Ramptoestand kan sneuwel in hof

Die Kendal-kragsentrale in Mpumalanga. (Argieffoto: Eskom)

Regskenners het min hoop dat die pas afgekondigde ramptoestand oor die kragkrisis ʼn regsgeding sal kan deurstaan. Dit is omdat bestaande wetgewing reeds voorsiening maak vir dít wat die regering met die verklaring van nasionale ramptoestand weens die kragkrisis wil bereik.

Die prokureursfirma Webber Wentzel sê in ʼn regsmening dit is “uiters verrassend” dat die regering die verklaring van ʼn nasionale ramptoestand in die eerste plek nodig het om samewerking tussen departemente te verseker. Die regsmening is opgestel deur Mzukisi Kota, Lubumba Kamukwamba, en Lize-Mari Doubell.

Die spesifieke regulasies oor die ramptoestand moet nog bekend gemaak word, maar die regslui sê daar gaan heelwat hekkies wees as die regering se plan ʼn regterlike ondersoek wil oorleef.

“Daar was ʼn versuim om die bestaande regulatoriese raamwerk en beleid – om ontslae te raak van beurtkrag, infrastruktuurprobleme en ongebreidelde vandalisme en plundering by kragsentrales – in  werking te stel. Die verklaring van die ramptoestand voldoen dus nie aan die Wet op Rampbestuur nie,” lui hul mening.

“Daar is ook ʼn opvallende afwesigheid van ‘ander spesiale omstandighede’ om die besluit te regverdig.”

Die regskenners waarsku dus dat enige regulasies en direktiewe wat nog ingevolge die verklaring van die ramptoestand uitgevaardig kan word, moontlik in die hof hersien en ter syde gestel kan word.

Die DA en Solidariteit het reeds aangekondig hulle is op pad hof toe om die inwerkingstelling van die ramptoestand te betwis – en verskeie ander instellings kan moontlik in hul voetspore volg.

ʼn Soortgelyke aansoek is tydens die Covid-19-pandemie ingedien toe Webber Wentzel die verbod op die verkoop van tabakprodukte suksesvol namens die maatskappy Batsa betwis het.

Pres. Cyril Ramaphosa het die aankondiging oor die ramptoestand verlede week in sy staatsrede gedoen en ʼn afkondiging van die ramptoestand in die Staatskoerant het gevolg.

Te midde van rekordhoë beurtkrag is Suid-Afrikaners egter toenemend skepties oor die regering se vermoë om die krisis op te los.

“Daar is kommer dat hierdie uiterste wetgewende maatreëls, wat parlementêre oorsig oor wetgewing opskort, die gepaste oplossing vir ʼn 15 jaar lange ‘krisis’ is. Daar is ook kommer oor die moontlikheid vir bedrog en korrupsie, soos gesien tydens die noodverkryging van persoonlike beskermingstoerusting (PPE) tydens die hoogtepunt van die Covid-19-pandemie,” sê die regskenners.

Wat is ʼn ramp?

Die Wet op Rampbestuur definieer ʼn “ramp” as ʼn toenemende of skielike, wydverspreide of plaaslike, natuurlike of mensgemaakte gebeurtenis. Dit veroorsaak dood, besering of siekte, skade aan eiendom, infrastruktuur en die omgewing (of dreig om dit te veroorsaak), en veroorsaak aansienlike ontwrigting van die lewe van ʼn gemeenskap.

ʼn Ramp word voorts gedefinieer as van só ʼn omvang dat diegene wat daardeur geraak word, dit nie kan hanteer deur net hul eie hulpbronne te gebruik nie. Ander belangrike vereistes sluit in:

  • bestaande wetgewing en gebeurlikheidsplanne maak nie behoorlik voorsiening vir die doeltreffende hantering van die ramp nie; of
  • ander spesiale omstandighede regverdig die afkondiging van ʼn nasionale ramptoestand.

Op grond hiervan, sê regskenners, is dit hoogs aanvegbaar dat daar voldoen is aan die vereistes van die verklaring van ʼn nasionale ramptoestand soos in wetgewing vervat.

In sy staatsrede het Ramaphosa die verklaring geregverdig op dié gronde dat dit ʼn doeltreffende reaksie “gekoördineer vanuit die sentrum van die regering” moontlik sal maak. Dit sal byvoorbeeld beteken ondernemings in die voedselproduksie, -berging en -kleinhandelverskaffingskettings word met opwekkers en sonpanele gehelp.

Die regering beoog ook om belangrike infrastruktuur, soos hospitale en waterbehandelingsaanlegte, van beurtkrag kwyt te skeld, energieprojekte te versnel en regulatoriese vereistes te beperk.

Die groot vraag is dít: Waarom is die verklaring van ʼn ramptoestand nodig om hierdie maatreëls in werking te stel?

Watter wetgewing bestaan reeds?

Die Wet op die Regulering van Elektrisiteit magtig die minister van minerale bronne en energie reeds om nuwe kapasiteit te bekom om die ononderbroke verskaffing van krag te verseker.

“Na ons mening bevat die wetgewing reeds spesiale maniere om die ononderbroke verskaffing van krag te verseker. Dit kan ingespan word om die energiekrisis op te los,” sê die regslui.

Daar is niks in die verklaring van ʼn nasionale ramptoestand wat vinniger optrede moontlik maak as wat reeds ingevolge die Wet op die Regulering van Elektrisiteit moontlik is nie.

Die Wet op Openbare Finansiële Bestuur bevat ook spesiale maatreëls vir ʼn krisis. Dit magtig die minister van finansies onder meer om geld te bewillig waarvoor daar nie aanvanklik begroot is nie.

“Dit is ʼn buitegewone mag wat die gewone toewysing van geld deur die parlement omseil en die minister van finansies in staat stel om doeltreffend te reageer op ʼn situasie van dringende of noodbehoefte,” sê die regskenners.

Die nasionale tesourie kan ingevolge ʼn spesifieke bepaling tydens ʼn “noodsituasie” (ernstige en onverwagte situasie) of “dringende saak” boonop afwyk van gewone mededingende tenderprosedures.

ʼn Dringende situasie, sê die regslui, ontstaan egter nie “weens onbehoorlike beplanning nie”.

Die enigste kwessie wat nog effens onduidelik is, is die koördinering van planne waarna Ramaphosa verwys het. Die kenners meen egter ook dít kan bereik word deur die gebruik van die Wet op Infrastruktuurontwikkeling – minstens wat betref die koördinering van infrastruktuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

annie ·

En as die ramptoestand opgehef word ná groot geld aan regslui en die ANC vorder nie met die kragsituasie nie, sê hul die opposisie het al hul aksies laat sneuwel/teëgestaan. En ons is weer by no 1… nêrens of eerder ‘n erger noodgeval. Die ANC weet nie en kan nie die probleem tackle nie vandaar die teruggryp na vorige krissushantering…ah, die virus! En antie-tannie! Die verkeerde resep is in 1994 gebruik en die koek is ‘n flop! Baie soet versiersuiker en blink tierlantyntjies san nie help nie!

Flip ·

“N Ramp veroorsaak ontwrigting van die lewe van n gemeenskap.”
Die volgende gemeenskappe (besighede) is ontwrig deur swak bestuur en ek dink ek mis n paar….
Transner, Yskor, SAA, Danel, Poskantoor, Spoornet, SAPS, SANDF…..
Die ANC moet dan M.A.W. as n ramp verklaar word aangesien hulle dit swak bestuur.

Ramp-a-promises is n grap.

Magda ·

Enigste ramp is Di ANC RAMP TOESTAND, RAAK ONTSLAE VD RAMP EN AL DI SUID AFRIKANERS SE PROBLEME IS OPGELOS.

Heinrich ·

Inteendeel Danie, menige hofsaak het al plaaslike regerings gevorseer om hulle werk te doen. Ek wens ons kon die ANC deur ‘n hof onder kuratorskap van die opposisiepartye plaas om dinge te laat gebeur.

RS ·

…het mos gesê, jy kan nie ‘n ramptoestand aankondig vir treurige bestuur van n onderneming nie. #sakeredding dit is al wat Eskom gaan help en die land.

Kobus ·

Sal graag wil weet hoeveel regskoste (belasting geld) die regering al vermors het met hulle heethoofdige arrogante bestuurstyl

Avalie ·

Ramptoestand? En gerieflik word vergeet van miljoene rand se agterstallige/uitstaande skuld pas afgeskryf in n sekere Gauteng area? Waar is die logika daarin om n ramptoestand aan te kondig kort na so n groot afskrywing…

Elma ·

Soos alles anders waarmee die ANC regering vorendag kom, is die ramptoestand net nog n klug. Dis nie asof Rampies enige nuwe liegte gelieg het as wat hy en sy makkers nog heeltyd doen nie.

Witbaard ·

Ons almal weet mos dat die ramptoestend slegs ingestel is om GROOT gelde te kan kanaliseer na sekere kaders, sonder om die parlement se toestemming te kry.

annie ·

Dit is ‘n totale patetiese spulletjie! Diegene met die know-how het hulself uitgewerk… Self! En nou sit hierdie mense op die kantlyn en skree. En John kán nogal. Was die DA nie eers die Progressiewe Party nie? Wat beteken progressief? (Van die vorige NP’s het ook die jolige kleedkamer begin gebruik.) En toe sit die spul die pot heeltemal mis tydens die 1994 jolly happening! Die geskreeu sal nog vir eeue so kon aanhou… As dit kon. Ons land is op, mense! Soos in kaput!

Papsak ·

Ek stem saam raak ontslae van al die ramp en gedoentes en SA gaan reg kom

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.