Proteas gaan Quinny in toetse mis

Quinton de Kock het sy toetskrieketuittrede aangekondig. Foto: Gianluigi Guercia/AFP.

Wat suiwer talent betref is Quinton de Kock waarskynlik tans Suid-Afrika se beste speler. Selfs in toetse – krieket se taaiste uitdaging – het hy sy 3 300 lopies teen ’n treftempo van 70,93 geslaan.

Wie sal sy honderdtal in Hobart vergeet toe hy vir Mitchell Starc en Nathan Lyon wild en wakker geslaan het? Of daardie onoorwonne 129 lopies op SuperSportpark teen ’n Engelse boulaanval wat Ben Stokes, James Anderson en Stuart Broad ingesluit het?

Voeg daarby 221 vangskote en 11 stonkkanse in 54 toetse agter die paaltjies en jy sit met ’n speler wat met die heel beste ter wêreld kan saamgesels.

De Kock vier sy honderdtal teen die Wes-Indiese Eilande. (11 Junie 2021) (Foto: Randy Brooks/AFP)

Maar De Kock se toetsloopbaan is iets van die verlede toe hy gister – nadat die Proteas sleg teen Indië in Centurion verloor het – sy rooibalkrieket-uittrede aangekondig het.

Die rede wat hy aanvoer?

’n Edele een.

Die 29-jarige paaltjiewagter en sy vrou (Sasha) verwag binnekort hul eersteling en hy wil meer tyd saam met sy jong gesin spandeer.

“Hierdie was glad nie ’n maklike besluit nie. My gesin is vir my baie belangrik en ek wil graag die tyd en geleentheid kry om saam met hulle in hierdie nuwe opwindende hoofstuk van ons lewens te deel,” het hy gister in ’n verklaring gesê.

Volgens De Kock is hy mal oor toetskrieket en om sy land te verteenwoordig.

“Ek is lief vir alles wat daarmee gepaard gaan: Die hoogtepunte, sowel as die laagtepunte. Maar nou het ek iets gevind waarvoor ek selfs liewer is.”

Dit is egter nie die einde van sy Protea-pad nie. Hy is vir die voorsienbare toekoms steeds beskikbaar vir eendag- en T20-wedstryde.

Hy is in sy laaste toetsbeurt vir 21 deur Mohammed Siraj skoongeboul. Foto: GB Jordaan.

Maar De Kock se uittrede moet ’n hengse terugslag wees vir ’n span wat nog eintlik sukkel om geskikte plaasvervangers vir AB de Villiers, Dale Steyn, Hashim Amla, Faf Du Plessis, Vernon Philander, Morné Morkel, Graeme Smith, JP Duminy en Jacques Kallis te kry.

Ja, op die politieke en administratiewe front is daar baie redes om oor Suid-Afrikaanse krieket te frons, maar De Kock se gereelde teenaanvalle in die toetsarena het definitief vir ’n glimlag gesorg.

Hy gaan beslis in dié formaat gemis word.

  • Quinton de Kock se toetsloopbaan:

Buiging: Suid-Afrika teen Australië in 2014

Laaste toets: Suid-Afrika teen Indië in 2021

Lopies: 3 300 teen ’n gemiddeld van 38,82

Slagoffers agter die paaltjies: 232

Honderdtalle: Ses

Vyftigtalle: 22

Beste jaar: 2016. Hy het 695 lopies teen ’n gemiddeld van 63,18 en ’n treftempo van amper 80 gemoker.

Hoe het dinge in 2021 gelyk? In ses toetse het hy 348 lopies teen ’n gemiddeld van 38,66 geslaan. Hy het vanjaar 26 kolwers agter die paaltjies uitgevang.

  • Kyle Verreynne is die ander paaltjiewagter in die Proteas se toetsgroep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Kobus ·

Politieke slagoffer? BLM slagoffer? Sal graag sy boek oor ‘n jaar of wil lees. Skande KSA.

Hansie slim ·

Stem saam Kobus. Maar hy kies die eerbare weg. Hy wil ook seker nie deure agter hom toemaak nie…dan speel mens maar “veilig”…

Frans ·

‘n Mens kon duidelik sien dat hy onder te veel druk was en dat sy besluit hom van sy beste weerhou het.Dit sou miskien beter gewees het om sy uittrede voor die reeks aan te kondig en ‘n ander speler ‘n kans te gee om ervaring op te doen.
Nietemin alles van die beste.

Jack Russ1 ·

Kan nie sê jy is verkeerd nie. Het dieselfde gevoel oor AB. Almal aan ‘n lyntjie gehou en toe voor die wereldbeker afgetree. Hy kon daar ook eerder kans gegee het vir ‘n ander speler

Misky ·

Ek vermoed sy uittrede het heelwat te doen met laasjaar se kniebuig debakel. Eers toegejuig as held en binne dae as verraaier. Net my opinie.

Politiek moet uit sport gehou word. Speel die spel vir jou volk en vaderland en na die maan met kwotas en BBEEE.

Casper ·

Niemand sal my oortuig dat politiek nie die beweegrede was vir de Kok se besluit nie,daarvoor was hy te lief vir krieket.Mthethwa se BLM is so polities dat dit grens aan aanhitsing tot geweld.Waar is ALL LIVES MATTER hoekom net BLM.Dit is duidelike diskriminasie teen ander rasse .

Jr ·

Die persoon wat glo hoekom hy aftree is naive. Dit is as gevolg van die rassisme van Kinders Suid Afrika

Raadsman ·

Ek is ook een van duisende wat al my belangstelling in SA krieket verloor het. Ek was selfs ‘n getroue ondersteuner van toetse. En so verloor DSTV Sport kanaal ook elke jaar meer en meer intekenaars miskien ook ‘n goeie ding nadat hulle veral die afrikaans sprekendes (kultuur) so uitgebuit het met rugby en krieket kanale.

casper ·

Ek dink hy was net moeg om op sy knie rond te kruip en vir ‘n 2e rangse span te speel !!

Marius ·

Nietemin ‘n yster en top speler wat verlore gaan ongeag die rede. Die regering moet die ekonomie regruk en hul neuse uit die sport arena hou.

KB ·

En daar is krieket nou morsdood. Regtig, waarna moet mens uitsien?!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.