Puk ondersoek voorval met eerstejaars en personeellid

Die NWU se Potchefstroomkampus. Foto: NWU Pukke/Facebook

Die NWU se Potchefstroomkampus. Foto: NWU Pukke/Facebook

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het met ’n ondersoek na beweerde wangedrag deur lede van die Hombré-manskoshuis begin na ’n voorval waarby eerstejaarstudente Woensdag betrokke was.

Die ondersoek hou verband met ’n beweerde onderonsie met ’n senior personeellid van die Institusionele Kantoor op die Potchefstroomkampus waarby eerstejaars glo betrokke was.

Die beweerde voorval het omstreeks 07:30 voor die Institusionele Kantoor plaasgevind toe die 53-jarige personeellid probeer het om tussen die groep studente deur te beweeg. Hulle het na bewering probeer keer dat hy tussen hulle deurloop, en in die proses het hy ʼn rugbesering opgedoen. Lede van die huiskomitee was teenwoordig ten tyde van die voorval.

Na verneem word het die personeellid rugprobleme en is hy ten tyde van die voorval rondgestamp wat die besering veroorsaak het.

Louis Jacobs, woordvoerder van die universiteit, het gesê die ondersoek is reeds in ʼn gevorderde stadium en sal na verwagting binnekort gefinaliseer word nadat alle verklarings bekom en videomateriaal bestudeer is. “Wanneer die ondersoek afgehandel is, sal ʼn besluit geneem word oor dissiplinêre optrede teen lede van die huiskomitee sowel as eerstejaars in die groep,” het Jacobs gesê.

Die Raad van die NWU sowel as die bestuur onder leiding van die visekanselier, prof. Dan Kgwadi, het by verskeie geleenthede hul standpunt herhaal dat geen menseregteskendings by die universiteit geduld sal word nie. Dit is ook duidelik gestel dat geen praktyke of tradisies toegelaat sal word wat konflik kan veroorsaak of aanstoot kan gee nie.

Die NWU het gesê hy het sedert 2014 sy menseregteopleiding vir studente verskerp en streng reëls neergelê wat gevolg moet word tydens die registrasie- en oriënteringsprogram van eerstejaarstudente.

Kgwadi het gesê die NWU beskou die voorval in ʼn baie ernstige lig en sou daar gevind word dat daar ’n oortreding was, sal daar streng opgetree word om die erns van die NWU te toon wanneer sake van hierdie aard hanteer word.

Schalk Burger, primarius van die koshuis, het gesê niemand van die studente kan of mag iets sê nie. Hy het navrae na die universiteitswoordvoerder verwys. Monica van Schalkwyk, SR-voorsitter, was ook nie bereid om kommentaar te lewer nie.

AfriForum Jeug het by monde van Henk Maree, voorsitter, gesê die organisasie neem kennis van die voorval. Dié organisasie meen aanduidings is dat dit heeltemal ’n geïsoleerde geval is wat nie buite verband geruk moet word nie. “Dit is belangrik dat die voorval volledig ondersoek word en dat die persepsie nie by die ouergemeenskap van studente geskep moet word dat hul kinders by onaanvaarbare ontgroeningspraktyke betrokke is nie,” het Maree verduidelik.

Hy het gesê die studenteraad van die NWU-Puk het ’n uiters suksesvolle program met geweldige positiewe terugvoer. “Indien die klein groepie hulself skuldig gemaak het aan enige oortreding moet daar teen hul opgetree word, maar die res van die studente kan nie gestraf word vir hul dade nie,” het hy bygevoeg. “AfriForum Jeug ondersteun geen vorm van geweld of menseregteskendings nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Thys Human, Pretoria

Kan ons asseblief nou al die “kleur” van die betrokkenes verneem. Was die enkeling wat beseer is van een kleur en die ander van ‘n ander kleur – of dalk andersom!

Bruno Stef

Ek kan myself net voorstel wat gebeur het tydens die voorval.Dit is maklik om van so n insident van n molshoop n berg te maak en dan n rugbesering in te gooi om die situasie te probeer vererger.My klein dogter is self ingeskryf as n eerstejaar en het gister vir ons n SMS gestuur dat sy baie besig is met die orientering en dit baie geniet. Daar is mense wat alles in hulle vermoe sal doen om dit te verongeluk en hulle sit ongellukig tussen ons en praat Afrikaans.

Willem Smith

My ma het my geleer om nie tussen mense deur te loop nie, maar eerder om ‘n groep te loop. Die prof mag dalk ‘n senior navorser wees maar van etiket weet hy niks. Dis blyk duidelik te wees dat provokasie en intimidasie die verskuilde agenda mag wees. ‘n Vraag aan prof. Dan Kgwadi: Is dit in orde om EEN mens se mense regte te beskerm (omdat hy ‘n senior amptenaar is), maar daardeur honderde andere se mense se menseregte te skend, omdat hulle studente is. Proffies, julle is daar omdat die studente julle daar hou…word wakker en bou verhoudinge… Lees meer »

Henko Pienaar

Hierdie situasie word heeltemal hand uit geruk. Dit is die senior personeel lid se eie skuld hy het seer gekry. Waarom moes hy DEUR die studente loop en nie OM hulle loop nie of wag totdat hulle verby is nie? Hy is ‘n senior personeel lid so hy is veronderstel om sy commen sense te gebruik en hy moes geweet het geen eerstejaar wat sy sout werd is sal toelaat dat hulle lyne gebreek word nie. Selfs al verwyder hulle al die tradisies is daar nog steeds iets soos koshuis trots. Ek se nie wat die eerstejaars gedoen het is… Lees meer »

Willem Smith

Henko, ek dink ons moet vir die prof dalk maar Emsie Schoeman se boek oor etiket en goeie maniere laat kry. Hy mag dalk ‘n goeie navorser wees, maar sy ma het hom nie geleer om om ‘n groep te loop nie. Die prof se optrede blyk duidelik provokerende gedrag te wees. En jy is reg…Hombre gaan 2e kom…dis ‘n leeu-teen-‘n-bokkie geveg. Veral as Dan Kgwadi “zero tolerance” aankondig vir ‘n saak wat sub judice is!!! HOMBRE, HOU JULLE KOPPE HOOG!!!