Prasa-hoofde kry trekpas

(Argieffoto: Untu)

Die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) het Vrydag afdelingshoofde binne die organisasie begin afdank. Dié werknemers, onder wie die bedryfshoof van Prasa, se kontrakte het reeds jare gelede verstryk, maar hulle het versuim om hul ampte te verlaat. Prasa is ook in die proses om regstappe teen verskeie van dié hoofde in te stel.

“Die Prasa-raad hersien tans kontrakte van hoofde en ander senior bestuurders. In die proses het dit onder Prasa se aandag gekom dat sommige van hierdie uitvoerende bestuurders se kontrakte lankal reeds verstryk het,” het die spoorwegagentskap Saterdag in ʼn verklaring gesê.

Prasa-hoofde se ampstermyn verstryk sonder uitsondering ná vyf jaar en kontrakte word “in geen omstandighede” hernu nie.

“Die raad het ook gemerk dat hierdie hoofde deeglik bewus was daarvan dat hul ampstermyn verstryk het, maar tog misbruik gemaak het van die onstabiliteit binne die Prasa-raad om langer by Prasa aan te bly,” lui die verklaring.

(Argieffoto: ANA)

Hoofde wie se kontrakte met onmiddellike inwerkingtreding beëindig is, sluit in:

Martha Ngoye, groepshoof van Prasa se regs-, risiko- en nakomingsafdeling: Haar kontrak het Augustus verlede jaar verstryk. Prasa gaan ook met regstappe teen Ngoye voort nadat sy ʼn betaling van R58 miljoen aan SA Fence & Gate goedgekeur het, terwyl sy geen reg gehad het om dit te doen nie.

Nkosinathi Khena, bedryfshoof van Prasa: Hy word ook gedagvaar weens verliese wat Prasa weens sy onwettige optrede gely het.

Pearl Munthali, uitvoerende hoof van die Prasa-stigting: Sy was tot op hede nog geskors weens beweerde wangedrag. Haar kontrak het egter reeds verval en is ook summier beëindig.

“In ooreenstemming met aanbevelings van die ouditeur-generaal (OG) sal die raad verseker dat stelsels in werking is sodat die kerntaak van Prasa, naamlik die bedryf van ʼn passasierspoorlyn, herstel word,” lui die raad se verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Juffrou ·

Sjoe maar dié goed is dekvellig! Watter deel van “gaan nou, dankie ” verstaan hul nie? Nee, wil nóg meer geld inpalm.

George ·

Mbalula het gefaal as minister en moet afgedank word. Hy ry nog lekker op die southern.

Andre ·

Hoeveel van die geld wat hulle verdien het of verduister het terwyl hulle in die poste was ,sal terugbetaal word? Nie 50sent nie. Hulle moes nooit in die poste aangestel geword het nie. Vervolg die wat hulle aangestel het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.