Rand tuimel na nog ʼn afgradering

(Argieffoto: Reuters/Reinhard Krause/ANA)

Die rand het tot meer as R19 per dollar verswak nadat die kredietgraderingsagentskap Fitch sy kredietgradering vir Suid-Afrika bekend gemaak het.

Fitch het Suid-Afrika van BB+ na BB afgradeer en ʼn negatiewe vooruitsig daarop geplaas.

Volgens Fitch is die afgradering die gevolg van ʼn gebrek aan ’n duidelike weg na die stabilisering van staatskuld sowel as die verwagte invloed van die COVID-19-skok op die staat se geldsake en ekonomiese groei.

Bianca Botes, uitvoerende direkteur van Peregrine Treasury Solutions, het gesê die afgradering is nie ʼn verrassing nie.

“Dit is in ooreenstemming met wat markte reeds geweet het, swak ekonomiese groei en ’n verswakkende fiskale posisie.

“Die aankondiging deur Fitch kom na die aankondiging deur Moody’s verlede week en is nog ’n harde slag vir die plaaslike ekonomie wat reeds onder druk is.”

Die tesourie het gesê hy neem kennis van Fitch se besluit. Volgens die regering bly hy verbind tot strukturele ekonomiese hervorming om swak ekonomiese groei, die beperkte fiskus en sukkelende staatsbeheerde ondernemings die hoof te bied.

“Die regering gaan verder voort om die maatreëls wat deur pres. Cyril Ramaphosa aangekondig is en wat daarop gemik is om die verspreiding van Covid-19 en die impak daarvan op die ekonomie te beperk, as ʼn prioriteitsaak te hanteer,” het Tito Mboweni, minister van finansies, gesê.

Volgens Mboweni is dit wel waar dat ʼn afgradering ongewenste gevolge vir die hele ekonomie inhou.

“Ons wil alle Suid-Afrikaners verseker dat die regering die uitwerking van Covid-19 bestuur en die impak daarvan probeer minimaliseer. Maatreëls is ingestel om ekonomiese groei te verbeter en die regering se finansies op ’n volhoubare pad te plaas.

“Dit verg noue samewerking en koördinering oor verskillende sektore van die ekonomie, ” het Mboweni gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Stefan ·

Baie slegte nuus, maar dit raak ons nie, ons gaan gewoon verder op die afrika manier.

JC Venter ·

Die realiteit van Suid-Afrika se treurmare is vandag in die ekonomiese seksie van die Afrikaanse koerante te sien, dis nogal ‘n skok, ook word nog ‘n afgradering deur Fitch, soos hierbo, dieper die rommel in bevestig, hier lê erge moeilikheid voor, maar ek lees die volgende op EWN: “The BBC on Thursday heaped praise on South Africa’s “ruthlessly efficient” coronavirus (COVID-19) response and President Cyril Ramaphosa’s leadership.

In an article posted on its website, the broadcaster further said: “Heading the fight here against COVID-19, President Cyril Ramaphosa has emerged as a formidable leader – composed, compassionate, but seized by the urgency of the moment and wasting no time in imposing tough restrictive steps and galvanising crucial support from the private sector.

“And one rung below the president, Health Minister Zweli Mkhize has likewise garnered near universal praise for his no-nonsense, energetic performance, and his sober, deeply knowledgeable, daily briefings.”

JC Venter ·

Maar ek kry die gevoel die media hier by ons, ook die BBC, werk in dié tyd harder om Cyril Ramaphosa se beeld te poets as hyself, nie dat hy nie probeer nie.

Die wyse waarop hy die pandemie aanpak en die resultate behaal, word sodanig deur die media geprys, dat die ANC se gewildheid met die volgende verkiesing die hoogte mag inskiet wat by die stembus weerklank kan vind. Ek glo egter die markkragte, die realiteite van die ekonomie en die toestand waarin die land verkeer sal die mense tot hul sinne bring.

Korona Covid dikteer, neem al die aandag en energie van die mens in beslag en daar is niks wat Tito Mboweni op hierdie stadium aan die ekonomie en ons treurmare kan doen nie.

Werner ·

Wag moenie bekommer nie as die geld opraak dan druk ons net meer

Boortor ·

You just go to the atm and you get the money! So maklik soos dit!

Henk ·

Sommige sal verstaan wat ek gaan sê ; Ek sal seën die wat jou seën en vervloek die wat jou vervloek .
Die het in intensiteit begin toeneem vandat CR die president geword het .

Erik ·

So jy verstaan nie dat CR nie die huidige probleme veroorsaak het nie, maar dat hy Zuma se skade moet probeer herstel nie? En jy verkies m.a.w. Zuma as president? Interessant…

Oros Soros ·

Ons haal Zimbabwe nou vinnig in. Hoe dan anders, met al die plundery en korrup onbevoegdheid van die die regerende party. Die landwye inperking begin die gedaante van ‘n bloedlose staatsgreep aan te neem. Al die mag is nou gesentreerd in ‘n klein groepie.

Erik ·

Ek wonder of ons land sal kan opstaan na hierdie hele storie? Ek twyfel, ek vermoed dit is te laat. Ek is so spyt ek het nie die land permanent verlaat toe ek die kans gehad het nie. Hier is net te veel probleme.

Grassie ·

Ses en twintig jaar van wanbestuur, onbevoegdheid, diefstal, plundering, BEE en kaderbevoordeling is nou besig om sy tol te eis. Hierdie is maar net die begin, hef aan lê nog voor. Die storie dat ons nog eendag ons geldnote vir muurpapier sal kan gebruik klink al minder na net .n storie.

daniel ·

Hierdie finansiele gemors waarin die land hom bevind is die gevolg van misdadigers wat die land regeer het, en daar sit nog steeds van hulle in hoe posisies in die regering wat so gou moontlik verwyder moet word, anders gaan die land tot niet.

Ferdie ·

Eendag gaan Zim grappe maak oor ons geld eenheid soos wat ons grappe gemaak het oor hulle geld!!! En daai eendag is nie ver nie.

Cherokee ·

Dit klink asof Mboweni die skuld vir bankrotskap van Suid Afrika, op covid wil pak. Asof die rand nòu van R10 na byna R20 per $ getuimel het.

DieKriek ·

My pensioen was n uitkeerpolis. Jy kry net wat jy ingesit het. Dit word belê en die rente maandeliks as pensioen uitbetaal. Dit was n baie klein bedrag, ver onder n miljoen. As gevolg van die swak rand kry ek nou R1300 minder per maand as verlede jaar. Hiiiier gaat ons…

Pieter ·

Covid-19 se impak op die wêreld se ekonomie gaan verwoestend wees. Die regering se stilswye rakende medisyne vir die ekonomie is kommerwekkend. Die regering is deel van die ekonomiese probleem en kan dus net die simptome behandel en nie die oorsaak nie.

Jaco ·

ryk wit mense sit by Fitch en gradeer derde wereld lande af net omdat hulle nie hulle ekonomiee soos wit eerste wereld lande bedryf nie. na werk gaan daardie fitch werkers huis toe. geen aanrandings op straat nie. veilige misdaadlose rit op die moltrein. huis is sonder diefwering en alarms.
tuis kry hulle lekker dat hulle derde wereld regerings gestraf het met hulle afgraderings.
intussen vergeet hulle dat die regeringsleiers van daardie derde wereld lande se salarisse so groot is (ramaphosa kry R3.6miljoen per jaar), dat die ekonomiese insinking na die afgradering daardie regeringsleiers glad nie raak nie. Dis net daardie derde wereld lande se gewone mense wat nou swaarkry omdat pryse van alles styg na die afgradering
die hele ding lyk vir my maar erg na rassisme. waarom los hulle lande soos rusland, Belarus, Griekeland ens uit?

Boerkind ·

Jaco – weer eens “ryk wit mense”… As iets verkeerd gaan is dit “wit mense” of “rassisties”… altyd ‘n sondebok – altyd! Wees tog net nugter in jou denke en besef dat die huidige gemors in hierdie land kom van onbekwame regering oor die laaste 20 jaar en finasiële markte sal hierop reageer (lees gerus Dawie Roodt se kommentare hieroor – hy behoort seker te weet – maar jy sal hom seker ook as “wit” afmaak)! Kyk wat gaan gebeur as jou eiendomsreg weggevat word (ook witmense se skuld??) – kyk hoe die Zimbabwe melaatsheid ook in hongersnood en totale chaos hier sal manifesteer… Van Zimbabwe gepraat Jaco… hoe het die land voor Mugabe gelyk?

Jaco ·

diegene wat nie van my kommentaar hou nie, is seker bly elke keer wanneer SA met ‘n afgradering gestraf word. hulle is seker ook bly elke keer wanneer hulle dan meer moet betaal vir petrol, kos ens ens.
wanneer gaan die graderingsbesighede besef dat hulle afgradering die gewone mense in ‘n afgegradeerde land die meeste negatief raak? Ons president met sy R3.6miljoen salaris word nie geraak nie. Parlementslede van alle politieke partye wat elkeen meer as R1.3miljoen per jaar kry, word ook nie geraak nie, al lei ‘n afradering ook tot ‘n petrolprys van R50 per liter.
En is alle ekonomiese maatreels in SA nou noodwendig verkeerd NET omdat dit nie soos in die westerse lande gedoen word nie?

gatgogga ·

Ramaphosa kry nou goeie pers omdat hy reageer op die Covid pandemie.
Maar moenie vergeet nie, ons ekonomie is op sy wag finaal tot rommel geklassifiseer.
Ramaphosa het enige moontlike nuwe beleggings gestuit met sy konfiskering van eiendom sonder vergoeding praatjies, sy onbekostigbare nasionale gesondheidsorg, kaping van die reserwebank, aanblasing van rassespanning, en so meer.

Boerkind ·

Terwyl die media altyd elders kyk en veral Trump kritiseer (en nooit na die verwoesting verwys van die Clintons & Obama (se onheilighede – onder andere massiewe somme geld aan Iran en geen patriotisme vir die VSA gehad het nie!!) sal dit interessant wees as die media hier net so effens objektief wil wees en op die suidpunt van Afrika konsentreer waar ons woon en waar dit vir ons saakmaak… Ondersoek ‘n slag eerlik en objektief hoe het dit gebeur dat ‘n “welvarende” land binne 20 jaar verwoes is… en nie net finansiël nie!

Sal die “invaders” (om CR se eie woorde baie onlangs te gebruik) ook hiervoor verantwoordelik wees? Of het die uiters omstrede beleide (ja, ook in tyd van krises waar “wit ondernemings wat moes sluit en nou blykbaar nie gehelp gaan word nie) – sal hierdie onsinnige, sosialistiese, kommunistiese en rasistiese beleide steeds bo verdenking staan?

Leer die wat nou die beheer het niks van die geskiedenis nie? Is Zimbabwe en Venezuela nie al genoeg nie?

johan ·

Nou is dit dalk tyd dat Malema en al die vakbonde saam met die ANC vir ons se hoe nou gemaak met die pad voorentoe.

Porseleintjie ·

Asb nie. Ons is mos al 26 jaar lank op hierdie pad na n beter SA . Dink jy hulle kan nog iets beter as van die wal na die sloot na rommel? Enigste Wegaanwyser is Jesus Christus. Geen politieke party nie.

JC Venter ·

Ek het nou die afgelope tyd net lekker ontspan omdat daai naam wat jy noem nie meer elke dag op 20 joernaliste se lippe is nie, en hier kom bederf jy my naweek.

Frans ·

Die afgradering gebeur nie oornag en is nie die gevolg van ‘n enkele gebeurtenis nie.Dit is die somtoraal van die absoluut ekonomiese verwoesting wat onder die Zuma-bewind plaasgevind het en veral SOE’s
staselmatig geplunder is.
Eskom is die grootste struikelblok want sonder ‘n stabiele elektrisiteitstoevoer gaan beleggers traag wees om in Suid Afika te belê.Voeg daarby die onsekerheid oor eiendom en jy het mi die twee grootste faktore wat ekonomiese groei aan bande lê.Dit is nou eenmaal so as die kragstelsel in duie stort,stort die ekonomie in duie.

Om dit reg te kry moet die President eers van die ketting en bal aan sy bene ontslae raak en dit is die aantal korrupte kaders wat nog steeds deel van die ANC en regering is.Dit is duidelik dat die President nog steeds party bo Suid Afrika stel en bv nie ‘n groot deel van sy ondersteuners van die ANC wil vervreem nie.Hy sal dus nooit die Zuma-era veroordeel nie,maar net in vae terme van dit praat,want die Zoeloestem is belangrik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.