Prof met Covid-19 ná 4 maande ontslaan

Prof. Johan Oberholster (58) is die adjunk dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan die Universiteit van Pretoria (Foto: Verskaf)

Prof. Johan Oberholster (58), die adjunkdekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan die Universiteit van Pretoria (UP), is Vrydag uit die hospitaal ontslaan nadat hy byna vier maande gelede Covid-19 opgedoen het. Hy was altesaam 112 dae in die hospitaal en die familie is selfs op ʼn stadium aangesê om hom te groet.

Hoewel hy nog baie siek is en tans tuis aansterk, beskryf sy vrou sy herstelpad tot dusver as ʼn wonderwerk.

“Hy het met als binne hom teen die virus baklei. Hy het drie keer by die dood omgedraai en net aanhou baklei om te lewe. Hy is my held en ek is ongelooflik trots op hom,” het Oberholster se vrou, dr. Talita Botha (53), aan Maroela Media gesê. Botha is ʼn tandheelkundige in Pretoria

Oberholster het op 26 April positief vir Covid-19 getoets. Botha en die egpaar se dogter, Klarine (16), het twee dae later ook positief vir die virus getoets.

Oberholster is die Vrydag (30 April) per ambulans na die Life Eugene Marais-hospitaal in Pretoria geneem, nadat sy suurstofvlak drasties gedaal het.

“Ek het 03:00 sy suurstofvlak gemeet en toe was dit 97%. Teen 05:00 het sy suurstofvlak tot by 87% gedaal en hy was flou.”

Vier dae later is Oberholster op ʼn ventilator geplaas.

Oberholster se vrou en dogter het hom met sy eerste aand by die huis met pizza bederf [Foto: Verskaf]

“Hy was in totaal vir 60 dae lank op ʼn ventilator en vir 50 dae lank in ʼn geïnduseerde koma. Hy was vir die laaste maand in ʼn gewone Covid-19-saal.”

Volgens Botha het Oberholster talle terugslae in die hospitaal beleef.

“Daar het gate in sy twee longe ontwikkel. In Julie moes hy twee operasies ondergaan sodat die dokters die gate kon toewerk. Sy linkerlong het mooi herstel, maar sy regterlong het na die operasie weer ʼn groter gat ingeval. Hy is weer teater toe.”

Oberholster het boonop ná die eerste longoperasie ʼn bakteriële infeksie ontwikkel en sy toestand het versleg.

“Die dokters het ons gebel en gesê ons moet Johan gaan groet. Ons het gedink dis die einde.”

Oberholster het egter aanhou baklei totdat hy dae later uit die hospitaal se intensiewe eenheid (ICU) na ʼn gewone Covid-19-saal oorgeplaas is.

Boonop het Oberholster se ma, Helena (84), op 1 Julie haar stryd teen Covid-19 verloor. Oberholster moes reeds ook vroeër die jaar een van sy goeie vriende groet nadat dié ook weens die virus oorlede is.

“Die terugslae het Johan een na die ander getref, maar hy het sterk gestaan.”

Oberholster is tans by die huis en is steeds bedlêend. Hy is nog aan suurstof gekoppel en het drie pype in sy longe. Volgens Botha lek daar steeds lug uit sy regterlong.

“Hy is nog baie siek en ons weet nie hoe lank die pad van volkome herstel nog gaan wees nie. Die eindstreep is nog ver, maar ons bly hoopvol. Die Here het die 112 dae saam met ons gestap en ek glo Hy sal ons nie nou los nie. Ons is net dankbaar Johan leef en is nou by die huis waar hy genoeg vars groente, vrugte en liefde sal kry.”

Oberholster saam met sy vrou, Talita, dogter, Klarine, en sy oorlede ma, Helena [Foto: Verskaf]

Botha sê sy het nie gedink die virus sal haar man so hard tref nie omdat hy ʼn baie gesonde en fikse man was.

“Die harde werklikheid het ons getref en laat besef Covid-19 is nie speletjies nie.”

Botha sê die afgelope vier maande was ʼn emosionele tuimeltrein. Sy kon Oberholster net een keer per week in die hospitaal besoek het.

“In die aande het my genade en hoop opgeraak. Ek het myself aan die slaap gehuil en weer die volgende oggend met nuwe krag opgestaan.”

Volgens Botha het Oberholster se stryd met Covid-19 haar ook weer in die krag van gebed laat glo.

“Mense – en veral wild vreemdelinge – van wyd en syd het vir Johan gebid.”

Volgens Oberholster se internis, sal hy tussen ses maande en ʼn jaar nog afgeboek wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Toy ·

So bly vir julle alles te danke aan ons Hemelse Vader wat hom hierdeur gedra het.

Wat op dees Aarde ·

En dan lees mens stories soos dié… Dan besef jy, daar is nogsteeds donkies wat glo dat covid nie bestaan nie en ‘n “hoax” is. *Rol my oë.* Ek het sélf covid gehad, was bitter moeilik gewees en ek is ‘n asmalyer.

Skappie ·

So dankbaar vir Porf. Johan. Dankie dat onse Liewe Jesus hom die krag gegee het om aan te hou baklei teen hier dodelike virus. Sterkte aan jou, en mag die herstel proses goed verloop.

Elmarie ·

Dank die Here vir die genade gawe van genesing en lewe vir Johan. So baie ander verloor hul stryd sodra hulle op ‘n ventilator geplaas word. Die Here het dieselfde genade vir almal, sy plan verskil net van persoon to persoon. Sterkte vir die res van die herstel proses Johan

Johanna ·

Ons dien n GOD van WONDERS.
Ek bid dat hy volkome sal herstel. Dit moes n erge Traumatiese ervaring gewees het..
Sterkte vir die pad vorentoe

Johanna ·

Mense weet daar is regtig COVID. Maar daar is soveel van Covid wat steeds onbekend is. Die Chinese moet gedwing word om die samestelling hiervan bekend te maak sodat daar n finale oplossing kan wees.

Zombie ·

Ek voel nou dom, maar hoe bedoel jy die “samestelling”? Die samestelling waarvan?

Duskolos ·

Baie dankbaar om te hoor dat dit beter gaan. Johan het letterlik duisende jongmense se lewens geraak as dosent in rekeningkunde aan UP.

Esme ·

God is getrou en regverdig.
Herstel wag en ons Hemelse Vader loop saam met u die paadjie.
Baie sterkte!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.