PTA-kerkwerker in huis vasgebind, vermoor

Hendrik Retief. Foto: Verskaf.

Hendrik Retief. Foto: Verskaf.

Hendrik Retief (53), ʼn jarelange werker van die Hatfield Christian Church in Pretoria, is Maandag dood aangetref in sy huis.

ʼn Kollega het Retief se liggaam omstreeks 18:20 in sy huis in Van Riebeeckstraat, Pretoria-Noord opgespoor nadat die persoon bekommerd geraak het omdat hy nie die dag vir werk opgedaag het nie. Retief het sowat 20 jaar lank by die kerk se posafdeling gewerk.

Lt.kol. Khensani Magoai, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê sy hande en voete was vasgebind en hy is vermoedelik tydens ʼn huisbraak vermoor. Die oorsaak van sy dood is nog nie bekend gemaak nie.

Retief se suster, Rina Hickley, het Dinsdag aan Maroela Media gesê haar broer woon al nagenoeg 15 jaar in die huis, wat hy aanvanklik saam met sy ma gedeel het. Hul ma is drie jaar gelede oorlede en hy woon sedertdien alleen en het nie ʼn vrou of kinders nie.

“Hy was ʼn baie stil en teruggetrokke mens,” het Hickley gesê. “Hy was rustig, vreedsaam en ʼn groot Christen wat niemand ooit sou leed aandoen nie.”

Sy het gesê hulle was nog nie in die huis toegelaat nie, omdat die polisie steeds besig is om die toneel vir leidrade te fynkam. “Ons weet glad nie hoeveel verdagtes betrokke was, of wat uit die huis vermis word nie. Ons vermoed hy is dalk doodgeskiet, aangesien die bure geweerskote gehoor het.”

Daar word vermoed dat Retief Maandag in die vroeë oggendure vermoor is.

Die Pretoria-Noord-polisie ondersoek ʼn saak van moord en huisroof.

Hy laat sy twee susters, Hickley wat ook in Pretoria woon, en Marisa de Kock van Kaapstad, agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sylvia ·

Kry mens groot en klein Christenne? Sterkte aan die familie.

Anoniem ·

Rip en weet jy is nou nie meer in ‘n tronk nie. Mag die hand van die Vader oor die familie wees.

bure ·

Het enige iemand dalk nuwe inligting ten opsigte van die polisie ondersoek?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.