Rand Water: Waterbesnoeiings dalk iets van die verlede

water, kraan, waterskaarste, dienslewering, druppel, droog, dienslewering

Argieffoto (Foto: Maroela Media)

Die toepassing van waterbesnoeiings as skuldinvorderingsmeganisme vir uitstaande skuld, soos dié wat Rand Water onlangs in verskeie munisipaliteite in Gauteng, Vrystaat en Mpumalanga, toegepas het, kan moontlik iets van die verlede wees.

Die Pretoriase hooggeregshof het Dinsdag beslis dat ’n interdik vir die herstel van watertoevoer na ses munisipaliteite in dié provinsies onnodig is aangesien Rand Water reeds besnoeiing hier gestaak het.

Nietemin het die hof vandag bevind dat Rand Water se waterbesnoeiings op sigwaarde onregmatig was en bepaal dat AfriForum die hof in die toekoms weer op ’n dringende basis vir ’n interdik moet nader indien hy bewus word van enige soortgelyke waterbesnoeiings deur Rand Water.

Die uitspraak volg nadat AfriForum vroeër vandeesmaand hofstukke op Rand Water beteken het om die volle waterdruk te herstel. AfriForum het ’n dringende aansoek gebring waarin ’n interdik gevra word, wat Rand Water moes verplig om volle watervoorsiening na die betrokke munisipaliteite te herstel.

AfriForum was genoodsaak om ’n aansoek te bring nadat Rand Water ’n kennisgewing uitgereik het waarin hy vermeld dat hy waterdruk weens uitstaande skuld na die volgende munisipaliteite wil verminder: Emfuleni- plaaslike munisipaliteit, Govan Mbeki- plaaslike munisipaliteit, Lesedi- plaaslike munisipaliteit, Rand West- plaaslike munisipaliteit, Ngwathe- plaaslike munisipaliteit en Merafong City- plaaslike munisipaliteit. Waterbesnoeiings was reeds by die twee laasgenoemde munisipaliteite toegepas.

Nadat AfriForum die dringende hofaansoek uitgereik het, het Rand Water ’n ommekeer gemaak en verklaar dat hy begin het om die watertoevoer te herstel. Rand Water het toegegee dat hy nie aan statutêre vereistes voldoen het nie en dat hy dit in die toekoms sal nakom.

“Ons is dankbaar dat die waterbesnoeiing na aanleiding van AfriForum se volgehoue druk gestaak is,” sê Petrus Coetzee, raadgewer vir plaaslikeregeringsake by AfriForum. “Die uitspraak sal ons in staat stel om deur middel van aanvullende stukke, in ’n baie kort tyd, die hof te nader vir ’n bevel om dié wanpraktyk as ’n skuldinvorderingsmeganisme te keer.”

AfriForum het probeer om die situasie so te beredder dat die gemeenskap se regte beskerm sou word, maar Rand Water het volgehou dat hulle sal voortgaan om skuldinvorderingsmaatreëls toe te pas.

“Ons het ook kennis geneem van die astronomiese bedrae wat hierdie munisipaliteite verskuldig is aan Rand Water, maar is egter met geen keuse gelaat as om die hof te nader vir die nodige bevel nie, aangesien ons gemeenskappe nie die nodige toegang tot skoon water gehad het nie. Die oplossing vir die wanbestuur van die land se munisipaliteite lê verseker nie by die inbraak op mense se grondwetlike regte nie,” sê Coetzee.

Volgens hom lê die oplossing vir die waterprobleem eerder by die privatisering van dienslewering en die privaat bestuur van die fondse. “Die meeste munisipaliteite bewys keer op keer dat hulle onbevoeg is om deursigtige en doeltreffende finansiële bestuur toe te pas. Ons sal graag ook nouer samewerking tussen waterverskaffers, regeringsowerhede en burgerlike samelewingsorganisasies wil sien.”

AfriForum doen ’n beroep op gemeenskappe om die organisasie in kennis te stel van enige waterbesnoeiings wat deur Rand Water geïmplementeer vir skuldinvorderingsdoeleindes. Gemeenskapslede kan bewyse stuur na [email protected].

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Goldy ·

Slegs n verkiesingsbelofte. Na die verkiesing gaan die ANC net verder met die verval.

Christine ·

Buiten waterbesnoeiings, kan Afriforum asb ook help met riool wat in strate inloop en in damme en riviere en Johannesburg Water daaroor aanvat, asb? Ons land gaan ten gronde en die riool-kwessie is ‘n groot probleem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.