RBM hervat bedrywighede in Richardsbaai

(Foto: Rio Tinto)

Richards Bay Minerals (RBM), die Suid-Afrikaanse filiaalmaatskappy van Rio Tinto, sal na verwagting Maandag weer bedrywighede in Richardsbaai in KwaZulu-Natal hervat ná die verklaring van ʼn force majeure.

RMB-aandeelhouers en uitvoerende lede van die munisipaliteit het Donderdag vergader. Sihle Zikalala, premier van KwaZulu-Natal, het aangekondig dat RMB sy bedrywighede Maandag sal hervat. Die provinsiale regering, onder leiding van die premier, het met aandeelhouers vergader en stabiliteit verseker en onderneem om kommer oor sekuriteit en ander uitdagings, wat daartoe gelei het dat die mynboubedrywighede opgeskort word, aan te spreek. Volgens Zikalala het pres. Cyril Ramaphosa ook Woensdag met die hoof van Rio Tinto vergader.

Maroela Media het vroeër berig die internasionale mynboureus Rio Tinto het sy aktiwiteite aan Richardsbaai onttrek ná die verklaring van ʼn force majeure. Rio Tinto het tot hierdie stap oorgegaan nadat die maatskappy weens sekuriteitsredes nie meer sy aktiwiteite in die omgewing kon voortsit nie – minstens nie totdat die veiligheidsituasie verbeter nie. Dit volg ook nadat die maatskappy se algemene bestuurder, Nico Swart, in Mei in ʼn sluipmoord vermoor is – 20 koeëls het sy kar op pad werk toe getref.

ʼn Force majeure is ʼn kontraktuele klousule wat albei partye beskerm wanneer onvoorsiene omstandighede buite hul beheer een van die partye verhoed om sy kant van die kontrak na te kom – gewoonlik in gevalle soos oorloë of ingrypende natuurrampe. In hierdie geval het Rio Tinto al sy bedrywighede gestaak weens ʼn onstabiele veiligheidsituasie.

Dit beteken dat die dreigement van geweld en misdaad in Richardsbaai so groot is dat die maatskappy nie sy kant van die onderskeie kontrakte kan nakom nie. Die lewens van diegene wat by hul bedrywighede betrokke is, word so bedreig dat hulle nie hul kontraktuele pligte kon nakom nie.

RBM het in 2020 direk R8 miljard tot die Suid-Afrikaanse ekonomie bygedra en het ook werk aan 5 000 mense verskaf. RMB is die enkele grootste privaatsektorbydraer tot die KwaZulu-Natalse ekonomie met die maatskappy wat vir byna 10% van die provinsie se ekonomie verantwoordelik was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.