Prominente Sandton-prokureur van seksuele misdrywe verkla

Micheline Urquhart

’n Strafregtelike klag is ingedien teen ’n prominente prokureur van Sandton wat van seksuele misdrywe en die seksuele gereedmaking van ’n vrou beskuldig word toe sy net 15 jaar oud was.

Ná 11 jaar van fisieke, emosionele en seksuele mishandeling het Micheline Urquhart (26) Donderdag die saak by die Norwood-polisiekantoor in Johannesburg geopen.

Urquhart het AfriForum se privaatvervolgingseenheid genader nadat sy glo in die steek gelaat is deur verskeie ander prokureurs wat sy om hulp genader het om die strafregtelike klagtes aan te meld.

In ’n beëdigde verklaring wat ’n hele paar bladsye beslaan, sit Urquhart uiteen hoe sy die prokureur ontmoet het toe sy ’n tiener was; hoe hy haar oor etlike jare glo seksueel gereed gemaak het en haar as sy minnares hanteer het. Toe Urquhart die situasie met die verdagte wou beëindig, het hy haar agtervolg en haar lewe glo hel gemaak. Haar beëdigde verklaring bevat gedetailleerde inligting oor die verdagte se beweerde gewelddadige uitbarstings, aanrandings en dwelmmisbruik.

Urquhart sê in haar beëdigde verklaring: “Ek gaan slaap en word voortdurend gedurende die nag wakker in totale paniek, vrees en angs. Ek het voortdurend terugflitse van [die verdagte] wat my aanval. Elke dag en nag vrees ek vir my lewe.

“Ek het fisiese letsels aan my liggaam, maar nog erger, die emosionele en sielkundige letsels het my welstand en my kans om ’n normale lewe te lei, soos elke mens verdien om te lewe, ernstig beïnvloed. Ek is beroof van alles wat ’n vrou kan hê en wil wees. Die wrede en gewelddadige verdagte het my lewe van my gesteel.”

Urquhart het buite die Norwood-polisiekantoor gesê sy is hoopvol dat die saak behoorlik ondersoek sal word.

“Ek is vandag hier omdat ek ’n saak aanhangig gemaak het oor verskeie seksuele misdrywe teen ’n prominente prokureur. Ek het voor dit regshulp gevra en ek het uiteindelik AfriForum en adv. Gerrie Nel gekry om my by te staan. Ek hoop dat geregtigheid sal seëvier.

“Ek is meer as bereid om te verseker dat hierdie saak behoorlik afgehandel word. Daar was baie teleurstelling om voortdurend in die steek gelaat te word vir so ’n ernstige saak; dit laat jou voel asof geen ondersoek ooit gedoen gaan word nie.”

AfriForum se privaatvervolgingseenheid sal die verwikkelinge in die ondersoek fyn dophou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Lillian ·

Ja al het jy ‘n graad agter jou naam en word geklassifiseer as ‘n professioneel, het jy ook swakhede in jou karakter.

Maritha ·

Aaaai tog! Hou net op om mense heeltyd te wil reghelp. Hierdie is nie ń afrikaanse taal les nie

Elize ·

Moenie geleerdheid verwar met inteliigensie of integriteit nie.

Henri ·

Geweld teenoor vroue en kinders moet, in my opinie, swaarder gestraf word as “normale” misdade. Ek sit dit in aanhalingstekens, want misdaad is nie normaal nie.

Maar ek verwonder my oor die omvangrykheid van die berig in terme van al die inligting. Ek kan nie help om te wonder of dit ‘n advertensie vir Afriforum se privaatvervolgingseenheid is, en of dit dalk suur druiwe is nie. Op 15 jarige ouderdom, waar was haar pa en ma?

JohanR ·

Wat ‘n land! Om enige geregtigheid te kry moet jy bkykbaar by AfriForum en Gerrie Nel uitkom! Wat het nou gebeure by al die ander nuttelose prokureurs by wie sy gaan aanklop het….soort beskerm soort net soos by die ANC?

Dries ·

Dit is virseker dat dokters/prokureurs mekaar beskerm. Ek is persoonlik deur beide professies al te na gekom voordat dit in die hof kom.

marius ·

Daar is korter maniere , maar dit sal nie toepaslik wees om hier te noem nie .

Renier ·

Hoekom na 11 jaar? Ken sy niemand wat vroeer kon help nie?

E ·

Slagoffers neem lank om die manipulasie en gereedmaking te besef en dan nog sake te gaan maak. ‘n Saak maak is ‘n baie moeilike ding om te doen en dit nog teen ‘n prokureur (wat al die skuiwer gate ken) Ek hoop van harte sy kry haar geregtigheid.

Zombie ·

Gaan bestudeer gerus die psigodinamika van seksuele mishandeling. Dan sal jy verstaan. As jy werklik wil verstaan, moet ek byvoeg.

Delia ·

Hoe word haar naam en foto geplaas sonder dat die prokureur gepleit het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.