‘Ramaforie’ toe eintlik groot flop

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Gauteng Department of Sport, Arts, Culture and Recreation/Facebook)

Die sogenaamde “Ramaforie” en die aanhaal van “Thuma mina” ná Cyril Ramaphosa se verkiesing tot staatspresident in Desember 2017 het eindelik vir miljoene mense op teleurstelling uitgeloop. Suid-Afrikaners is armer as ooit, korruptes loop steeds skotvry en die land se ligte is meer af as aan.

Ten spyte hiervan is pres. Cyril Ramaphosa meer gewild as die ANC. Maar dit is kwalik ʼn prestasie, sê politieke kenners.

“Cyril Ramaphosa het die vermoë om dit wat oor is van die ANC bymekaar te hou. Dit maak egter nie van hom ʼn goeie staatspresident nie,” sê André Duvenhage, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit.

Duvenhage gaan sover om te sê dat Ramaphosa een van Suid-Afrika se die swakste staatspresidente nóg is.

“Ramaphosa het nie die vermoë om moeilike en ongewilde besluite te neem nie. Al wat hy kan sê is dat hy onder moeilike omstandighede ʼn diverse ANC bymekaar gehou het.”

Oor Ramaphosa se nalatenskap sê prof. Ntsikelelo Breakfast, politieke ontleder verbonde aan die Nelson Mandela-Universiteit in die Oos-Kaap: “Om eerlik te wees, ek weet nie waarvoor hy onthou sal word nie.

Daai ene … hy tree nie beslissend op nie.

“Ek kan nie sien dat hy oor die wil óf die vermoë beskik om die Zondo-kommissie se aanbevelings te implementeer nie,” sê Duvenhage.

Dít nadat Ramaphosa met sy verkiesing as ANC-president hand en mond belowe het om korrupsie daadwerklik te pak.

Breakfast onthou dat Ramaphosa op 18 Desember 2017 tot president verkies is met die belofte van “goeie regering, ekonomiese groei en ontwikkeling”.

Pres. Cyril Ramaphosa destyds tydens sy verkiesingsveldtog in Kaapstad. (Foto: Henk Kruger/ANA)

Daar is destyds groot gewag gemaak van die morele beslistheid wat sy termyn sou kenmerk. Tydens sy aanvaardingstoespraak het Ramaphosa groot klem gelê op die beslistheid waarmee daar in die ANC teen korrupsie opgetree moet word, asook waarmee die belange van die land bevorder moet word.

In die afwesigheid van daadwerklike optrede het Ramaphosa se gewildheid egter begin taan. Die verbrokkeling van sy beloftes – ekonomies, moreel en polities – het gou die kenmerke van sy presidensie begin word.

“Niks daarvan het gebeur nie,” sê Breakfast. “Ons het nie ʼn verandering ten goede gesien nie. Trouens, ons is slegter daaraan toe.”

Die rand het einde 2017 op ʼn slegte dag naastenby R12 teenoor die dollar gekos. Vandag betaal Suid-Afrikaners ver meer as R19 vir ʼn enkele Amerikaanse dollar.

Duvenhage sê Suid-Afrika sit te midde van swaar tye en voortslepende kragonderbrekings boonop met ʼn afwesige president.

President Cyril Ramaphosa tydens die ANC se 55ste nasionale verkiesingskonferensie by Nasrec in Johannesburg (Foto: LUCA SOLA / AFP)

Begin van die einde?

Onder sy leierskap het werkloosheidsvlakke rekordhoogtes bereik en die land het per capita armer geword. Ramaphosa het ook nie die beloofde buitelandse beleggings laat realiseer nie. Die Eskom-krisis het verdiep, beurtkrag het tot ongekende vlakke toegeneem, misdaad gedy en sy regering se reaksie op die Covid-19-pandemie het grootskaalse magsmisbruik tot gevolg gehad.

Die begin van die einde het egter in Junie verlede jaar gekom toe Arthur Fraser, ʼn noue bondgenoot van oudpres. Jacob Zuma en omstrede voormalige intelligensiehoof, strafregtelike klagte teen Ramaphosa aanhangig gemaak het. Die klagte het verband gehou met die diefstal van miljoene dollar wat glo in rusbanke op Ramaphosa se wildsplaas Phala Phala in Limpopo versteek was.

Duvenhage sê dit is daarom baie interessant dat Ramaphosa tans meer gewild is as die gemiddelde ANC-politikus.

“Dit maak van Ramaphosa ʼn strategiese bate met die oog op die komende verkiesing. Dit maak nie van hom ʼn goeie staatspresident nie, maar wel waardevol vir die ANC.

En dít sê vir jou hoe arm is die ANC wat leierskap betref.

Prof. Dirk Kotzé, politieke ontleder verbonde aan Unisa, sê Ramaphosa is ʼn swak kommunikeerder.

Hy vergelyk Ramaphosa se leierskapstyl met hoe ʼn luislang sy prooi vang: veel minder indrukwekkend as die wyse waarop ʼn leeu sy prooi vang – maar steeds doeltreffend.

“Die resultate is dieselfde maar die proses is dikwels verskillend. Die proses is wat die vertroue bou. En dít is Ramaphosa se probleem. Hy skep nie altyd vertroue in die wyse waarop hy besluite neem nie.”

Kotzé tree egter vir die staatspresident in die bresse wanneer hy daarop wys dat Ramaphosa ʼn veel beter verteenwoordiger van Suid-Afrika is as Zuma.

Hy vergelyk Ramaphosa se aansien in die buiteland met dié van oudpres. Thabo Mbeki.

“Internasionaal gesproke is Cyril Ramaphosa hoogs suksesvol … Hy het reeds vier staatsbesoeke vanjaar afgelê. Dit is ongekend baie.

“Sy groot probleem is binnelands en nie in die buiteland nie.”

Hilda Mulayo, ʼn veteraan van die ANC-vroueliga en voormalige skoolmaat van pres. Cyril Ramaphosa by die ANC-verkiesingskonferensie in Desember 2022. (Foto: Marco Longari/AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Nie Verbaas ·

Die hele ANC is en was nog altyd n reuse korrupte flop met absoluut geen vermoë om te regeer nie.

Gaitsigubib ·

Ag nee, ons praat mos hier van oom Cyril….en hy is self n boer. Hy sal mos nooit mense se grond wil vat sonder vergoeding nie….Wat het dan nou gebeur?

Di ·

Ongelukkig het ek GEEN respek vir die korrupte ANC nie. Hulle het die pragtige land verwoes en die agteruitgang vind steeds op ‘n daaglikse basis plaas.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die land is net té uitgestrek en té divers om as eenheid te bestuur. Die wittes kon dit nie eers doen nie. Ons moet ontbondel.

anko ·

Gaan nie oor ras nie, gaan oor leierskap wat daar tans buite beheer is. Swak kommunikasie, net leë beloftes en niks verbeter nie. Net jammer die ouer gardes word omgekoop met KFC. T-hemp en kêp.

Republikein in die Wes Kaap ·

Dan was daar mos 30 plus jaar ook swak leierskap? Etnisiteit was, ís en sal altyd ‘n faktor wees.

Carl ·

Hy is useless. Hy lieg heeltyd en die ANC is vir hom belangriker as Suid Afrika. ‘n Jong Xhosa het vir my gese, “Hoe gouer hy gaan hoe gouer val die ANC”
Die ANC het geen ander leier met kredibiliteit nie.

Eugene ·

Ek het Groot geword Onder PW BOTHA se regering, nie hierdie gemors regering nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.