Ramaphosa sal gou eerste staatskapingsverslag ontvang

Adjunkhoofregter Raymond Zondo. Foto: Itumeleng English/African News Agency (ANA)

Pres. Cyril Ramaphosa sal Dinsdag amptelik die eerste deel van die verslag van die Geregtelike Kommissie van Ondersoek na Staatskaping, Korrupsie en Bedrog in die staatsdiens ontvang.

Adjunk-hoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, sal die eerste deel van die verslag by die Uniegebou in Pretoria aan die president oorhandig. Dit volg ná die uitspraak van die Gautengse hooggeregshof op 28 Desember 2021 wat die termyn van die kommissie tot 28 Februarie 2022 uitgestel het.

Die kommissie het in sy hofdokumente aangedui dat hy die verslag in drie dele aan die president sal oorhandig: die eerste sal teen die einde van Desember 2021 ingedien word, die tweede deel aan die einde van Januarie 2022 en die laaste deel teen die einde van Februarie 2022.

Alhoewel die kommissie aangedui het dat hy reeds Vrydag (31 Desember 2021) gereed is om die eerste deel van die verslag te oorhandig, sal die formele oorhandiging eers vroeg volgende week plaasvind weens die rouperiode ter ere van wyle aartsbiskop Desmond Tutu.

Volgens die uitspraak van 28 Desember het die president tot 30 Junie 2022 kans om die verslag by die parlement in te dien met ʼn aanduiding van sy voornemens wat betref implementering van die kommissie se aanbevelings.

Die president het aan die hof gesê hy sal eers ten volle insig hê oor die implikasies van die verslag nadat hy die laaste deel van die verslag ontvang het. Hy sal dan ʼn plan kan saamstel oor die aanbevelings.

Pres. Ramaphosa het bepaal dat elke deel van die verslag dadelik aan die publiek bekendgemaak sal word ná dit deur die kommissie aan die president oorhandig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.