R1,2 miljoen om saam met Cyril te eet

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS/Twitter)

’n Aandete saam met pres. Cyril Ramaphosa kan belangstellende gaste R1,2 miljoen uit die sak jaag.

Pakkette vir die ANC se gala-geleentheid by die Protea-hotel in Polokwane is nou op Ticketpro se webtuiste beskikbaar. Die geleentheid vind op 7 Januarie, die vooraand van die party se 110de verjaardagsaamtrek, plaas.

Die titaniumpakket, wat R1,2 miljoen beloop, verseker aan ses gaste sitplek aan die president se tafel, en ’n bykomende tafel vir vier gaste.

Vir R1 miljoen kan ses gaste saam die adjunkpresident, David Mabuza, vir ete aansit. As deel van dié platinumpakket kan jy ook ʼn ander tafel vir vier gaste kry.

Indien dít ʼn bietjie te duur is, is daar ook goue pakkette teen R95 000 per persoon beskikbaar. Die goue pakkette waarborg ʼn sitplek aan die tafels van Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en ANC-voorsitter, Paul Mashatile, tesourier-generaal, en Jesse Duarte, adjunk-sekretaris-generaal.

Om die silwerpakket te koop, sal gaste R37 500 per sitplek moet opdok. Met hierdie pakket kan gaste saam met ANC-ministers, -premiers of ʼn ander hooggeplaaste gas aan tafel sit.

Daar is ook ʼn bronspakket, waar jy onder andere saam met ʼn ANC-adjunkminister of  ʼn lid van die uitvoerende raad vir ete kan aansit.

Dié pakket kos R25 000 per persoon.

Die nikkelpakket is die goedkoopste en kos R10 000 vir ʼn sitplek aan die tafel van ʼn hooggeplaaste ANC-gas. Enkelsitplekke is ook teen R5 000 te koop.

Luidens ʼn inskrywing op die party se Facebook-blad bied die gala die geleentheid vir sakelui en die ANC om met mekaar te skakel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.