Pretoria-man soek ná hy by landgoed wegry

Louis Weitz word sedert Sondag vermis. (Foto: Verskaf)

Die geliefdes van ʼn 52-jarige Pretoriase man is rasend van bekommernis nadat hy Sondagoggend omstreeks 09:15 by sy huis in ʼn landgoed in Die Wilgers-omgewing gery en nooit weer teruggekeer het nie.

Sover dit bekend is, het Louis Weitz nie ʼn spesifieke afspraak gehad om na te kom nie, maar was wel in ʼn goeie luim toe hy by die huis weg is. Dit is egter onbekend waarheen Weitz op pad was.

Hermann Gericke, ʼn vriend, sê dit is “heeltemal ongewoon” van Weitz om sommer net te verdwyn en met niemand kontak te maak nie.

Gericke sê hulle weet in dié stadium net dat Weitz in ʼn oostelike rigting gery het, nadat hy by die landgoed uitgedraai het.

Weitz ry met ʼn wit BMW 520 met die registrasienommer 248 LBW GP. Hy het ten tyde van sy verdwyning ʼn swart broek en ʼn hemp met blou en wit strepe aangehad.

Sy selfoon is sedert sy verdwyning met tye aangeskakel, en ander tye af. Niemand kon hom nog telefonies in die hande kry nie en dit is onduidelik of enige boodskappe hom wel bereik.

“Ek dink nie sy selfoon se battery gaan meer lank hou nie, dis nou al langer as 24 uur,” het Gericke gesê.

ʼn Saak is intussen by die Garsfontein-polisiestasie aanhangig gemaak.

Enigiemand met inligting kan Gericke by 082 822 6122 of die polisie by 012 472 0144 bel.

  • Louis Weitz is intussen opgespoor en veilig tuis. Na verneem word, was Weitz glo die slagoffer van ʼn kaping. Lt.kol. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek die voorval.

    “ʼn Verklaring sal afgeneem word om vas te stel wat werklik gebeur het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ronél ·

Sterkte en vrede aan sy familie………..wie van ons ken werklik iemand 100%, ongeag hoe lank ons hulle ken. Ek ken nie eens my twee volwasse kinders ten volle nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.