Ramaphosa ontmoet met hoofde wat staatsinstellings moet regruk

Pres. Cyril Ramaphosa by die vergadering met hoofde van verskeie staatsbeheerde instellings. (Foto: @SA Gov News/Twitter)

Pres. Cyril Ramaphosa het die belangrike rol van staatsbeheerde ondernemings (SBO’s) benadruk by ʼn vergadering met meer as 20 uitvoerende hoofde van dié instellings.

“Die vergadering het meer lig gewerp op verskeie kritieke punte wat die vermoëns van SBO’s om groei en ontwikkeling te dryf, beperk. Dit wissel van onvoldoende kapitalisering en swak bestuur, tot verouderde wetgewing en politieke inmenging.

“As die regering is ons daartoe verbind om met die leiers van staatsbeheerde ondernemings en hulle belanghebbendes te werk om dringend dié probleme op te los,” het Ramaphosa in ʼn verklaring gesê.

Van die ondernemings by die vergadering sluit in Acsa, Alexkor, Armscor, ATNS, die Sentrale Energiefonds, DBSA, Denel, Eskom, die Nywerheidsontwikkelingskorporasie, die Landbank, Nersa, PetroSA, Prasa, Rand Water, SA Express, SAL, SAUK, Safcol, Sanral, die poskantoor, die Trans-Caledon-tonnelowerheid, Transnet en Umgeni Water.

Talle van dié SBO’s steier al jare lank onder enigiets – van bewerings van korrupsie, tot tenderongerymdhede en enorme skuld.

Vuyani Jarana (regs), hoof van SAL, het pas bedank. Jarana het ook die vergadering bygewoon. (Foto: @SA Gov News/Twitter)

SAL se uitvoerende hoof, Vuyani Jarana, het die afgelope week bedank. Hy het in sy bedankingsbrief harde woorde gehad omtrent die situasie by die lugredery en onder meer gesê die gebrek aan verbintenis om die staatslugdiens te finansier, is besig om die implementering van die omkeerstrategie stelselmatig te ondermyn. Jarana se aankoms by die lugredery in November 2017 is verwelkom en het gevolg op verskeie leierskapskommelinge en ʼn rits korrupsieskandale onder die oudvoorsitter Dudu Myeni.

Eskom se hoof, Phakamani Hadebe, het verlede maand bedank, net ʼn jaar nadat hy aangestel is. Die kragverskaffer gaan al jare lank gebuk onder probleme soos ʼn enorme skuldlas, kommer oor volhoubaarheid en beurtkrag.

Die SAUK se bedryfshoof, Chris Maroleng, is in April in die pad gesteek, nadat daar die afgelope paar jaar ook heelparty raadskommelings en bewerings van korrupsie was. Die Zondo-kommissie van ondersoek hoor vandeesweek nóg getuienis aan – onder meer oor kosbare argiewe wat vir spotgoedkoop aan die omstrede Gupta’s se ANN7-nuuskanaal verkoop is.

Die poskantoor moet van bankrotskap gered word, terwyl Transnet deurloop onder bewerings van tenderbedrog wat miljoene rande beloop. En dis net van die probleme by staatsbeheerde ondernemings.

Ramaphosa het die vergadering aangevra om eerstehands by hoofde te hoor watter struikelblokke hulle ervaar.

Moeilike tye vir staatsbeheerde instellings. Mark Barnes (middel), hoof van die poskantoor, tydens die vergadering met Ramaphosa. (Foto: @SA Gov News/Twitter)

Verskeie hoofde het gesê daar is ʼn behoefte aan ʼn beter definisie van die mandate van staatsbeheerde ondernemings en dat regeringsbeleid meer doeltreffend gebruik moet word om SBO’s in die uitvoering van hulle pligte te steun.

SBO-hoofde is bekommerd oor die wetlike en regulatoriese omgewing waarin hulle bedryf word en sê dit is dikwels ongeskik vir hulle spesifieke behoeftes. Daar is teenstrydighede wanneer rade aangestel word en onsekerheid oor die oorsigverantwoordelikheid van staatsverteenwoordigers by dié ondernemings, het Ramaphosa gehoor.

Daar is by die vergadering toegegee dat SBO’s beduidende hulpbronne en vermoëns het wat, as dit beter gekoördineer en bestuur word, ʼn veel groter impak op ekonomiese groei en werkskepping sal hê.

Die ANC het net verlede week gesê werkloosheid is ʼn nasionale krisis.

“Ek waardeer die openhartige en reguit manier waarop die uitvoerende hoofde hulle kommer gelug het. Hulle insig en voorstelle is werklik verfrissend en gaan baie doen om staatsbeheerde ondernemings te vernuwe en te verseker dat hulle die werk wat hulle veronderstel is om te doen, behoorlik doen,” het Ramaphosa gesê.

Die insette wat die uitvoerende hoofde tydens die vergadering met die president gelewer het, gaan deel vorm van ʼn SBO-raad, wat Ramaphosa vroeër vanjaar bekend gestel het, wat politieke oorsig en strategiese rigting moet gee om die ondernemings te herposisioneer en te vernuwe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

ne ·

He-he-he. Gaan doen eers ‘n leefstyl oudit op elkeen. Meet sommer hulle vingers ook.

Kallie ·

Hulle wou mos ervare en hardwerkende Afrikaners uitwerk. Verkoop die SOEs of maak hulle toe.

Danie ·

Vraag is: Waarom klou die Staat so aan die instellings? Meeste van hul se stigtingsdoele is lankal reeds uitgedien!

marous ·

Dit moet verskriklik lekker wees om in ‘n borrel te leef en boonop baie geld te verdien daarvoor .

Ontsteld ·

Nie een van hulle , van Ramp af tot heel onder het die wil of vermoee om enigiets reg te maak nie..Leef te lekker en het vrede met die res.

Jack Sadie ·

Hulle het byeengekom , gepraat en oor die datum van die volgende vergadering besluit. Voila!

Gert van Wierdapark ·

M/Media vind asb dringend vir SA uit wat het met Dudu Myeni wat SAL vlugflou “bestuur” (opgefop) het, gebeur = waar is sy tans ingegrawe ens!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.