Rafferty-moordenaars swaar gestraf

Glen en Vida Rafferty (Foto: Facebook)

Twee van Glen en Vida Rafferty, wat in Augustus 2020 op hul plaas naby Newcastle in KwaZulu-Natal vermoor is, se aanvallers is lewenslange tronkstraf opgelê.

Doctor Fikane Ngwenya en Sibongiseni Madondo is skuldig bevind op twee aanklagte van moord, huisbraak met die doel om te steel, diefstal en roof met verswarende omstandighede. Nog ʼn beskuldigde, Siyabonga Macu, is dood voordat hy kon getuig.

Die groep aanvallers, gewapen met vuurwapens, het by die Rafferty-egpaar se plaashuis ingebreek terwyl hulle vriende gaan besoek het. Die mans het selfone, juwele, ʼn skootrekenaar, ʼn rekenaarskerm en ʼn DVD-speler gebuit, sê Natasha Ramkisson-Kara, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in KwaZulu-Natal.

Hulle het ook onsuksesvol by ʼn kluis probeer inbreek.

Volgens die NVG het die aanvallers besluit om die Rafferty-egpaar in te wag en hulle dan te dwing om die kluis oop te sluit.

Die mans het die egpaar oorrompel en ʼn fisieke konfrontasie het gevolg. Glen en Vida is verskeie kere geskiet en het albei op die toneel gesterf. Die gesin se hond is ook doodgeskiet.

Die aanvallers het daarna hul buit in die Rafferty’s se motor gelaai en weggery.

Hulle is ná maande van ondersoekwerk aangekeer.

Die egpaar se seun het ter strafverswaring getuig. Hy het op sy ouers, onderskeidelik 63 en 60 jaar oud, se liggame afgekom. Hy het destyds op die plaas in die Normandien-omgewing gewerk, maar het die eiendom intussen verkoop omdat dit bloot te hartseer was om verder daar te woon.

‘n Reuse optog is gereël ná die moord op Glen en Vida Rafferty. (Foto: Verskaf)

Die NVG het die vonnisse verwelkom en die werk van die staatsaanklaers en ondersoekspanne geloof.

“Ons glo dat ʼn vonnis soos hierdie as afskrikmiddel vir mense dien wat dieselfde planne het,” sê Ramkisson-Kara.

Sizwe Tell Zwane (33) is in Maart verlede jaar twee keer 25 jaar tronkstraf opgelê vir die moord op Glen en Vida nadat hy skuld beken het. Zwane is ook ʼn verdere tien jaar tronkstraf opgelê op een aanklag van roof. Die vonnisse word gelyklopend uitgedien.

Die Rafferty-egpaar was gewilde en geliefde boere in die omgewing en hul moord het tot groot woede gelei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pierre ·

Lewenslank in SA beteken niks,sit so paar jaar en dan is jy n vry man om weer te moor en plunder.

Dup ·

Skade is reeds aangerig,familie en gesin verwoes.Terwyl die moordenaars soos konings in die tronk behandel gaan word.Hulle sal seker oor ñ jaar of twee belangrike poste in die regering aangebied word.

Christine ·

Dankie aan die regter wat ‘n verswarende straf opgelê het. Hou hulle asb net agter tralies.

Danie ·

Indien plaasmoorde en rooftogte en moorde stop sal die land weer n toekoms he.Bring terug die doodstraf.

Jakes ·

Nee wat, tronkstraf beteken niks in SA. Handig hulle oor aan die volk vir vinnige voltrekking van vonnis

BullsBabe ·

Dis ‘n GROOT grap…HaHa!!!! Lewenslank….HaHa!!!! Kan mens dit eet???? Die program “Released to Kill” op DSTV MOET GROOT ASB ‘n draai in SA kom maak……hul sal baie geld maak om te sien wat hier gebeur…….want hier word die meeste indien nie almal nie, weer “released to kill” en hul leef dit met trots uit!!!! SA sal heeldag en aldag op TV wees……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.