Poskantoor sál aflewer (al is dit ook 13 jaar later)

[Foto: Verskaf]

’n Durbanse gesin is verstom oor ’n reusepakkie wat hulle verlede week by hul plaaslike poskantoor gaan afhaal het – en wat ’n allemintige 13 jaar gelede van New York in die VSA na hul adres in Suid-Afrika gepos is.

Sanja Hanekom en haar man, dr. Pieter Hanekom, het oor die jare maar aanvaar dat dié pakkie in die pos verlore geraak het. Sy sê dit het dus effe “surrealisties” gevoel toe hulle die pakkie meer as ’n dekade later wél ontvang.

Hanekom vertel daar was twee kennisgewings in die posbus by die gesin se huis in Kloof. Die Hanekoms gebruik selde die posbus en dit word deesdae eintlik net bewoon deur twee geitjies wat daar kom nesskrop het.

Die plaaslike poskantoor in Kloof het die kennisgewings egter onlangs gestuur om die gesin in kennis te stel van ’n pakkie wat by die poskantoor wag om afgehaal te word. Op die kennisgewings is ook aangedui dat die gesin R65 moet betaal om die pakkie af te haal.

“Ons het nie ’n pakkie verwag nie en was nogal verward om uit te vind dat daar ’n pakkie met Pieter se naam en ons gesin se adres daarop by die poskantoor wag,” vertel Hanekom.

[Foto: Verskaf]

“Ek en my man het op pad na die poskantoor bespiegel oor wat in die pakkie kon wees. Ek moet bieg, ons het iets kleins en geheimsinnigs verwag.”

By die poskantoor gekom, het ’n personeellid egter ’n “groot, swaar en gehawende” boks uitgesleep.

“Die boks was oormatig met kleefband beplak en daar was ’n oorspronklike posseël van 2010 op die boks geplak.”

Hanekom sê sy en haar man het in ongeloof na mekaar gestaar terwyl talle vrae in hul koppe gemaal het. Hulle is huis toe met die boks en het dit versigtig oopgemaak.

Met die oopmaakslag het hulle besef Hanekom (Sanja) se pa het die pakkie 13 jaar gelede, met die geboorte van die egpaar se eerste kind, uit New York aangestuur.

In die kartonboks was ’n glasteepot, steeds in perfekte toestand, ’n paar pienk-en-wit tekkies, bokse gegeurde tee en tydskrifte oor binnenshuisontwerp.

Daar was ook twee kaartjies van gelukwensings van familielede met die geboorte van die egpaar se dogter.

Hanekom het ’n foto van die pakkie op WhatsApp aan haar pa gestuur en dié het terug laat weet dat dit die einste pakkie is wat jare gelede spoorloos in die posstelsel verdwyn het.

Haar pa het ook ’n klomp vrae oor die pakkie en sê hoewel die antwoorde hierop ’n raaisel sal bly, is die aankoms van die pakkie ’n “lekker verrassing”.

Hanekom beplan om die boks as ’n aandenking te hou – en sy gaan beslis die gegeurde tee uittoets.

“Ons is teleurgesteld dat die pakkie só laat by ons aangekom het, maar uit die veld geslaan dat dit wel ná al die jare sy verskyning gemaak het. Dit is ’n fassinerende verhaal wat soos ’n droom voel.”

Hanekom sê sy is nie vies vir die Suid-Afrikaanse Posdiens nie omdat pakkies gereeld in die pos wegraak.

“Dit kan enige plek ter wêreld gebeur. Dit is nou ’n lekker storie vir ons om te vertel.”

Hanekom het skertsend gesê Suid-Afrikaners hoef nie té bekommerd oor hul verlore pakkies te wees nie, want die Poskantoor sal “hul pakkies goed oppas”.

“Liewe Suid-Afrikaners, moenie bekommerd wees nie. Die Suid-Afrikaanse Poskantoor sal jou pakkie goed oppas en dit betyds by jou aflewer, dit wil sê as jy nog lewe en nie na ’n ander adres verhuis het nie.

“As jy ’n pakkie soek, moenie moed verloor nie; jou pakkie rus by die poskantoor se pakhuis en sal veilig aan jou oorhandig word wanneer dit gereed is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

André ·

En daar dog ek Northriding postkantoor is lui want ek het 3 briewe gekry wat in Desember 2022 gepos was en wat oor my muur gegooi was (reg by die posbus). My honde het dit eers gelees, so ek weet een is ‘n spoed kaartjie maar niks ander informasie het die proef lees oorleef nie. Ek kry die indruk dat die poskantoor werkers geen eer in hulle werk voel nie.

Misky ·

Joh, weereens laat ons land se dienste my sprakeloos. En dis nie die een vir bewondering en admirasie nie.

Cherokee ·

Die pakkie het nie noodwendig in SA rondgetoer nie. 13 Jaar getoer vir slegs R65? Spotgoedkoop!

Niklaas ·

Dis nogal verstommend om sulke nuus aan te hoor . Dit gebeur nie te dikwels nie. Ekself sal nie maklik iets d.m.v. die poskantoor stuur nie. Het al teveel gehoor van pakket verliese.

Stofdonkie ·

Ek hoop nie die skoene was vir die kind bedoel nie, want dit gaan beslis nie meer pas. Wat die gelukwensings-kaartjies aanbetref is dit darem betyds om geluk te sê met die kleinkind se koms.

George ·

Ek kan jou belowe sy was oorspronklik vies toe dit weg is, dalk nie 13 jaar later nie, maar 13 jaar terug, beslis.

Daisy ·

Ek het jare laas my voete in ‘n poskantoor gesit.
Waarvoor gebruik mens nog die Poskantoor???
Daar is selfone, WhatApp, e-mails, TakeAlot, Koerier dienste, ens.
Wie het die Poskantoor nodig?

Veens ·

Voertuiglisensie hernuwings is al wat hier by ons in KZN nog daar gebeur. As jy daarvoor in die tou sit en wag, sien jy daar gaan wragtag niks in die res van die PK aandie gang nie, die werkers staan net los rond en klets!

Vonkprop ·

Mense ons is te hard op die Poskantoor. Hulle het net tyd nodig, dit is al.

Aai ·

Wees nou slim kan jou belowe daar is nerens in die wereld so paar tekkies wat nog splinternuut is kyk wat is hulle werd.

Delia ·

Ek was vandag in die Poskantoor Northmead in Gauteng. Het net my foon gewys met n sms vir my jaarlikse hernuwing van my voertuiglisensies en binne 5 minute stap ek uit met nuwe voertuiglisensies. Baie goeie diens.

Eugene ·

Ek sou nie eers die berig geplaas het nie. Niks om op trots te wees nie. Seker niks anders om oor te praat nie. Ek het n’ Ander woord vir die poskantoor.

Herman L ·

Soiets kan enige plek in die wereld gebeur, maar op ‘n oorwig van waarskynlikhede dink ek die meeste mense sal saamstem dat dit nerens anders as Suid van die Limpopo was nie.

Oesterbaaier ·

Dis nou ‘n lekker, goedvoel storie! Wens daardie pakkie kon praat en ons vertel waar hy was, dis ‘n oulike storie vir ‘n kinderboekskrywer!

Veronika ·

Jaaaa soos horde mense nou nog wag vir Wish-pakkies wat al jare gelede in SA aangekom het maar nog nooit hul bestemming bereik het nie! Byt vas!

Hendrik ·

Welkom in die cANCer regeerde land. Dit ‘n wonder die pakkie het ooit by hulle uitgekom. Werkers wou seker ne he wat daarin was nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.