Prasa belowe gesigmaskers, handreinigers vir werknemers

(Argieffoto: Untu)

Die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) het onderneem om Donderdagaand gesigmaskers, handreinigers, lappies en handskoene by sy hoofkantoor in Johannesburg af te lewer in ʼn poging om die verspreiding van die nuwe koronavirus (Covid-19) te voorkom.

Dit sal na verwagting oornag na depots en treinstasies landswyd gekoerier word.

“Dit kom ná werknemers van Metrorail, ʼn afdeling van Prasa, na verwagting oorlaaide treindienste gaan lewer sonder enige beskerming teen die wêreldwye pandemie,” het Sonja Carstens, woordvoerder van die United National Transport Union (Untu), in ʼn verklaring gesê.

Untu het Woensdag ʼn beroep gedoen op Fikile Mbalula, minister van vervoer, om alle Metrorail-dienste tot minstens 14 April 2020 op te skort om die verspreiding van die virus te voorkom. “Mbalula het nog nie op Untu se pleidooi reageer nie. Hy het gesê hy het geen alternatief nie as om die treindienste op te skort indien oorlading voortduur.”

Steve Harris, algemene sekretaris van Untu, het gesê Prasa kan nie eers die seksuele teistering van pendelaars voorkom nie, weens oorlading. “Sedert 1 November 2019 het Prasa ook nie eers veiligheidsbeamptes om sy infrastruktuur teen vandalisme en diefstal te beskerm nie. Daar is nie ʼn manier wat Prasa skares kan beheer nie. Dit is ʼn rampspoedige situasie.”

Harris betwyfel of Prasa sy belofte betyds gestand sal kan doen. “Sien is glo,” het hy bygevoeg.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marthinus Johannes ·

Die verskaffing van maskers, handskoene en ontsmettings middel moet deur elke staat gratis gedoen word. Hierdie is nie n tyd om mense uit te buit en om geld te probeer maak uit n wereld wye pandemie nie. Daar is te veel mense wat net aan hulle self dink, alles wil opraap en dan ander wil uitbuit. 9 uit due 10 gevalle is dit die armgaaue wat dit doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.