Punte vanjaar wéér aangepas ‘weens Covid’   

‘n Vol klas by ‘n skool in die Oos-Kaap. (Foto: Verskaf)

Swak presterende leerders in gr. 4 tot gr. 9 moet wéér hierdie jaar gehelp word om te slaag – glo omdat die Covid-19-pandemie steeds ʼn effek op die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel het. In uiterse gevalle kan leerders na die volgende graad bevorder word, al het hulle nie ʼn enkele vak geslaag nie.

In ʼn nasionale omsendbrief wat die departement einde Oktober uitgestuur het, word aangevoer dat punte-aanpassings wat sedert 2020 van krag is, weer vanjaar toegepas moet word. Dié maatreëls was aanvanklik bedoel om die effek van die pandemie, wat tot gevolg gehad het dat skole vir maande lank moes sluit, te versag.

Dit sal beteken dat leerders baie van hul vakke kan druip – al is die slaagvereiste net 40% – en steeds na die volgende graad oorgeplaas kan word.

“Die departement het deur middel van verskeie navorsingsinisiatiewe vasgestel dat die leeragterstande wat weens die ontwrigtings van die Covid-19-pandemie veroorsaak is, steeds in die stelsel voortduur,” lui die omsendbrief. “Daarom moet die spesiale punte-aanpassings en kondonering wat verlede jaar van krag was, vanjaar weer toegepas word.”

Die maatreëls is boonop nie net vanjaar van toepassing nie, maar moet “in die opvolgende jare” toegepas word, totdat die nasionale kurrikulum hersien word. Dit is nie seker wanneer so ʼn hersiening gemaak sal word nie.

Die huidige slaagvereistes is 50% vir huistaal, 40% vir eerste addisionele taal en 40% vir wiskunde. Leerders moet ten minste 40% vir nog drie vakke hê en 30% vir nog twee vakke. Leerders wat nie aan dié vereistes voldoen nie, se punte moet met 5% in drie vakke aangepas word om meer as 40% (of 50% in die geval van ʼn huistaal) te behaal. Vakke waarvoor ʼn leerder minder as 30% behaal het, se punte mag nie aangepas word nie. Laasgenoemde geld egter slegs vir gr. 7-, gr. 8- en gr. 9-leerders.

Leerders sonder tafels in ‘n Oos-Kaapse skool. (Foto: Verskaf)

Indien dié aanpassings gemaak is maar ʼn leerder steeds nie slaag nie, omdat hy of sy wiskunde met meer as 5% druip, mag hy of sy na die volgende graad oorgeplaas word.

Leerders in gr. 4 tot gr. 6 kan boonop steeds “met ondersteuning” oorgeplaas word, al slaag hulle nie ʼn enkele vak nie, indien die skoolhoof en onderwysers ʼn professionele oordeel vel dat die leerder na die volgende graad doorgeplaas mag word.

Luidens die brief mag leerders wat nie wiskunde in gr. 9 geslaag het nie, ook nie verbied word om wiskunde in gr. 10 te neem nie.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS), sê om leerders só deur te help, is nie bevorderend vir onderwys nie. “Selfs al het Covid-19 nog ʼn impak, gaan ons nie die probleem só oplos nie. Inteendeel, ons skep net ʼn groter probleem vir wanneer leerders in die hoër grade kom.”

Sy sê navorsing wys dat agterstande baie vinniger én goedkoper reggestel kan word indien dit op ʼn vroeë ouderdom aandag kry. “Anders het dit op die lang duur ʼn sneeubaleffek op leerders se akademiese vermoë.”

Sy sê die heel eerste ding wat moet gebeur, is dat gestandaardiseerde toetse deur die bank aan die begin van die jaar geskryf moet word. “Eers wanneer jy weet waar die probleem is, kan jy doelgerigte stappe doen om aandag daaraan te gee.”

Basil Manuel, hoof van die onderwysersvakbond Naptosa, sê dit is so dat die agterstande wat weens die pandemie geskep is, nog lank nie ingehaal is nie. Dit is grotendeels as gevolg van die leemtes in die stelsel wat reeds voor die pandemie teenwoordig was. “Party onderwysers moet soveel as 65 leerders op een slag probeer onderrig. Hierdie onderwysers probeer nie eens meer voorgee dat hulle hierin slaag nie.”

Hy sê omdat die Suid-Afrikaanse skolestelsel so divers is, kan dieselfde oplossing nie vir almal werk nie. “Ons sal egter ʼn ander langtermynoplossing moet vind, as om leerders voor die voet deur te plaas. Dit skep ʼn wanindruk by kinders en ouers oor leerders se werklike vermoëns en plaas verdere druk op die stelsel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Johan ·

So sal Angie Motshekga vir als verskoning soek behalwe die waarheid. Dis eenvoudig n saak van dat die kinders nie leer nie!!!. As n kind nie slaag of kwalifiseer om na die volgende graad bevorder te word, het hy/sy dan mos nie aan die vereistes voldoen nie, nie waar nie?
Dis dieselfde om n student n dr te maak wat nie aan die vereistes voldoen nie.
Hieveel te meer, gan die kind in die volgende jaar sukkel, omrede hy/sy nie die vorige jaar se werk kon bemeester nie… ek sê maar net..

Cassie Carstens ·

Dis ‘n bittere onreg teenoor die betrokke kinders. Kry die ANC nie skaam nie? Dis net omdat hulle nie skole bou nie en liewers die geld in hulle sakke steek.

anko ·

So verswak standaarde. Kinders is slim genoeg om te weet dat punte aangepas word. Geen dissipline om dus skouer aan die wiel te sit om hulself te verbeter deur te wil leer nie.

hpven ·

Van 40% na 0% ! Van 100% soos die land aan die ANC oorhandig is na 0% soos die land 29 jaar later daaruitsien! Viva ANC…

Wildemien ·

Het hulle nou heeltemal mal geraak.
Dit, kollega, is die arbeidsmark van die toekoms.

Wondermaarnet ·

Vir hoe lank gaan Covid nog as ‘n verskoning gebruik word?

Bekkie ·

Dit is crazy, die “ou skooldae” moet terugkom waar daar speltoetse geskryf was, wiskunde tafels geskryf word, ens…………

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.