Ramaphosa oor skole: Ouers, onnies en kinders se vrese te verstane

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa het gesê geen skool moet heropen voor al die nodige voorsorgmaatreëls getref is nie.

Gr. 7‑ en gr. 12-leerders sou vandag teruggekeer het skool toe. Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het egter Sondagaand aangekondig dat dié leerders nou eers op 8 Junie sal terugkeer skool toe aangesien alle skole nog nie gereed is om leerders te ontvang nie. Skole in die Wes-Kaap sal egter vandag heropen.

Ramaphosa skryf in sy weeklikse nuusbrief dat ouers, onderwysers, beheerliggame en die regering dit eens is dat geen skool weer moet oopmaak totdat al die nodige voorsorgmaatreëls getref is nie.

“Na 65 dae van ’n landwye afsonderingstydperk begin die land vandag ’n nuwe fase in sy stryd teen die koronavirus. Baie ekonomiese en sosiale aktiwiteite begin weer, insluitend ’n gefaseerde hervatting van opvoeding.”

Volgens Ramaphosa het hy al voorheen benadruk dat die regering ’n geleidelike benadering volg, gelei deur advies van wetenskaplikes, die realiteite van wat regtig plaasvind en konsultasies met belanghebbendes.

“Die afgelope paar weke wat ons gereed gemaak het om terug te keer skool toe, het ons uitgebreide en gedetailleerde gesprekke gevoer met alle rolspelers in die onderwyssektor. Dit het ons benadering tot hierdie ingewikkelde en uitdagende taak gelei.

Belanghebbendes, insluitend onderwysers en ouers, het die afgelope paar dae hul kommer uitgespreek oor skole se gereedheid om kinders terug te ontvang. Ons het hulle gehoor, ons verwelkom hul bydraes en ons doen stappe om aandag aan hul bekommernisse en voorstelle te gee.”

Ramaphosa het gesê dit is te verstane dat talle ouers en versorgers gemengde gevoelens het oor die heropening van skole. Daar is verligting dat kinders voort kan gaan met hul opvoeding nadat hulle vir lank nie in die klaskamers was nie.

“Maar ouers, opvoeders en leerders self is ook bang. Ouers wil die versekering hê dat die nodige voorsorgmaatreëls getref is om leerders voldoende te beskerm. Die veiligheid van ons jong burgers vanuit ’n gesondheid- en fisieke perspektief is nie onderhandelbaar nie. Dit is ons hoogste prioriteit.”

Die onderwysowerhede werk volgens Ramaphosa hard om die nodige gesondheid- en veiligheidsmaatreëls gereed te hê vir die geleidelike heropening van skole en hoëronderwysinstansies.

“Die dokumentasie rakende standaardprosedures is aan alle skole verskaf. Hierdie standaardbedryfsprosedures handel oor kwessies soos opleiding en oriëntasie van mense wat siftingstoetse doen, roosteropstelling en die opstel van klaskamers om aan sosiale distansiëringsvereistes te voldoen.

“Ons gaan voort met die aflewering van persoonlike beskermende toerusting en om die beskikbaarheid van water- en sanitasiedienste te verseker. Opvoeding sal, sodra dit begin, onder streng voorwaardes met ’n korrekte beperkte aantal leerders en studente plaasvind.”

(Argieffoto)

Ramaphosa het gesê daar moet deursigtigheid wees oor die vlak van gereedheid van elke skool. Dit beteken elke rolspeler moet die korrekte inligting kan kry oor of elke skool gereed is om leerders te ontvang.

“Ek wil veral ouers en versorgers salueer vir die rol wat hulle die afgelope twee maande gespeel het. Met skole wat gesluit was, moes hulle daagliks ’n groter verantwoordelikheid neem vir die opvoeding en ontwikkeling van hul kinders. Baie ouers en versorgers moes leerlinge tuis help met hul skoolwerk en hulle het sonder twyfel ’n groter waardering gekry vir die harde werk wat elke dag deur ons onderwysers gedoen word.”

Ramaphosa het ʼn beroep gedoen op ouers om sodra die afsonderingstydperk verby is, voort te gaan om ʼn meer aktiewe rol te speel in die opvoeding van hul kinders, hetsy deur by die skool se beheerliggaam betrokke te raak of ander dienste aan te bied.

“Alhoewel ons angstig kan voel dat ons seuns en dogters ons sorg verlaat, moet ons moed hou en weet  dat alles gedoen word om hulle te beskerm. As ouers het u ons toevertrou met die welstand en veiligheid van u kinders. Dit is ’n verantwoordelikheid wat ons nie ligtelik opneem nie. In die dae en weke wat kom, sal ons die terugkeer na skole noukeurig monitor.”

Ramaphosa het gesê indien protokolle gevolg word en alle voorsorgmaatreëls gehandhaaf word, sal die risiko’s wat die koronavirus inhou, doeltreffend verminder word. “Uiteindelik is dit ons persoonlike optrede en ons gesamentlike pogings wat ons kinders sal veilig hou. Wat ons ook al volgende doen, moet ons saam doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

JohanR ·

Hoekom stel julle nie ‘n voorbeeld vir Suid Afrika en skool kinders, en gaan terug parliament toe nie?

marius ·

Hul oggend tee tyd , ontbyt tyd , etenstyd , middag tee tyd en aand ete tyd praatjies , stem glad nie ooreen nie . Duidelik dat hulle soos tolbossies in die Karoo is . Die hele spul !

Francois ·

Dis belaglik. Wat van die skole wat uit hulle pad gegaan het om als skoon te kry om vandag oop te maak. Dit is meestsl die agter geblewe skole wat niks gedoen het want hulle word mos gratis betaal. Wat het hulle gedoen om reg te wees. Ek se as n skool reg is laat hy sy deure oopmaak

Janc ·

Nou wat van die skole wat wel reg is…..? Ek voel nog steeds dat dit elke ouer se keuse is of hulle hul kinders wil skool toe stuur of nie. Ons kan ook nie meer track hou van wat gaan wees, wat moet wees en wat nog kom nie….. Julle stel datums vas vir belangrike goed en almal maak reg daarvolgens, net sodat ons ‘n dag voor die tyd moet hoor dit gaan nie meer gebeur nie. Julle moet vir my bietjie wakker skrik hoor! Die regering het ook baie geld uit ons uit en dus voel ek dit was hulle plig om seker te maak dat skole in arm gebiede reg moes wees vir vandag. Maar weer eens kan hulle nie provide nie. Whats new?

Boortor ·

Ons is reg. Nee ons is nie reg nie. Ons het nog tyd nodig. Nou is ons reg. Nee nog nie. Ons sal more reg wees. Nee ons sal eers oor twee weke reg wees. Nou is ons reg. Dit gaan so van die begin af. Hulle sukkel al amper 80 dae om reg te wees en hulle is nog nie naby “reg” nie! PFFFT!!!!

JohanR ·

Blybaar Boortor is daar ‘n veerpyltjiebord in die NCCC kantoor waarop hulle 501 speel, en dan nou en dan waaneer dit kom by besluit tyd, dan gooi hulle pyltjies. Vir elke drie pyltjies wat die ander ministers gooi kry Doek 6 pyltjies. As die besluite klaar is dan gaan hulle terug na 501.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.