Program lei jongmense gratis op

Nadia Lingenfelder (Foto: Forum Sekuriteit)

’n Skielike belangstelling in hommeltuie het ’n 25-jarige fotograaf van Kempton Park in Gauteng in ’n heel ander loopbaanrigting gestuur – die private sekerheidsbedryf.

“Dis ’n bedryf wat in die toekoms ’n al groter rol gaan speel weens die Suid-Afrikaanse regering se verval,” meen Nic Arnold, uitvoerende hoof van Forum Sekuriteit, ’n private sekerheidsmaatskappy as ’n inisiatief van AfriForum.

Nadia Lingenfelder is die eerste kandidaat van Forum Sekuriteit se internskapprogram – ’n program van ses maande wat jong werkloses gratis indiensopleiding bied en in staat sal stel om as gekwalifiseerde beheerkameroperateurs by ’n sekerheidsmaatskappy aangestel te word. Die interns verdien ook ’n klein salaris vir die tyd wat hulle deur Forum Sekuriteit in diens geneem word.

Lingenfelder vertel aan Maroela Media sy het verlede jaar ná ’n jaar van au pair-werk in Amerika na Suid-Afrika teruggekeer – met ’n hommeltuig wat sy in die vreemde gekoop het. Op tuisbodem het sy haar hommeltuiglisensie verwerf en na werk begin soek.

“Ek was bekommerd oor waar ek ’n inkomste vandaan gaan kry en het senuweeagtig geraak oor my toekoms.”

Haar paaie het gekruis met ’n hommeltuigvlieënier wat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) per geleentheid bystaan en sy het kort daarna as lid van haar plaaslike buurtwag aangesluit. Dit is tóé dat sy van Forum Sekuriteit se internskapprogram te hore gekom het.

Sy bestempel die program as ’n wonderlike geleentheid wat vir haar as jongmens ’n voet in die deur van die sekerheidsbedryf bied. “Want dit is ’n heel ander wêreld,” sê Lingenfelder met ’n glinster in haar oë.

Foto ter illustrasie van Forum Sekuriteit. (Foto: AfriForum)

Die program lei kandidate op as beheerkameroperateurs en sal hulle in staat stel om te kwalifiseer vir ’n Graad E-A-kwalifikasie van die reguleringsowerheid vir die private veiligheidsbedryf (Psira).

Die rol van beheerkameroperateur behels onder meer die hantering van noodoproepe en die monitering van kliënte se kamerastelsels. ’n Beheerkameroperateur moet kritiek belangrike inligting van kliënte in nood vinnig ontleed, sin van die situasie maak en die nodige telefoniese hulp bied.

“Jy moet op jou voete kan dink en in noodsituasies leiding kan neem deur voldoende en akkurate inligting aan die reaksiespanne deur te gee,” verduidelik Arnold.

“Dit is baie opwindend,” sê Lingenfelder oor die vooruitsig van ’n loopbaan in die private sekerheidsbedryf.

“Dít is ’n passie wat ek wil ontwikkel omdat dit ’n heel ander beroepsrigting is waarin ek graag wil beweeg. Ek dink ek het opgewonde begin voel toe ek as buurtwaglid aangesluit het … Die deure het sedertdien net vir my begin oopgaan.”

Arnold sê op sy beurt dit is uiters bevredigend om te weet dat Forum Sekuriteit deur middel van sy internskapprogram jongmense in staat stel om die werksmag te betree.

“Jong werkendes bevind hulle in ’n onmoontlike situasie, want hulle kan nie aangestel word indien hulle nie ’n kwalifikasie het nie, maar soveel van hulle is nie in ’n finansiële posisie om ’n kwalifikasie te bekom nie.

“Indien jy die regte kwalifikasie het, is daar beslis ’n toekoms vir jou. Die opleiding van jongmense is nie net opleiding nie maar ook bemagtiging.”

  • Aansoekers tussen 18 en 30 jaar oud wat belangstel om aan Forum Sekuriteit se internskapprogram deel te neem, kan ’n e-pos na [email protected] Die inname van kandidate is wel onderhewig aan ’n onderhoud- en keuringsproses.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kokkie ·

In engels ‘drone’. Baie eenvoudig beskryf: dis ‘n (dikwels) vierkantige ‘vliegtuig’ met klein rotorblaaie soos dié van ‘n helikopter op elke hoek. Die hommeltuig word seker maar so genoem omdat dit soos ‘n groot hommelby vertoon wanneer dit vlieg. Die hommeltuig se battery word elektries gelaai en die tuig dan in die lug opgestuur en van die grond af beheer met afstandbeheer. Dikwels is dit toegerus met ‘n kamera wat uitstekende videomateriaal uit die hoogte kan neem, veral van andersinds onbereikbare plekke. Dit word dus dikwels in die filmbedryf gebruik, maar ook vir ‘n legio ander doeleindes, ook in die oorlog in die Oekraïne vir verskillende funksies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.