‘Private sektor tree in omdat regering faal’ – DA

(Foto: Daniel Thierry/Photononstop/Photononstop via AFP)

Die private sektor moes vandeesweek vir die hoeveelste keer intree om burgers van en besoekers aan Suid-Afrika te help beveilig omdat die regering glo spartel om misdaad in brandpunte te bekamp.

Só sê die DA nadat ʼn aantal voorvalle in Nyanga Google Maps genoop het om sy navigasiestelsel aan te pas om nie meer roetes deur hierdie Kaapse township voor te stel nie.

“Hierdie stap dien as ʼn tasbare bewys van die regering se oënskynlike versuim om misdaad voldoende aan te pak, noodsaaklike hulpbronne te verskaf en polisiëringsmaatreëls af te dwing om die nadelige uitwerking op die ekonomie en toerisme te voorkom,” sê Manny de Freitas, die DA se woordvoerder van toerisme.

In minstens twee onlangse gevalle van misdaad teen toeriste is hulle na onveilige gebiede herlei nadat hulle die kortste roete op die toepassing gekies het.

Patricia de Lille, minister van toerisme, en dr. Alistair Mokoena, direkteur van Google Suid-Afrika, het Maandag ʼn ooreenkoms in die parlement onderteken om Suid-Afrika as ʼn toonaangewende toeristebestemming te bevorder.

De Lille het ook gesê dat die Nasionale Toerismeveiligheidstrategie ontwikkel is om vennootskappe tussen die openbare en private sektor te bevorder ten einde op ʼn meer gekoördineerde wyse aandag aan kwessies van toerismeveiligheid te gee.

Ironies genoeg, sê De Freitas, dra die optrede van maatskappye soos Google Maps meer by tot openbare veiligheid as wat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) kan.

“Die regering se wanbestuur, korrupsie en gebrek aan leierskap en ontwikkeling binne die reis- en toerismesektor is belangrike faktore wat toeriste ontmoedig om die land te besoek,” sê hy.

“Ondanks hierdie uitdagings groei die toerismesektor geleidelik danksy die pogings van die private sektor.”

De Freitas sê hy sal in gesprek tree met min. De Lille oor hierdie saak en stappe wat die departement van sy kant af gaan doen om dit aan te pak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.