Reaksie op die MTBR

Enoch Godongwana, minister van finansies (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Verskeie organisasies het Donderdag reageer ná Enoch Godongwana, minister van finansies, se eerste mediumtermyn-begrotingsraamwerk (MTBR).

Demokratiese Alliansie

Die DA sê hy verwelkom die minister se toewyding om die onverwagse inkomstestroom, danksy ʼn oplewing in sikliese kommoditeite, aan te wend tot die begrotingsagterstand. “Ons verwelkom ook die minister se toewyding om nie enige bykomende toegewings te maak aan staatsbeheerde ondernemings nie,” sê Dion George, die party se skaduminister van finansies.

George meen die minister het egter tekort geskiet in verskeie van die DA se sleutelverwagtings om die ekonomie ʼn hupstoot te gee, waaronder ʼn versnelde ekonomiese herstel ná die Covid-19-pandemie, ʼn vermindering van die nasionale skuld, bestuur van uitgawes, ondersteuning aan kwesbares, toewyding tot geen belastingverhogings nie en hefboomfinansiering vir pensioenfondsbates.

George sê die minister het melding gemaak van kragopwekking, maar nie enige bykomende besonderhede verskaf oor watter stappe gedoen sal word om die huidige kragkrisis te verlig nie. “Ons het verwag dat die minister ʼn dringendheid sou toon om energiestabiliteit te verseker om ondernemings te ondersteun wat staat maak op kragvoorsiening.”

Volgens hom is die MTBR ook in sy geheel aangevuur deur ʼn oplewing in kommoditeite, maar daar is nie ʼn betekenisvolle plan om volhoubaar die ekonomie te laat bly groei nie.

George meen ʼn aankondiging oor belasting sou ook sekerheid verskaf het aan ʼn ekonomie wat desperaat op soek is na ʼn manier om groei aan die gang te kry. “Ons maan die minister om minstens belastingkategorieë aan te pas.”

Klik hier om George se volledige verklaring te lees.

VF Plus

Wouter Wessels, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder oor finansies, sê soos sy onmiddellike voorgangers, blyk dit dat die nuwe minister van finansies die land se begrotingsuitdagings raaksien en selfs oplossings daarvoor aan die hand doen.

“Tot nou toe het woorde geen dade van die regering gewek nie. So lank as wat die ANC-regering aan sy huidige beleidsrigtings vaskleef, sal geen vordering gemaak word aan die land se benarde fiskale situasie nie,” meen Wessels.

“Minister Godongwana het vandag met sy MTBR die noodsaak vir ekonomiese groei en die noodsaaklikheid van beleggingsekerheid erken. Dit word egter nie net in die wiele gery deur beleidsonsekerheid nie, maar deur beleid en beperkende wetgewing wat beleggers afskrik en skadelik is vir ekonomiese groei. Korrupsie en infrastruktuur-agteruitgang vererger die situasie.”

Staatskuld is buite beheer en staan tans op R4.314 biljoen. Die finansieringskoste op die skuld beloop R269 miljard wat beteken dat 21 sent uit elke rand gebruik word om die skuld te diens. Hierdie koste gaan na raming toeneem tot R365.8 miljard teen 2024/25.

Die toekomsvooruitsigte lyk ook onseker met staatskuld wat in 2025/26 na raming 78% van die land se BBP gaan beloop.

Die staat se salarisrekening neem steeds vinniger toe as die groei in die land se BBP.

“Staatsondernemings plaas toenemend ʼn onhoubare las op die fiskus. Juliemaand se onrus en gepaardgaande plundering het Sasria uitgeput en ʼn onvoorsiene R11 miljard as aan dié onderneming toegeken. Die Padongeluksfonds (Pof) se laste beloop R450 miljard. Mislukte staatsentiteite kan nie langer gedra word nie en moet nou geprivatiseer word.”

Wessels sê die minister het gepraat oor strukturele ekonomiese hervorming, maar geen konkrete plan is op die tafel geplaas om die land se energiekrisis met betrekking tot Eskom se ineenstorting aan te spreek nie. “Ook hier is privatisering die enigste uitweg.”

Om die fiskale posisie van Suid-Afrika volhoubaar te verbeter, moet uitgawes besnoei word. Die aanpassingsbegroting besnoei nie uitgawes nie en bevat eerder verkeerde prioriteite wat ekonomiese groei striem.

“Daar is te veel onnodige uitgawes en verkeerde prioriteite. Altesame 27 miljoen Suid-Afrikaners is nou grootliks afhanklik van maatskaplike toelae om te oorleef. Dit is bykans 10 miljoen meer as sowat twee jaar gelede en is totaal onvolhoubaar sonder ekonomiese groei en gepaardgaande werkskepping.”

Hy meen ʼn enkele ligpunt soos die geringe ekonomiese groei wat in 2021 beleef word, is grootliks te danke aan verhoogde kommoditeitspryse en gaan nie met werkskepping gepaard nie.

“Dit bewys dat die regering nie ‘n gunstige omgewing vir die privaat sektor skep om werk te skep nie. Geen plan sal eindelik werk onder die ANC en sy skadelike beleid nie.”

Enoch Godongwana, minister van finansies (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

TLU SA

Bennie van Zyl, TLU SA se hoofbestuurder, sê Godonwana het die belangrikheid van die privaatsektor verskeie kere uitgewys, maar Suid-Afrika se beleidsomgewing skep egter nie ’n vertrouensomgewing vir dié sektor nie.

“Godongwana soek privaatsektor beleggings, vennootskappe om befondsinggapings vir verskeie projekte van die Ekonomiese Herbou en Herstelplan te vul en hulp om die land se werkloosheidkrisis aan te spreek. As die regering die privaatsektor se hulp nodig het, moet hy dié sektor se hande losmaak met ’n beleidsomgewing wat vertroue inboesem. Daar is dan nie meer plek vir dinge soos onteiening sonder vergoeding nie en daar moet dan ook weggedoen word met SEB wat inderdaad kader-ontplooiing impliseer wat kundigheidtekorte veroorsaak.”

Van Zyl sê die regering hou daarvan om stellings te maak soos strukturele hervormings in die ekonomie. “Wat word daarmee bedoel? Is dit om na gesentraliseerde sosialisme en kommunisme te beweeg? Of is dit om in ’n omgewing van privaatbesitreg en markgerigte ekonomie die nodige aanpassings te maak en so vertroue te skep vir entrepreneurs om positief te wees en om aktief in die ekonomie betrokke te raak?”

Van Zyl is dankbaar vir die aankondigings oor die belangrikheid om korrupsie, misdaad, deursigtige tenders, opleiding aan te spreek. Dit is egter die feit dat sowat 27.8 miljoen mense in die land sosiale toelaes ontvang, wat die rooi ligte laat flikker. “Die hoeveelheid maatskaplike toelae is buite perke. Dit is nie volhoubaar nie gegewe die swak ekonomiese groei, die land se skuldlas en rommelstatus. Die regering moet besef jy kan net iets uitdeel as jy dit self het! Die regering is inderdaad besig om in die praktyk ons land in ’n sosialistiese bestel in te bestuur.”

Hy was ook bly om die verwysings na die stabiele energievoorsiening te sien. “Dit is baie belangrik dat die privaatsektor so gou as moontlik met gemak betrokke raak in die opwekking van elektrisiteit. Dit is wat die verskil gaan maak.”

Die land se skulddienskoste is nie-diskresionêr – met ander woorde, ons kan nie vermy om dit te betaal nie. Die effek daarvan is dus ander bestedingsprioriteite word afgeskeep. Skulddienskoste sal na verwagting van R269,2 miljard in 2021/22 tot R365,8 miljard in 2024/25 styg. Dit is hoër as die begroting vir gesondheid en polisiedienste.

’n Positiewe aspek volgens die minister is die belastinginvordering wat op kort termyn verwagtinge oortref het. Inkomste vir 2021/22 word nou geraam om R1.5 biljoen te bereik, vergeleke met R1.4 biljoen ten tyde van die 2021-begroting in Februarie. Dit is ‘n opwaartse hersiening van R120,3 miljard.

Daar is ook bykomende befondsing aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag en die Polisiedienste toegeken.

Daar is oor die algemeen gevoel dat die regte kwessies geïdentifiseer is, maar of die regering die vermoë het om te kan lewer – inaggenome jarelange kader-ontplooiing – word bevraagteken

Saptu

Saptu, die vakbond vir tersiêre instellings, het Godongwana se aankondiging oor ʼn verdere inspuiting vir die hoër onderwyssektor versigtig verwelkom.

Saptu waarsku egter dat die minister en die regering hierdie toekenning ook teen die agtergrond van ʼn werkloosheidskoers van 43% moet beskou.

“Minister Godongwana het die befondsing vir gratis tersiêre onderrig en opleiding verhoog van R44,7 miljard na R56,8 miljard. Hy het ook bevestig dat die hoeveelheid werkende mense afgeneem het en dat 47% van Suid-Afrikaners nou maatskaplike toelaes ontvang.

“Ons sal graag wil sien dat die regering sterker daarop fokus om ʼn sterk ekonomie en ʼn gunstige klimaat vir buitelandse belegging in Suid-Afrika te skep,” sê adv. Ben van der Walt, die hoofsekretaris van Saptu. “Hoe sterker die ekonomie, hoe beter die koers van indiensneming. Ons stel jong mense op om na hulle studies te faal as daar geen werk beskikbaar is nie.”

Saptu neem kennis van die toekenning van amper R74 miljard vir openbare werkskeppingsprogramme, maar betwyfel die vermoë van die regering om ʼn  verantwoordelike werkgewer te wees, gesien teen die lig van die voortdurende dispute oor vergoeding in die staatsdiens (wat ook Saptu-lede, veral in die gesondheidsbedryf beïnvloed).

“Die las op werkers – as belastingbetalers wat die inkomste genereer om die rekening van staatdienssalarisse en maatskaplike toelaes te vereffen – raak al hoe swaarder,” voeg Van der Walt by. “Maar op die beurt verswak dienslewering en die kwaliteit van lewe. Ons verwelkom minister Godongwana se poging om uitgawes te besnoei en inkomste te verhoog. Maar, die begroting, die implementering daarvan en die volhoubare ekonomiese toekoms van die land is ʼn fyn balanseringtoertjie. Ons hoop hy slaag daarin.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

KB ·

Met sy MTBR is hy die akrobaat in die sirkus op sy styfgespanne koord. Die ANC finansiële koord wikkel so erg dat ek bevrees is dat hy daar gaan afval, op die grond te lande gaan kom en ‘n groot ronde rooi neus gaan hê!

Grassie ·

Die ANC kon nog altyd baie praat en soms oortuigend ook. Kyk maar na die foto, hoe beduie die man met sy vinger. Maar dit is nog altyd waar dit geëindig het. Hulle het eenvoudig nie die vermoë om te doen wat hulle onderneem nie en hulle sal dit ook nooit hê nie. Ek sien maar net ‘n afrdraande pad vir ons ekonomie en swaarkry wat voorlê

Jdb ·

MM, wat is die verskil tussen “biljoen” en miljard?
Behalwe dat die woord “biljoen” eintlik net ‘n anglisisme is wat dieselfde beteken as “miljard”?

Janice du Plessis ·

Dagsê Jdb
Dankie vir jou boodskap. Ons vertaal “million” met miljoen, “billion” met “miljard” en “trillion” met biljoen. ‘n Biljoen is ‘n miljoen miljoen, soortgelyk aan ‘n “trillion”. Om verwarring uit te skakel, verskaf ons gewoonlik die vertaling van “trillion” in hakies ná “biljoen”.
Lees gerus ook hier: https://maroelamedia.co.za/afrikaans/taalgebruik/taalgebruik-miljard-biljoen-triljoen/
Groetnis
Janice
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.