Ramkraal-ondersoek verwelkom, maar vrae oor tydsberekening

Roy Jankielsohn, DA-leier in die Vrystaat (Foto: Anja van der Merwe)

Die DA in die Vrystaat het ʼn proklamasie deur pres. Cyril Ramaphosa, dat die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) die Ramkraal-projek mag ondersoek, verwelkom – maar die party sê hy het nietemin vrae oor die tydsberekening daarvan.

“Hoekom nou, terwyl Ace Magashule dreig om die ANC in twee te skeur, en nie vyf jaar gelede nie,” sê Roy Jankielsohn, die DA se premierskandidaat in die provinsie.

Dié ondersoek moes lankal gedoen gewees het, sê Jankielsohn. Die DA het die voormalige Vrystaatse speaker al in 2013 gevra om die saak te ondersoek, ʼn versoek wat die ANC gestuit het. “Op aandrang van die DA het die huidige speaker, Ntombizanele Sifuba, ʼn ad hoc-komitee aangewys wat aanbeveel het dat die saak na wetstoepassingsowerhede vir verdere ondersoek verwys word,” sê hy.

Die DA het die omstrede Ramkraal-projek al in 2018 in ʼn voorlegging aan die Zondo-kommissie geopper. Dit het verskeie bewerings van wangedrag deur Magashule, voormalige Vrystaatse premier, bevat wat in tussentydse bevindings deur die ouditeur-generaal bevestig is. Dit het ingesluit dat:

  • Die Vrystaatse regering of wetgewer nooit die Ramkraal-projek goedgekeur het nie.
  • Die perseel teen 2019 steeds nie aan die nasionale departement van openbare werke of die Vrystaatse wetgewer oorhandig is nie.
  • Geen lewensvatbaarheidstudie gedoen is voor R61 miljoen aan die projek bestee is nie.
  • Daar van die normale prosedure om konsultante aan te wys, afgewyk is.
  • Geen diensvlakooreenkomste tussen die departement en konsultante onderteken is nie.
  • ʼn Maatskappy aangewys is om geboue te sloop en ʼn veiligheidsheining van sowat R6,4 miljoen op te rig, hoewel hy nie aan die vereistes voldoen het nie.
  • Sloping gedoen is voor ʼn permit daarvoor uitgereik is.
  • Dit lyk of R107 miljoen bestee is, sonder dat daar enigiets op die grond daarvoor gewys kan word.

“Die DA het talle lêers wat oor meer as ʼn dekade strek, wat insluit verslae van die tesourie en ander inligting rakende die Ramkraal-projek. Die inligting sal aan die SOE voorgelê word om die ondersoek te steun,” sê Jankielsohn.

“Die DA bly verbind tot die stryd teen korrupsie en sal dié ondersoeke steun wat gemik is op oortreders wat ons inwoners se geld verkwis het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marthinus Johannes ·

n Politieke slenter kort voor die verkiesing om stemme te werf en terselfde tyd wreak te neem op Ace vir waarmee Hy besig is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.