Programmering dié beskeie toppresteerder se ‘ontspanning’

Jake van der Westhuizen. (Foto: Verskaf)

As sy neus nie verlede jaar in ʼn handboek was nie, het die Kaapse matrikulant Jake van der Westhuizen, anders as gewone tieners, homself besig gehou met “programmering of opvangwerk” vir sy ekstra vak, Biologie.

Nou spog dié Bellvilliet, wat verlede jaar sy sogenaamde “AS-vlakke” van die Cambridge International-kurrikulum se eksamen afgelê het, met ʼn gemiddeld van 94,7% én die titel van die privaat skool, Reddam House Durbanville, Kaapstad, se topmatriek vir 2023.

Hy het boonop ʼn verbysterende 99% vir wiskunde behaal en beoog om vanjaar wetenskap aan die Universiteit van Kaapstad te studeer.

“Ek weet hoe kompeterend dit is om by universiteite in te kom en om beurse los te slaan. Daar is soveel ander kinders wat net so hard, en selfs nóg harder as ek werk, en dit het my gemotiveer om altyd my alles in te sit,” vertel Jake aan Maroela Media.

Hy glo sy ouers se ontspanne en deurlopende ondersteuning, sowel as die vryheid en kreatiwiteit wat sy skool se kurrikulum en onderwysers vir leerders toelaat, het ook bygedra tot sy akademiese sukses.

“Ek weet daar is baie kinders wie se ouers vreeslik prestasiegedrewe is, maar met myne was dit heeltemal die teenoorgestelde. Hulle het my aangemoedig om net my bes te doen en inteendeel gewens dat ek met tye minder leer en meer tyd afvat,” skerts die slimkop.

Met wetenskap, en spesifiek fisika as gunstelingvak, is dit gʼn verrassing dat Jake se loopbaandrome in wetenskaplike navorsing lê nie.

“Ek het die behoefte om te probeer verstaan hoe die wêreld om my werk. Ek hou ook van feite en dinge waaroor ʼn mens nie sommer kan stry nie, en ek dink wiskunde en wetenskap is van die min goed waaroor daar nie veel geredekawel kan word nie.”

Sy droom is om eendag navorsingswerk in teoretiese fisika te kan doen.

“Ek wil nie ʼn proffie word nie, maar byvoorbeeld werk doen soos dié in Frankryk waar hulle ʼn nuwe kernkragstasie het wat fokus op kernfusie. Ek wil steeds my hande kan vuil maak, ek sal andersins verveeld raak,” sê hy laggend.

Al die matrieks wat die Cambridge International-kurrikulum se eksamen voltooi het. (Foto: Verskaf)

Hoewel wiskunde en wetenskap nog altyd vir die voornemende student soos kos was, sê hy dat skoliere nooit moet toelaat dat loopbaandruk en vakkeuses hul inperk nie.

“Dit is seker ʼn cliché, maar as ek advies vir ander tieners kan gee, is dit dat hulle moet besef ʼn mens hoef nie nou al presies te weet wat jy wil doen nie – selfs al wil jy nie studeer nie.”

Dié tiener is ook uiters beskeie oor sy uitstaande prestasies en glo dat Reddam House se klas van 2023 ʼn groot gesamentlike impak as matriekgroep gemaak het.

Maroela het vroeër berig dat dié leerders altesaam 126 onderskeidings ingepalm het vir vakke soos biologie, Frans, Spaans, chemie en wiskunde.

Hoewel die graad se gemiddeld 77% is, het 22 leerders ʼn gemiddeld van meer as 80% gehad, terwyl nege leerders uitgeblink het met ʼn gemiddeld van 90% of hoër.

“Ons was een van ons skool se sterkste akademiese matriekgroepe. Almal was passievol en gedrewe – dit is ʼn voorreg om deel van so matriekklas te kon wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.