Nuuskommentaar: Is Suid-Afrika soms soos ʼn oorlogsone?    

(Foto: Rio Tinto)

Die internasionale mynboureus Rio Tinto het die afgelope week sy aktiwiteite aan Richardsbaai onttrek ná die verklaring van ʼn force majeure. Rio Tinto het tot hierdie stap oorgegaan nadat die maatskappy weens sekuriteitsredes nie meer sy aktiwiteite in die omgewing kon voortsit nie – minstens nie totdat die veiligheidsituasie verbeter nie. Dit volg ook nadat die maatskappy se algemene bestuurder, Nico Swart, in Mei in ʼn sluipmoord vermoor is – 20 koeëls het sy kar op pad werk toe getref.

ʼn Force majeure is ʼn kontraktuele klousule wat albei partye beskerm wanneer onvoorsiene omstandighede buite hul beheer een van die partye verhoed om sy kant van die kontrak na te kom – gewoonlik in gevalle soos oorloë of ingrypende natuurrampe. In hierdie geval het Rio Tinto al sy bedrywighede gestaak weens ʼn onstabiele veiligheidsituasie.

Dit beteken eintlik maar net dat die dreigement van geweld en misdaad in Richardsbaai so groot is dat die maatskappy nie sy kant van die onderskeie kontrakte kan nakom nie. Die lewens van diegene wat by hul bedrywighede betrokke is, word so bedreig dat hulle nie hul kontraktuele pligte kon nakom nie.

Richards Bay Minerals (RBM), die Suid-Afrikaanse filiaalmaatskappy van Rio Tinto, het in 2020 direk R8 miljard tot die Suid-Afrikaanse ekonomie bygedra en het ook werk aan 5 000 mense verskaf. RMB is die enkele grootste privaatsektorbydraer tot die KwaZulu-Natalse ekonomie met die maatskappy wat vir byna 10% van die provinsie se ekonomie verantwoordelik was.

RMB het hiermee sodoende die broodnodige buitelandse beleggings onttrek waarna pres. Cyril Ramaphosa altyd op soek is. Sodoende het die norm van heersende geweldsmisdaad en wetteloosheid Suid-Afrika hierdie beleggingsgeleentheid, ekonomiese reus en plaaslike ekonomiese anker gekos – bloot omdat die polisiediens nie die vermoë het om hulle werk te doen nie.

Dit is eintlik ʼn verskriklike drastiese stap wat ʼn mens regtig regop moet laat sit. Hierdie is nie ʼn maatskappy wat uit een of ander onstabiele oorlogsgeteisterde staat onttrek nie – dit is Richardsbaai! Hierdie is nié die tipe ding wat ʼn mens verwag van dít wat veronderstel is om ʼn moderne ekonomie en staat te wees nie.

Hierdie herinner ongelukkig baie aan die energiereus Total wat om soortgelyke redes onlangs ook ʼn force majeure verklaar en alle aktiwiteite in Mosambiek gestaak het. Aan die begin van vanjaar het terroristeaanvalle weer in die noorde van Mosambiek toegeneem wat tot verhoogde onstabiliteit en geweld in die omgewing gelei het. Die teenwoordigheid van Isis en die gepaardgaande dreigement van geweld is reeds vir die afgelope vier jaar ʼn probleem vir Mosambiek.

Aan die begin van vanjaar het die situasie egter so vererger dat Total sy $20 miljard- projek onbepaald opgeskort het weens die heersende geweld. Dit is te midde van laevlak terrorisme wat reeds vir meer as vier jaar lank ʼn heersende probleem in die land is. Hierdie is die tipe omgewing waarin ʼn mens die verklaring van ʼn force majeure verwag – ʼn staat wat werklik deur permanente terreur geteister word.

Dit laat ʼn mens eintlik sidder en wonder of sekere dele van Suid-Afrika dan nie eintlik soms maar net soos ʼn oorlogsone of terreurgeteisterde gebied is nie? Indien ʼn mynboureus weens sekuriteitsredes hom aan Richardsbaai onttrek, moet ʼn mens jouself afvra wat die verskil tussen die hawestad en ʼn werklik oorlogsgeteisterde gebied Cabo Delgado in Mosambiek is? Watter tipe staat het ʼn mens regtig as heersende geweld direk tot die onttrekking van buitelandse beleggings lei?

Oudpres. Jacob Zuma. (Foto: Sandile Ndlovu/Pool)

Dit staan veral in skrille kontras met die wydgevierde skuldigbevinding van oudpres. Jacob Zuma die afgelope week deur die Konstitusionele Hof. Die meer optimistiese landsburgers het dit gevier as ʼn herbevestiging van wet en orde. Hoewel ʼn groot oorwinning, is Zuma se skuldigbevinding egter nie ʼn herbevestiging van wet en orde nie. Indien die handhawing van wet en orde enigsins binne Suid-Afrika se bereik was, sou dit vergestalt het in genoegsame veiligheid vir ʼn mynboureus om sy aktiwiteite hier voort te sit.

Waar laat dit ʼn mens dan werklik? Indien dit die werklike stand van wet en orde is, hoe presies lyk die toekoms? Indien ʼn mens nie eers met sekerheid en veiligheid ʼn ekonomie kan bedryf nie, lyk die vooruitsigte nie juis goed nie.

Hier kan Suid-Afrikaanse burgers net dalk hoop by presies hierdie bogenoemde situasie in Mosambiek kry. Die Mosambiekse regering en weermag het ook nie die vermoë gehad om die Isis-terreur suksesvol hok te slaan nie. Dit word ook duidelik in die feit dat dit reeds plaaslike gemeenskappe vir meer as vier jaar teister. Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelings Gemeenskap (SAOG) het ook klaaglik misluk om enige noemenswaardige stappe betyds te doen. Sodoende kon hierdie groep buurlande ook nie enige noemenswaardige bydrae lewer in die versekering van stabiliteit van die omgewing nie.

Die een rolspeler wat egter waarskynlik die grootste verskil gemaak het, was die Dyke Advisory Group (DAG), ʼn privaatweermagsmaatskappy. Hierdie Suid-Afrikaanse maatskappy is deur die Mosambiekse regering gekontrakteer om die situasie te help stabiliseer, spesifiek deur lugondersteuning. Dit was sodoende ook een van die min rolspelers wat daarin kon slaag om vinnig, doeltreffend en met sekerheid op te tree – dit is ook hierdie optrede wat die beste moontlike kans op stabilisering of minstens net beskerming van terreurgeteisterde gemeenskappe gebied het.

Daar waar regerings nie eiehandig wet en orde kan handhaaf nie, is daar geleentheid vir die privaatsektor en gemeenskappe om die gaping self te vul. ʼn Mislukking van die regering hoef nie noodwendig neer te kom op ʼn mislukking van die ganse ekonomie en gemeenskap nie. Indien gemeenskappe en die privaatsektor hul eie veiligheid verseker, is daar ook geleentheid om hul eie voorspoed en vryheid te verseker.

Hoe groter die gaping word vir privaatsekuriteit en gemeenskapsveiligheid om ʼn verskil te maak, hoe meer hulpbronne moet ook daarin gestort word. Die versekering van veiligheid is fundamenteel aan die uiteindelike versekering van voorspoed en vooruitgang. Gemeenskappe en die privaatsektor het nou ook die geleentheid om in die mislukking en verval van die regering en polisiediens die gaping te vul. Indien gemeenskappe en privaatsektor nie hul eie veiligheid verseker nie, gaan Rio Tinto se storie die eerste van vele wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Werner ·

Wel klomp beleggers het al die land verlaat seker nog net die liberales wat glo in hulle reenboog gemors

Johan ·

Te besig om mense se vakansie op te dons en dra van maskers (wat niks werk nie) toe te pas. Ekonomie is mos n luukse volgens die slimkoppe. By ons moet jy na 9h00 maar versigtig wees, die skurke weet die buurtwag mag nie uit hul huisies wees nie.

JJB ·

Mens sien onbeskryflike ellende vir die dele van die land wat stelselmatig in anargie verval. Die ANC is nie onskuldig nie, hul skep deurentyd die indruk by (swart) gemeenskappe dat hul ‘n regmatige aanspraak of inspraak het op die welvaart, bestaansreg en bates van suksesvolle maatskappye. Soos die Ingilse sê “He who sows the wind will reap the whirlwind…” Is dit nie ironies dat dit die slegste gaan waar die ANC die sterkste staan nie?

Alleen Wolf ·

Wat ‘n vraag, natuurlik is ons ‘n oorlogsone wie se wers gehoirsame burgers ontwapen moet word.

Gerhardus ·

Soms? Wat verwag jy anders van ‘n land waar “mense” na hulle self verwys as “Economic Freedom FIGHTERS” en ander nog na mekaar verwys as “comrades”? In 27 jaar het ons van ‘n 1ste wêreld land terug beweeg na ‘n 3de wêreld land. Ons land het die potensiaal én die middele om die werkloosheidsyfers beduidend te laat daal, maar ons politieke onsekerheid en belaglike wette skrik juis die buitelandse beleggers af. Nog méér beleggers gaan Rio Tinto se voorbeeld volg. Dit gaan ons land nog verder in ‘n krisis dompel waaruit ons nie vinnig gaan kom, óf vinnig van gaan herstel nie.

Tiptol ·

Baie goeie artikel. Klink of daar oor ‘n ander land in Afrika geskryf is, nie SA nie. Hartverskeurend.

johann ·

‘n Paar jaar gelede was Rio Tinto in die nuus oor die omgewingsskade wat hulle aan nie kus aanrig. Ek is verheug dat hull nou hul skadelike bedrywighede staak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.