Private sektor kan nie Covid-19-las ‘alleen dra’

Ekonomiese kenners waarsku dat Suid-Afrika se afsonderingsmaatreëls kan misluk as daar nie na die ekonomiese gevare ook gekyk word nie. (Foto: Henk Kruger/ANA)

Suid-Afrika kan nie bekostig dat die private sektor die verwoestende ekonomiese gevolge van die Covid-19-pandemie alleen dra nie – en dringende hervorming is nodig om staatbesteding te verminder en die salarisrekening van staatamptenare te verlaag.

Dít volgens die ekonoom Dawie Roodt wat ook sê “daar kan nie van die private sektor verwag word om al die pyn te verduur terwyl die staatsdiens nie dieselfde doen nie”.

Roodt het tydens ʼn mediakonferensie van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) gesê die krisis bied ook ʼn geleentheid om fiskale rekeninge te herstruktureer. Hy sê daar moet eens en vir altyd van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) ontslae geraak word, terwyl Eskom herstruktureer moet word.

“Ons het geld vir belangrike dinge nodig en ons kan nie ʼn lugredery aan die lewe hou terwyl mense van die honger sterf nie. Ons moet ook kyk na die grootte van die staatdiens: Ons kan dit nie bekostig nie.

“Almal vat nou houe  en die staatsdiens moet ook.”

Roodt waarsku dat miljoene werkgeleenthede ná die afsonderingstydperk verlore kan wees en duisende sakeondernemings gaan bes moontlik hul deure moet sluit. Hy sê daar moet nou ontslae geraak word van alles wat in die pad van ekonomiese groei staan. Dit sluit in die “immorele” bemagtigingsvoorwaardes wat aan regeringshulp gekoppel word. Daar moet ook na die omvang van die afsonderingsmaatreëls gekyk word.

Roodt sê ook dit gaan na verwagting jare lank duur om van die krisis te herstel. Daar moet nou gefokus word op pogings om ekonomiese groei en bedrywighede te stimuleer en dat dit nie ʼn keuse tussen lewens en die ekonomie is nie, omdat armoede wêreldwyd die grooste oorsaak van sterftes is.

“Ons moet ons benadering ernstig heroorweeg. Daar is baie kwesbare mense – ouer burgers en diegene met onderliggende toestande, maar ons moet die ekonomie weer oopstel en dit so gou moontlik laat groei.

“As ons dit nie doen nie, gaan dit tot armoede lei en vir baie mense is armoede ʼn doodsvonnis.”

dawie-roodt-begrotingsrede-2018

Die ekonoom Dawie Roodt. (Argieffoto: Reint Dykema/AfriSake)

Roodt het ook die daarstelling van swartbemagtigingsvoorwaardes aan ekonomiese hulp veroordeel en dit bestempel as net nóg ʼn hindernis vir ekonomiese groei.

“As jy die kwessie ingevolge ras definieer, mis jy die punt. Hierdie is ʼn krisis en dit is immoreel om oor rasgegronde beleid te praat. Kom ons hanteer die krisis.”

Volgens Roodt lyk dit of pres. Cyril Ramaphosa besef watter mag hy het, maar dat daar groot rede tot kommer is oor die bykomende magte wat burokrate deesdae het. Hy het die verbod op alkoholverkope as ʼn voorbeeld hiervan aangevoer.

“As jy vir hulle meer mag gee, gaan hulle dit weer teruggee? Dís die gevaar. Dit is ons verantwoordelikheid om daardie mag terug te neem.”

Die IRV sê die afsonderingstydperk kan Suid-Afrika boonop die ergste ekonomiese inkrimping in 100 jaar laat ervaar en die instituut sê Suid-Afrikaners moet hulle staal vir ʼn tydperk van groot ekonomiese insinking.

Optimistiese vooruitskattings plaas ekonomiese groei op -2%, terwyl diegene wat minder blymoedig oor die ekonomie is die daling op tot -10% plaas. Die IRV sê hy voorspel dat die ekonomie met -5% gaan inkrimp.

(Argieffoto)

“Die verband tussen ekonomiese groei en lewenstandaard is baie groot. Ons verwag dat Suid-Afrika se dreigende ekonomiese krisis ʼn groot afname in die lewenstandaard van bykans alle Suid-Afrikaners gaan veroorsaak en dit gaan baie van die vooruitgang wat sedert 1994 gemaak is, heeltemal uitwis,” het Nicholas Babaya, ʼn senior ontleder by die IRV, gesê.

Babaya waarsku ook as die ekonomiese gevare verbonde aan die staat van algehele afsondering geïgnoreer word, die maatreëls gaan misluk omdat mense te desperaat gaan wees om daaraan gehoor te gee.

“Dan het ons nie die kurwe laat afplat óf die ekonomie gered nie – die ergste wat kan gebeur,” het Babaya gesê.

Die instituut het ook sy stem gevoeg by diegene wat vra dat daar weggedoen moet word met ʼn onderskeid tussen noodsaaklike en nienoodsaaklike dienste en dat enige onderneming wat nie ʼn gesondheidsgevaar inhou nie toegelaat moet word om sake te doen.

  • Die Reserwebank het intussen vanoggend ʼn daling in die rentekoers aangekondig. Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het gesê die repokoers daal met 100 basispunte tot 4,25%. Die repokoers is die koers waarteen die Reserwebank geld aan handelsbanke leen. Die Reserwebank het verlede maand óók die repokoers met 100 basispunte verlaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Genis ·

Hulle sal nie hulle plunder veld toemaak nie… die kaders sal aanhou tap…

gatgogga ·

“……..daar moet nou ontslae geraak word van alles wat in die pad van ekonomiese groei staan…..”
Begin dan by Ramapauser.

Leeuwyfie ·

Ek was so verbaas hoe mense die inperking met ope arms verwelkom het. Al ons regte weg in ‘n oogwink sonder dat enige iemand ‘n oog geknip het daaroor. Dis aanvaar as die beste vir almal.
Mense sê lewens of geld? Nee, dis nie so nie. Lewens word by die dag geruïneer met hul besighede wat geen inkomste genereer. Mense wat hierdie as ‘n vakansie vat, maar dalk nooit weer terug sal kan gaan werk toe nie.
Sulke dinge lei na selfmoord.
Dit laat my dink aan iemand se woorde; “to quarantine sick people is sensible, to quarantine healthy people is tyranny”

Jacobus ·

Eintlik ‘n nugter artikel. Maar die “ekonomiese groei sedert 1994” – die sluk ek maar moeilik aan.
Aan die ligte kant – al daai “bling” soos onlangs op video – “all my Guggi and nowhere to go!”

daniel ·

Ek sulk dit gladnie. Wat se groei was daar ?
miskien n groei in korrupsie!!.

Henk ·

‘n Mens (of die staat) kan net sò lank water trap. Ons is nou ingeperk en die getalle bly steeds groei. As hulle nòù nie eers die besmettingsgroei kan verminder nie, hoe op dees aarde dink hulle dit gaan binne 2 weke onder bedwang gebring word wanneer die grendelstaat “oor” is? Iemand leef in ‘n droomwêreld – almal wat hoop dat alles weer binne 2 weke na “normaal” kan terugkeer en die regering wat glo hulle gaan die ding onder beheer kry. Inteendeel, die vooruitsig dat die virus gaan verdwyn is bitter skraal. Soos die konserwatiewe party se een verkiesingsplakaat jare gelede gesê het: “Ons is hier om te bly” is die virus ook hier om te bly. Ons sal hard moet regmaak vir ‘n nuwe “normaal”. Mag ons die insig en wysheid kry om ten spyte van reëls en regulasies wat op ons afgedwing word sterk te staan om bo te bly.

daniel ·

Die ekonomie moes oop gebly het met streng reels soos wat nou geld. Ek sien elke dag lang toue by super markte met baie mense sonder maskers .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.