Poskantoor sluit talle Sassa-betaalpunte

Argieffoto (Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Die Poskantoor is besig of het reeds 40,6% van sy landelike Sassa-betaalpunte gesluit. Maartmaand was vir talle begunstigdes van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) die laaste betaaldatum by dié punte.

Dié inligting is onthul deur Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, in reaksie op ʼn geskrewe vraag van die DA.

Van die 687 Poskantoor-betaalpunte wat gesluit is, is 279 in landelike gebiede geleë. Slegs een Poskantoor-betaalpunt is nog in die Oos-Kaap in landelike gemeenskappe beskikbaar.

Slegs 23,44% van alle Poskantoor-takke is binne 10 km van alternatiewe Sassa-betaalpunte, insluitend kitsbanke en handelsvennote.

“Trouens, nie een van die Poskantoor-betaalpunte in die Wes-Kaap is binne 10 km van enige alternatiewe betaalpunt nie,” sê Bridget Masango, die DA se skaduminister oor maatskaplike ontwikkeling. “Slegs agt punte in die Vrystaat, 11 in die Noord-Kaap en 12 in die Oos-Kaap is binne dié radius.”

Met voortdurend stygende lewenskoste, deurlopende verhogings in vervoer en byna die helfte van Suid-Afrikaners wat honger ly, is dit moontlik dat die sluiting van die betaalpunte sommige Sassa-begunstigdes gaan dwing om te kies of hulle wil reis om toegang te bekom tot hul toelaes of om hul gesinne te voed.

“Alhoewel die DA Sassa-begunstigdes aanmoedig om hul toelaagbetalings eerder na agtenswaardige banke te skuif en van alternatiewe betaalpunte gebruik te maak, bly talle van hulle afhanklik van die Poskantoor om toegang te kry tot hul toelaes. Dit is ʼn opsie wat nou van byna 162 000 begunstigdes weggevat is.”

Masango sê dit is ʼn skande dat die ANC se wanbestuur van die Poskantoor nou die mees kwesbare van die samelewing raak. “Die ANC gee nie om nie en bly voortdurend homself ontbloot.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.