‘Ramp dreig’ oor tekort aan slangteengif

Reptielkenners waarsku dat die lae voorraad slang-teengif in Suid-Afrika op ‘n ramp afstuur. (Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Deur Liezl Human, GroundUp

Slangkenners waarsku oor ʼn groeiende tekort aan polivalente slangteengif wat in Suid-Afrika vervaardig word en sê die vervaardigingsagterstand veroorsaak wagtye van minstens ses maande vir die lewering van teengif wat ʼn lewe ná ʼn slangbyt kan red.

Die teengif word beskou as die beste teenvoeter vir die behandeling van giftige slangbyte en word in Johannesburg deur die Suid-Afrikaanse Entstofprodusente (SAVP), ʼn filiaal van die nasionale gesondheidslaboratoriumdiens (NHLS), vervaardig.

Die teengif word gebruik in die behandeling van slangbyte van onder meer die swartmamba, groenmamba, Jameson se mamba, geelslang, Mosambiekse spoegkobra, rinkhals, pofadder en gaboenadder.

Die afgelope paar maande het ʼn enorme produksie-agterstand by die SAVP gelei tot tekorte by gesondheidsfasiliteite, veral by veeartse, sê Johan Marais, reptielkundige en uitvoerende hoof van die Afrika-slangbytinstituut.

“Mense se honde gaan dood omdat veeartse die afgelope agt maande nie teengif kan koop nie. Dit is werklik ʼn groot probleem,” sê Marais.

Volgens hom het hy ook onlangs met ʼn mediese dokter gepraat wat glad nie teengif in die hande kon kry nie.

Daar is jaarliks nagenoeg 3 500 slangbyte in Suid-Afrika en 800 mense word per jaar hiervoor in hospitale behandel. Hiervan benodig slegs 10% behandeling met teengif en dit wissel van tussen ses tot 20 flessies per pasiënt.

Na raming is daar omtrent tien sterftes weens slangbyte elke jaar. Die jongste data van Statistieke Suid-Afrika wys dat daar in 2018 altesame 47 sterftes weens “kontak met giftige diere en plante was”.

‘n Mosambiekse spoegkobra is geweldig giftig. (Foto: African Snakebite Institute)

Marais sê ʼn slangbyt van ʼn pofadder of Mosambiekse spoegkobra moet so gou moontlik behandel word, omdat dit ernstige weefselskade kan veroorsaak. Indien dit te lank onbehandeld bly, kan ʼn pasiënt etlike operasies benodig om die skade te herstel.

Hy sê ook die situasie het die afgelope agt maande vererger.

Hoewel dit vantevore reeds ʼn probleem was, was die probleme met toegang tot teengif nog nooit so beroerd soos nou nie.

Nog ʼn uitdaging is dat Suid-Afrika se polivalente teengif ook deur ander Afrika-lande soos Kenia en Senegal gekoop word. Kenia vervaardig nie tans sy eie teengif nie en ondervind nagenoeg 700 sterftes weens slangbyte elke jaar – dit is veel meer as wat in Suid-Afrika aangemeld word.

Mike Perry, stigter van die organisasie African Reptiles and Venom, verskaf onverwerkte slanggif aan die SAVP sodat in die vervaardiging van polivalente teengif gebruik kan word. Perry sê dit neem ʼn paar jaar om teengif te vervaardig: die gif wat hy in 2023 verskaf, sal eers oor vyf jaar in teengif beskikbaar wees.

Perry verduidelik dat die slanggif wat hy aan die SAVP lewer in lae dosisse en oor lang tydperke in perde ingespuit word. Wanneer die perde hiperimmuun teen die gif word, word bloed van die perde getrek en die teenliggaampies teen die gif word van die bloed geskei.

Mzimasi Gcukumana, woordvoerder van die NHLS, sê die SAVP “werk sonder ophou” om die agterstand met die produksie van teengif in te haal.

Die teengif word vir die behandeling van minstens tien giftige slangbyte, soos dié van ‘n pofadder, gebruik. (Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Gcukumana sê beurtkrag het ʼn negatiewe uitwerking op produksie gehad, maar dat die laboratorium sommige provinsiale gesondheidsdepartemente en sommige private fasiliteite, waaronder 13 veeartspraktyke, in Desember van teengif voorsien het om te verseker daar is voldoende voorraad landwyd.

Die laboratorium sê hy beoog om teengif op strategiese plekke landwyd te stoor.

Foster Mohale, woordvoerder van die nasionale departement van gesondheid, sê die departement het nie tans ʼn ooreenkoms met die teengifvervaardiger nie, ten spyte daarvan dat dit “noodsaaklike medisyne” is.

Mohale sê die SAVP het amptenare ingelig dat probleme om middels vir die teengif in die hande te kry, die rede vir die klein voorraad is.

Mohale kon egter geen statistieke gee nie omdat elke provinsie teengif regstreeks by die SAVP aankoop.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp gepubliseer en word met vergunning hier gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

isabelle ·

lelike storie, ….net so lelik soos die slang hoop die teengif tekort word gou uitgesorteer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.