Reaksie op masels-uitbreking in Limpopo

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Die provinsiale regering in Limpopo werk saam met die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) en die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) om planne in werking te stel om die uitbreking van masels in die provinsie hok te slaan.

Luidens ʼn verklaring uitgereik deur Nios het die aantal gevalle van masels in die Groter Sekhukhune-distrik in Limpopo sedert Donderdag tot 11 toegeneem.

“Die ouderdomme van die bevestigde gevalle wissel van nege maande tot 24 jaar, met vier mans en vier vrouens,” lui die verklaring.

“Drie van die pasiënte, kinders, was ten volle ingeënt teen masels, terwyl die inentingsgeskiedenis van ses van hulle nie bekend is nie. Twee van hulle was nie teen masels ingeënt nie. Een geval van pasiënte met masels is in die hospitaal opgeneem en ʼn ander een het sonder hospitalisering longontsteking ontwikkel.”

Die regering se optrede in reaksie op die uitbreking sluit in die evaluering van mediese rekords om gevalle van masels te identifiseer, kontakopsporing, die sifting vir vermoedelike gevalle van masels en die versameling van bloed- en keelmonsters vir diagnostiese toetse vir masels.

“Pasiënte by wie masels gediagnoseer is, het koors, uitslag en een of meer van hierdie simptome, hoes, rooi oë en ʼn loopneus getoon. Komplikasies van masels sluit in longontsteking, diarree, dehidrasie, enkefalitis, blindheid en dood.”

Maselskomplikasies is ernstig by ondervoede kinders en babas jonger as twee. Mense van enige ouderdom wat nie ingeënt is nie, kan masels opdoen en die siekte ontwikkel.

“Verpleegpersoneel en versorgers moet bedag wees op enigiemand wat die bogenoemde simptome en tekens vertoon en seker maak dat kinders se maselsinentings op datum is. Masels-entstowwe word gereeld op die ouderdom van ses en 12 maande gegee. Dit is nooit te laat om teen masels ingeënt te word nie.”

Vermeende gevalle van masels moet hier aangemeld word: https://www.nicd.ac.za/nmc-overview/overview/

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.