan wees, en kan hulle [die party] so min as 47% van stemme op nasionale vlak ontvang.”

“Dit is onwaarskynlik dat die ANC hierdie disintegrasie van sy kern in die komende verkiesing sal oorleef.”

Koalisiepolitiek onafwendbaar

Na afloop van die 2021- munisipale verkiesing was daar in 47 munisipaliteite geen volstrekte meerderheidsparty nie, ʼn tendens wat in die komende verkiesing voortgesit sal word.

“Koalisiepolitiek is nou ʼn volstrekte feit, veral in metro’s.”

In 2024 kan die ANC moontlik misluk om nasionaal ʼn meerderheid stemme op hom te verenig en loop ook die gevaar om sy meerderheid in Gauteng en KwaZulu-Natal te verloor, meen Duvenhage.

“Hierdie is die grootste geleentheid sedert 1994 om die ANC nasionaal en in verskeie provinsies van mag te verwyder.”

Die oorgang na suksesvolle en stabiele koalisiepolitiek kom egter met groot moeite.

“In hierdie oorgangstyd gaan ons waarskynlik in geweldige onstabiliteit leef.”

Duvenhage wys verskeie probleme uit waarmee Suid-Afrika tans in dié opsig sit.

  1. Die gewysigde Kieswet wat nou ook onafhanklike kandidate toegelaat, het uitermate baie probleme in die proses ervaar. Dit is onseker hoe die Kieswet presies gaan lyk en toegepas gaan word.
  2. Daar is tans ʼn gebrek aan ʼn wetlike raamwerk om koalisiepolitiek te reël. Suid-Afrika het eerder ʼn stel reëls nodig wat meer stabiliteit en voorspelbaarheid aan koalisies verleen.
  3. Nuwe konsensus is nodig om opposisiepartye nader aan mekaar te bring omdat Suid-Afrika so ʼn verdeelde politieke verlede het. Die belange van kleiner en groter partye moet nog belyn word, wat reeds in die vooruitsig gestel word deur iets soos die Veelpartyhandves.
  4. Die OVK het tot op hede ʼn redelik betekenisvolle rol gespeel. Vir die eerste keer sedert 1994 is die ANC egter in die moeilikheid, wat die druk wesenlik op die OVK gaan verhoog, omdat dit die maklikste wyse is vir die ANC om ʼn verkiesing te wen wat hulle eintlik verloor het.
  5. Die kiesstelsel wat ons tans het, skep ʼn probleem vir koalisies omdat partye eers na afloop van verkiesings werklik oor samewerking kan begin onderhandel.
  6. Nuwe leierskap op die basis van nuwe konsensus is baie belangrik – ook ingesluit die burgerlike samelewing en georganiseerde sakesektor.

Ten spyte van al hierdie uitdagings meen Duvenhage egter koalisies kán werk, mits die kern politieke partye dit kan regkry om saam te werk en ontmoedigde kiesers te begeester.

“Suid-Afrika het ʼn politieke kultuur van de facto-eenpartydominansie wat beteken ʼn nuwe stel politieke reëls is nodig.”

Sommige partye, soos die ANC en selfs die DA, sukkel egter nog met die idee om met ander saam te werk in regering, sê Duvenhage.

“Daarom gaan partye toenemend ʼn houding van konsensus- en middelpuntsoekendheid moet begin ontwikkel om grond van sterker gedefinieerde gedeelde belange.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johann ·

Die ANC sal die land afbrand eerder as hul mag en pag en vreet trog posisie af te staan.

Republikein in die Wes Kaap ·

Indien SA ‘n Westerse land was het ek met die prof saamgestem. Maar hier in Afrika speel beleid geen rol nie. Die ANC gaan gerieflik wen. Kiesers wat verandering wil sien gaan moed verloor en dit kan die einde van die DA beteken.

Theo ·

Daar is net 2 moontlike scenario’s vir SA na die verkiesing: (1) ANC wen meerderheid en die chaos soos vandag gaan voort en vermeerder jaar na jaar (2) ANC wen nie meerderheid nie en vorm koalisie regering met EFF en die chaos soos vandag gaan voort en vermeerder hondervoudig oornag

Kokkie ·

Ek was verstom om te lees dat afgetrede regter Kriegler vroeër die week die mening uitgespreek het dat die ANC dit sal aanvaar as hy die verkiesing verloor. Ek kon nie glo dat die oubaas die bal so ver misslaan nie. Wat prof. Duvenhage hier skryf, is korrek mits die ANC die verkiesing verloor. Maar ek is baie meer geneig om met Republikein (hierbo) saam te stem. Dis Afrika hierdie. Kom stemdag, dan stem al wat leef en beef maar weer ANC of EEF of hulle kook die uitslae. Die 1983 ja -stem het SA onomkeerbaar uitverkoop.

Jedi Knight ·

Kokkie, ek het mensies met LLB grade nog nooit as akademiese reuse beskou nie. Inteendeel…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.