Prokureur steel glo R27 miljoen by die staat

Argieffoto (Foto: Daniel Bone/Pixabay)

Adv. Hassan Ebrahim Kajee, ʼn prokureur vir die kantoor van die staatsprokureur, se inhegtenisneming word deur die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) verwelkom.

Kajee is op 1 April deur die Valke in hegtenis geneem op verskeie aanklagte van bedrog. Hy het Maandag in die Johannesburgse streekhof verskyn en is vrygelaat op borgtog van R20 000, sê Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SOE. Die saak is tot 25 Mei 2023 uitgestel.

“Die kantoor van die staatsprokureur stel gereeld regsadviseurs aan om sake namens staatsinstansies te behartig. Kajee is in verskeie sake aangestel om die staat te verteenwoordig.”

Kajee se inhegtenisneming volg ná ʼn ondersoek deur die SOE wat onthul het dat hy na bewering fakture kunsmatig opgestoot het; fakture uitgereik het vir dienste wat nooit gelewer is nie; en te veel gevra het vir dienste wat kwansuis gelewer is.

“Kajee het ook fakture uitgereik waarvolgens hy daagliks meer ure gewerk het as wat daar ure in ʼn dag is.”

Die SOE het die bewyse aan die Nasionale Vervolgingsgesag oorhandig vir verdere optrede en Kajee is gevolglik in hegtenis geneem.

“Die SOE is intussen besig met ʼn siviele saak in die spesiale tribunaal teen adv. Kajee om sowat R27 miljoen te herwin vir skade wat die staat gely het, weens die vermeende korrupsie en onderhandse verhouding tussen die voormalige hoof van die kantoor van die staatsprokureur in Johannesburg, Gustav Lekabe, en Kajee. Lekabe het na bewering Kajee aangestel om die staat in ʼn rits sake te verteenwoordig waar die aansoeker vir regsfooie gefaktureer is wat nooit gelewer is nie; twee keer gefaktureer is vir dieselfde werk wat gedoen is; en dubbelfakture wat aan die kantoor van die staatsprokureur gestuur is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

M ·

Onnosel dief … en dan nogals ‘n “geleerde” ( dief) Prokureur … Siek !!!!

Lillian ·

Hoekom is sy rekeninge nooit getakseer nie en net blindelings betaal?

SjN ·

Die regsgeleerde se berekeninge en somme is nie een van sy sterk punte nie, hy het seker net net 30% behaal vir sy wiskunde vak!!

Doompie Daan ·

Die uitdrukking “op borgtog van x bedrag VRYGELAAT” moet myns insiens totaal geheel-en-al vermy word in beriggewing in die pers en eerder vervang word met iets soos: “borgtog van x bedrag is TOEGESTAAN / BEWILLIG aan NN tot hy/sy weer op d.d. in die hof verskyn om verhoor te word”

Oosie ·

Boekhouding is maar troebel by die staat, eers oor die 26 miljoen word daarna gekyk, magtig dit gaan op plekke darem lekker..
Ander mense werk hul ten gronde net om gelyk te breuk aan die einde van die maand..
Wonder hoeveel gelde al van die diewe terug ontvang is (ooit) ons sal dit seker nie hoor..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.