Poskantoor se aansienlike ‘laste verdwerg bates’

Argieffoto (Foto: Maroela Media)

Die sakereddingspraktisyns wat aangestel is om die beroerde situasie by die Poskantoor om te keer, sê hulle werk deur ʼn menigte kwessies en stel onder meer ondersoek in na die sukkelende staatsinstelling se eiendom en finansiële posisie.

Die Poskantoor se “bate-basis word verdwerg deur sy algehele laste van nagenoeg R12,5 miljard”, sê sakeredders Anoosh Rooplal en Juanito Damons in ʼn verklaring.

Dié situasie vorm die grondslag waarop ʼn besluit oor moontlike sakeredding sal berus. Om die maatskappy in ʼn solvente posisie te kry, moet ʼn doeltreffende kostestruktuur gevind word, sê hulle.

“Ons werk saam met die bestuur om die daling in inkomste te hanteer, bykomende inkomstebronne te skep, koste te verminder, deurslaggewende strukturele veranderinge aan die Poskantoor se sakemodel aan te bring en sleutelbeleggings in tegnologie en infrastruktuur te doen om prestasie te dryf.”

Rooplal sê dit is van kritieke belang om die uitstroming van kontant te staak en kapitaal toe te wys om die maatskappy in ʼn posisie te plaas om sy klante behoorlik te bedien.

Die praktisyns het ʼn omvattende ontleding van die personeelkorps gedoen en hoop dat dissiplinêre stappe teen sommige senior bestuurderlede binne die volgende weke afgehandel sal word.

Salaris-uitbetalings word gemonitor en hersien en is afhanklik van die Poskantoor se kontantvloei en finansiering van die departement van kommunikasie en digitale tegnologieë en die nasionale tesourie. Daar word ook gereeld met die werkerskomitee en mediese fondse vergader.

Poskantoor se takke

Een van die ander groot fokuspunte is ʼn ondersoek na die Poskantoor se netwerk van takke wat die hoeksteen van die instelling vorm.

“Die span het ʼn uitgebreide hersiening en ontleding van die taknetwerk gedoen. Dit het ʼn verskeidenheid kriteria van die individuele takke behels, wat insluit winsgewendheid, geografiese bereikbaarheid, universele diensverpligtinge om sekere takke oop te hou, dienste soos die hernuwing van voertuiglisensies en die betaling van Sassa-toelae.

“Ons weet dat verskeie takke weens agterstallige huurgeld of IT-probleme nie operasioneel is nie, of sake met die hand gedoen moet word omdat die krag weens uitstaande rekeninge afgesny is.

“Ons is bewus dat die toestande by sommige takke nie optimaal is nie en hoop om dit in die toekoms reg te stel. Dit gaan egter tyd neem terwyl ons probeer om die instelling uit die finansiële moeilikheid wat hy tans ondervind, te stuur,” sê Rooplal.

Hy sê daar kan ook nie ʼn pasgemaakte benadering gevolg word in die besluit oor watter takke heropen en watter gesluit moet word nie. Omdat die Poskantoor bepaalde wetlike verpligtinge het om na te kom, is ʼn berekening van blote winsgewendheid of koste nie ʼn opsie nie.

“Die praktisyns se werk is om die instelling in ʼn solvente instelling te herstruktureer wat sy skuld tydig kan vereffen.”

Die heropening van sleuteltakke is nietemin hoog op die sakelys. Die Poskantoor se Newcastle-tak is reeds heropen nadat die agterstallige kragrekening vereffen is. Die tak sal teen volgende week ten volle operasioneel wees.

Die poskantoor op Newcastle bedien sowat 100 000 mense en lewer dienste soos die hernuwing van voertuiglisensies, posaflewering en die uitbetaling van Sassa-toelae.

Damons sê dit was ʼn belangrike stap en wys die sakereddingspraktisyns se verbintenis om met munisipaliteite en verhuurders te onderhandel om sleutel-poskantore wat gesluit is, se deure weer te open.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

TheSnake ·

Ek verstaan rerig nie wat doen die Poskantoor nog nie. Lisensies kan jy ooral hernu en P&P ens betaal ook Sassa uit.

En rerig, wie pos nog enige iets by die poskantoor? Dis beslis net ‘n poort waar deur geld onwettig gekanaliseer kan word.

Alewyn ·

…en niemand vertel ons wat aangaan by PostBank nie. Waar kan mens PostBank transaksies doen wanneer jou poskantoor nie kan werk nie want die krag is afgesny weens wanbetaling? Is PostBank nog ‘n bank? Is depositos veilig daar?

Republikein in die Wes Kaap ·

Tesourie sal seker R12.5 miljard aan die poskantoor gee. Dan is die besigheid se balansstaat weer kerngesond.

kragaap ·

Poskantoor is in die grond in bankrot. Tussen Barnes en die ANC het nie veel oorgebly nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.