Google Maps gaan Nyanga vermy ná voorvalle

(Foto: Daniel Thierry/Photononstop/Photononstop via AFP)

Google Maps se navigasiestelsel sal nie langer ʼn roete deur Nyanga in Kaapstad voorstel nie.

Dit kom nadat Google Suid-Afrika en die departement van toerisme ʼn ooreenkoms onderteken het om Suid-Afrika as ʼn vooraanstaande toeristebestemming te bevorder.

Daar was die afgelope paar maande twee voorvalle waar toeriste in Nyanga aangeval is. Walter Fischel, ʼn Amerikaanse toeris, is sowat ʼn week gelede in die gesig geskiet in Nyanga nadat die navigasiestelsel hom deur die woongebied geneem het om verkeer te vermy.

In Augustus is die Britse chirurg Kar Hao Teoh (40) in Nyanga doodgeskiet. Hy was saam met sy ma, vrou en jong seun in Kaapstad met vakansie toe hulle glo ʼn verkeerde afdraaipad van die Kaapstad Internasionale Lughawe geneem en in Nyanga beland het.

Patricia de Lille, minister van toerisme, en dr. Alistair Mokoena, direkteur van Google Suid-Afrika, het Maandag die ooreenkoms in die parlement onderteken.

“Dit sal die hersiening van die Google Maps-toepassing insluit. In ten minste twee onlangse gevalle van misdaad teen toeriste is hulle na onveilige gebiede herlei nadat hulle die kortste roete op die toepassing gekies het. Hoewel misdaad ʼn kwessie in Suid-Afrika is, is dit die realiteit vir baie lande regoor die wêreld. Die realiteit is dat 99% van ons besoekers ongedeerd na hul lande terugkeer, nadat hulle ʼn merkwaardige tyd in ons pragtige land deurgebring het.”

Kar Hao Teoh, die Britse sjirurg wat in Nyanga doodgeskiet is. (Foto: X)

Volgens De Lille het haar departement intussen die Nasionale Toerismeveiligheidstrategie ontwikkel wat ten doel het om vennootskappe tussen die openbare en private sektor te bevorder ten einde op ʼn meer gekoördineerde wyse aandag te gee aan kwessies van toerismeveiligheid. “Die maatreëls het ten doel om ʼn verbeterde besoekerservaring te bied en op lang termyn persepsies van Suid-Afrika as ʼn onveilige bestemming te verander.”

Die Nasionale Toerismeveiligheidstrategie se drie sleuteltemas behels proaktiewe maatreëls, responsiewe maatreëls en nasorgprogramme. Dit behels onder meer die implementering van ʼn Toerismemonitorprogram sowel as ʼn databasis van misdaad teen toeriste.

Die departement van toerisme het ook ʼn memorandum van verstandhouding met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) onderteken oor samewerking ten opsigte van die voorkoming, ondersoek en bekamping van misdade wat ʼn impak op die toerismebedryf en die veiligheid en welstand van toeriste het.

Die Toerismemonitorprogram behels onder meer opleiding, mentorskap en ontplooiing van werklose jeugdiges in geïdentifiseerde toerisme-aantreklikhede. Die doelwitte van die program is onder meer die bevordering van toerismeveiligheidsbewustheid by sleuteltoerisme-aantreklikhede. Die toerismemonitors moet in sleutelbesienswaardighede en terreine met ʼn groot aantal toeriste geplaas word om patrollering te doen, enige misdaadvoorvalle by die SAPD aan te meld en toeriste in nood by te staan.

Die departement van toerisme het ook met die Burgerlugvaartowerheid (BLO) in gesprek getree oor die gebruik van hommeltuie in die bestuur van gevalle van misdaad teen toeriste. Die departement beoog om in samewerking met die polisie hommeltuie in die komende boekjaar te begin inspan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Ronél ·

Te laat, daar is vele ander areas wat vermy moet word, GOOGLE moet hulle hele roetekaarte hersien.

Kokerboom ·

Dept van Toeisme. Sakke vol mooi woorde terwyl hul geen respek vir geld het! Kan iemand aan my verduidelik HOE kan jy R33milj blaas op Trevor Noah vir VYF minute se werk!???? Is hy skielik so spesiaal? Hoe regverdig jy dit? Is die advertensie so uniek?
Dis ‘n skreiende skande!

Martie Smartie ·

Niemand behoort aangemoedig te word om in hierdie misdaadnes te kom toer nie.

Danie ·

Op papier en in die verbeelding van daardie wat knus in die raadsale sit en vleg is alles veilig. In teorie kan mens ‘n klomp goed doen en vermag. Die werklikheid stem nie noodwendig saam met die sulkes nie. Die werklik gee baie keer ook nie om nie. Dit is daarom dat sommige hulle lewens moet opoffer daarvoor.

Truman Burbank ·

Die feit dat google ingestem het om SA as vooraanstaande toeristebestemming te bevorder. maak google skuldig. Maar orals steek n gates se kop uit

George ·

En dan wil ons ou burgermeester se dit gebeur nie hier nie, nee WK is veiliger as ander provinsies

Marthinus Johannes ·

Hierdue is nie due enigste gevalle nie. Ek self is Al twee keer met Google maps deur onveilige areas (townships met grond paadjies) gelei as om die veronderstel veilige teerpad te gebruik. As dit in die nag is kom jy dit eers agter as dit te laat is. 1 keer in Natal oppad na Qunu falls en 1 keer buite Gravelott oppad na Phalaborwa toe

Hussin ·

Hulle wil die persepsie verander dat die land onveilig is vir toeriste. Hulle moet nie die persepsie verander nie. Hulle moet die realiteit daarvan verander.

Heinrich ·

Nog ‘n pluimpie in Cele se hoed. Hierdie sou nie nodig wees as hy sy werk doen nie, maar nou ja, wie wil jou kiesers gaan toesluit!

Pietertjie ·

Eintlik moet Google die hele Suid Afrika merk as ontoeganklik en gevaarlik.

ES ·

Stuur maar die “weermag” in en kyk of iets gedoen kan word. Of los dit. Dit gaan dieselfde effek he.

Oom Charles ·

“99% van alle besoekers keer terug na hulle lande van herkoms” As Patricia ernstig is oor haar statistiek, beteken dit dat met elke Airbus wat toeriste bring, 3 van hulle hier in SA hulle laaste asem gaan uitblaas. Niks om oor te spog nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.