Radiovoorsitter, sanger sterf

(Foto: Facebook/Ferdi J Steyn)

Johan van der Merwe, sanger en voorsitter van Overvaal Stereo 96.1 in die Vrystaat, is Maandagmiddag ná ʼn kort siekte oorlede.

Van der Merwe is ná talle toetse vanjaar op 4 Desember met Nie-Hodgkin-limfoom gediagnoseer.

Ferdi Steyn, ʼn musiekpromotor van Artist Village, sê Johan was ʼn ongelooflike en geliefde sakeman, sanger, man, pa en vriend.

“Mens kon altyd die foon optel en sê boeta, ek kort raad of leiding, en hy sou met liefde sy kennis met jou deel.”

Stephanie, Johan se vrou, het aanhangers en luisteraars op versoek van die stasiebestuurder, Ignaz Streicher, op 6 Desember oor Van der Merwe se toestand ingelig.

“Johan het begin November net skielik sleg gevoel; ons het gedink dit is griep of Covid-19, maar hy het dae later met longontsteking in die intensiewesorgeenheid beland.

“Hy was egter baie sterk en het daai gogga gou wegbaklei … of so het ons gedink.

“Hy was binne ʼn dag weer terug na die intensiewesorgeenheid toe en alles het net skielik begin slegter gaan. Hy is ʼn paar dae later in ʼn geïnduseerde koma en op ʼn ventilator geplaas, iets wat geeneen van ons ooit sou kon dink of verwag het nie.

“Hulle het alles getoets, maar sy siektetoestand het lank ʼn raaisel gebly tot die laaste uitweg … beenmurgtoetse,” skryf Stephanie.

“Die tyd wat ons vir die uitslae moes wag, was absoluut ondraaglik, asof tyd net stilgestaan het. Op 4 Desember het hulle een uitslag teruggestuur, maar daar was nog toetse wat moes volg. Johan is later met Nie-Hodgkin-limfoom gediagnoseer.”

(Foto: Facebook/Ferdi J Steyn)

Talle medelye het intussen vir die kunstenaar ingestroom.

“Stephanie en kinders, familie en vriende, ons gebede is met julle almal, die verlies is groot, so ook vir die hele span van Overvaal Stereo waar Johan jare lank as voorsitter gedien het.

“Ons almal gaan jou baie mis en al die mooi tye saam met jou onthou.

“Rus sag, Vale, tot ons mekaar weer sien,” het Steyn in ʼn plasing op Facebook geskryf.

Stephanie het haar dank aan almal vir hul ondersteuning en gebede betuig.

“Ek en die kinders wil net vir elke mens, elke groepie, selfs mense wat ons nie ken nie, wat elke dag so hard vir hom gebid het en elke mediese personeellid wat hard saam met ons baklei het vir sy gesondheid, met ons hele hart en siel bedank en loof. Ek het nooit besef Johan is so geliefd oor die hele land nie.”

Van der Merwe het talle voorvertonings vir bekende kunstenaars gedoen, onder wie Steve Hofmeyr, Kurt Darren, Leani May, Bok van Blerk en Karlien van Jaarsveld.

(Foto: Facebook/Johan van der Merwe Musiek)

Hy het sedert sy musiekloopbaan in 2005 oor die hele Suid-Afrika heen opgetree – vanaf Johannesburg tot die Kaap en by talle feeste, waaronder die KKNK en die Oos-Kaap Uitvoerende Kunstefees.

Van der Merwe se eerste album was Bosveldblom, gevolg deur Skadu van ʼn man en dan Vas aan my. Sy jongste amptelike album is getiteld Alles vir niks.

(Foto: Facebook/Johan van der Merwe Musiek)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.