Pta-Oos nou al vir week sonder krag

(Argieffoto: Unsplash)

Inwoners is uiters gefrustreerd oor die benarde kragsituasie in Pretoria-Oos, waar van die buurte al ses dae lank sonder krag sit. ʼn Groot deel van Pretoria-Oos is sedert Saterdagaand sonder krag ná ’n ontploffing by die Wapadrand-substasie.

Dele in Faerie Glen, Lombardi en Donkerhoek het teen Vrydagmiddag nog nie krag gehad nie. Inwoners hier sit sonder warm water te midde van die koue front en sakeondernemings trek swaar.

Die kragtoevoer is tussen Maandagaand en Dinsdagoggend in groot dele van Wapadrand, Equestria en Silver Lakes herstel.

Volgens Phillip Nel, burgemeesterskomiteelid vir nutsdienste by die Tshwane-metroraad, het die tegniese span van die metro se energie-en-elektrisiteitsafdeling Donderdagaand probleme ondervind met die herstel van die kabels. Hulle kon sodoende nie die kragtoevoer na die buurte wat steeds sonder elektrisiteit is, herstel nie.

“Ons tegniese span beoog om die herstelwerk teen vanmiddag (Vrydag) 16:00 af te handel en dan die kragtoevoer na al die buurte te herstel,” het Nel gesê.

Awie Erasmus, VF Plus-raadslid by die Tshwane-metro, sê die huidige kragprobleem plaas inwoners en sakeondernemings onder geweldige druk. Hy meen die huidige kragprobleem kon voorkom gewees het indien die substasie vroegtydig opgeknap is.

“Die substasie is in 2018 ook gedeeltelik deur ʼn brand verwoes en die versekeringsmaatskappy het aan die einde van verlede jaar die eis toegestaan. ʼn Onafgehandelde (uitgestelde) tenderproses het die bywerking gekortwiek wat die Wapadrand-substasie onder druk geplaas het,” sê Erasmus.

“Randall Williams, Tshwane-metro se burgemeester, het onderneem om die tenderproses vir die dringende opknapping van die substasie te bespoedig.”

Inwoners sonder kragopwekkers moes dae lank in koue water bad en alternatiewe planne maak om kos te maak. Diegene wat van die huis af werk, is ook heeltemal ontwrig.

ʼn Inwoner van Silver Lakes het op voorwaarde van anonimiteit gesê die metro se bestuur het hulle deurgaans op die hoogte gehou van die kragsituasie. Dié inwoner se krag is Dinsdagoggend herstel.

“Dit was onaangenaam om in die koue en boonop in die donkerte te sit,” vertel die inwoner.

Die inwoner vertel van haar vriende in die omgewing moes hul vrieskaste leegmaak omdat hul vleis sleg geword het.

“My een vriend wat ʼn restaurant in die gebied besit, trek swaar. Hy moes daagliks minstens R1 800 aan diesel vir sy kragopwekker bestee.”

Nel het inwoners versoek om toestelle wat baie krag gebruik vir eers af te skakel om verdere druk op die kragnetwerk te voorkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hendrik Marthinus ·

Maar net gister toe se Mnr de Reyter te veel krag gedurende piektyd word gebruik.
Suid Afrikaners moet spaarsamig krag gebruik, dit terwyl n week lank betalende mense sonder krag sit.
Eskom moes mos klomp krag gespaar het en reserwes op gebou het in die week toe die Arme mense sonder krag gesit het.
Ons kry toe waaragtig Loadshedding gister, hoe verduidelik die man dit.

Kobus ·

Skakel toestelle af wat krag gebruik. MAW,alles wat huishoudings nou juis nodig het bv,stowe en geysers? Hoe dink die mense tog? Ek sal stem dat verwarmers en swembadpompe afgeskakel kan word

Kokerboom ·

Kom DA gryp die geleentheid aan en toon tog jul kan beter doen asb

Africangrey ·

Skakel sommer alles af waar onwettige verbindings is, Zuma moet mos ook sy straf uitdien, so mense wat sulke dinge doen moet ook gestraf word. Daar is. so veel onwettige kabels, en van waar die krag geneem word, word die eie naar betaal………..

Inkpot ·

Ek is bevrees die donkerte is al meer voorstede se voorland.
Onbevoeg, dis wat hulle is.

Sakkels ·

En nou kan die mense nie eers petrol in kanne koop vir hul kragopwekkers nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.