R420 000 ingesamel vir Vrystaat-plaasveiligheid

plaashek-pexels

Foto: Pexels

Die VKB-groep en Vrystaat Landbou het ʼn bedrag van R420 000 ingesamel vir die ondersteuning van landelike veiligheid in die Vrystaat.

Die geld is die afgelope week tydens ʼn Dryf vir Veiligheid-gholfdag op Clarens ingesamel. Dit is R100 000 meer as verlede jaar. Die VKB-groep, ʼn eertydse Landboukoöperasie, bied al die afgelope vier jaar die gholfdag aan ter ondersteuning van veiligheid.

Die fondse stel Vrystaat Landbou (VL) en die VKB/VL-veiligheidslessenaar in staat om landbouers te bemagtig in terme van hulle eie veiligheid, asook om samewerking tussen landbouers en die polisie te versterk om misdaad in landelike gebiede aan te spreek.

“Sonder hierdie befondsing sou die veiligheidslessenaar nie in staat wees om hulle rol ten volle te vervul nie. Ons is baie dankbaar vir VKB en al die deelnemende spanne se ondersteuning,” het Henk Vermeulen, hoof uitvoerende beampte van VL, gesê.

Die VKB-groep is ʼn landboubesigheid en word besit deur landbouprodusente. “Ons erken die onmiskenbare rol wat die produsente in die welvaart van die maatskappy speel, deur in samewerking met VL strukture te help vestig en onderhou wat tot die welstand van produsente kan bydra,” het Jan van der Walt, bemarkingsbestuurder van die VKB-groep, bygevoeg. “Ons voel dit is juis belangrik om met die borgskap erkenning te gee aan die rol wat landbouers, as primêre voedselprodusente, in die daaglikse lewe van elke mens vervul, en hierdeur leef ons ook ons leuse, ‘vir die liefde van die land’, uit.”

Sowat 65 instansies het vanjaar aan die gholfdag deelgeneem, en 77 gholfkarretjies, die meeste nog ooit op só baan, is op die dag gebruik. Pryse ter waarde van R80 000 was op die spel.

Die veiligheidslessenaar is ’n bron wat waardevolle inligting verskaf wat die plaaslike asook nasionale gemeenskap op hoogte hou van gebeure in die provinsie en die stand van misdaad in die landelike gebiede, wat op hul beurt ’n reuse bydrae tot Suid-Afrika se voedselsekerheid lewer.

Veiligheidsberade en opleidingsessies oor grondbesettings, veediefstal, dienslewering deur die SAPD en ander veiligheidskwessies word die afgelope twee jaar saam met die polisie aangebied as deel van pogings om landbouers met kennis toe te rus in terme van misdaad. Die sessies fokus ook op die bou van verhoudings binne plaaslike veiligheidsnetwerke sodat landbouers weet wat hulle te doen staan tydens ’n krisis, asook oor wie hulle behoort te kontak. Veiligheidswenke vir die plaas, plaashuise asook voertuie word ook op ʼn gereelde basis gedeel. Die lessenaar vergader ook gereeld met plaaslike en provinsiale veiligheidstrukture. Vergaderings met die topbestuur van die SAPD vind ook op ’n twee maandelikse basis plaas.

Die lessenaar hou volledige statistiek by oor alle voorvalle wat die provinsie se boerdery gemeenskappe raak, van veediefstal tot plaasaanvalle. Vir elke plaasmoord, -aanval en ernstige geweldsmisdaad wat op die lessenaar se databasis verskyn, bestaan ’n saaknommer wat met die polisie se databasis gekorreleer word. Die lessenaar was ook die eerste instelling in die land wat begin het om statistiek by te hou van hoe plaasaanvalle plaaswerkers raak.

Volgens die lessenaar se statistiek het plaasaanvalle toegeneem in die eerste kwartaal van 2017. Altesaam 17 aanvalle het tussen Januarie en Maart 2017 op plase plaasgevind. Tydens dieselfde tydperk verlede jaar is 12 aanvalle aangeteken. Die grootste styging is in Maart gesien, met 10 aanvalle wat plaasgevind het. In agt van die 17 voorvalle is produsente geteiken, en in nege werkers of bewoners op plase.

“Ons hoop dat die lessenaar se pogings en diens ’n daadwerklike verskil sal maak in die misdaadsituasie in die Vrystaat se boerderygemeenskappe,” het Vermeulen bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Katryn ·

Ek glo dit sal help!! Ons moet net almal saamstaan in gebed. Asook die boodskap oordra aan almal wat dalk dit nie raak gelees het nie.

Johannes Meintjes ·

Ons sien uit na R420 000 se vrugte in plaasbeveiliging. Nuwe WNNR tegnologie kan ook effektief bydra tot meer stroombelynde en meer akkurate gemeenskapsbeveiliging, waar plaaswag, buurtwag en GPF prosesse tans dikwels lomp, onopgelei, on-toegerus, op risiko en sonder nasionale vergelykbare en effektief-ontleedbare of kruis-bestuiwende rekord geskied.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.