Raadslid bly agter tralies oor beweerde statutêre verkragting

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

ʼn Raadslid van die Matlosana-munisipaliteit in Noordwes wat tereg staan op 11 voorlopige aanklagte, waaronder statutêre verkragting, bly agter tralies.

Die 43-jarige man is aangekeer nadat video’s van die beweerde dade op sosiale media gedeel is.

ʼn Saak van crimen injuria is aanvanklik die afgelope naweek by die Kanana-polisiestasie aanhangig gemaak nadat die verdagte glo ʼn foto van sy geslagsdeel met een van die vermeende slagoffers gedeel het.

In ʼn tweede afsonderlike saak – teen dieselfde verdagte – is twee aanklagte van statutêre verkragting Saterdag deur die ouers van twee 15-jarige seuns aanhangig gemaak. Dít nadat ʼn eksplisiete video van die man en een van die seuns op sosialemediaplatforms, onder meer WhatsApp, aangestuur is.

Die wyksraadslid is kort daarna in hegtenis geneem.

Hy staan nou tereg op 11 voorlopige aanklagte wat insluit statutêre verkragting, verkragting en seksuele intimidasie, sê Henry Mamothame, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Noordwes.

Die Orkney-landdroshof het die saak Woensdag tot 17 Mei uitgestel sodat die beskuldigde private regsverteenwoordiging kan bekom. Hy bly in aanhouding tot sy volgende hofverskyning.

Die staat het reeds aangedui dat hy ʼn aansoek om borgtog sal teenstaan, sê Mamothame.

“Die ondersoek om meer bewyse teen die beskuldigde in te samel, duur voort. Mense word gevra om nie die video’s op enige platform te deel nie, omdat dit die slagoffers en hul familie, asook die ondersoek na die saak negatief kan raak.”

Dr. Rachel Makhari Sekhaolelo, direkteur van openbare vervolging in Noordwes, en lt.genl. Sello Kwena, provinsiale polisiehoof, het die polisie geloof vir hul vinnige optrede om die beskuldigde vas te trek.

Weens die erns van die saak is ʼn senior staatsaanklaer reeds aan die saak toegewys.

Luidens berigte het die ANC, waarvan die beskuldigde ʼn partylid is, reeds die wyksraadslid hangende ʼn dissiplinêre proses geskors.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kokerboom ·

Is dit die standaard van raadslede in ANC bestel?
G’n wonder munisipaliteite het gegroet!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.