Reën, beurtkrag veroorsaak probleme vir City Power

City Power sukkel met ʼn groot agterstand in meeste gebiede in Johannesburg weens reën en beurtkrag.

Isaac Mangena, woordvoerder vir City Power, het gesê die Hursthill-depot het Dinsdag die hoogste getal oproepe van verbruikers hanteer. Meer as 1 000 oproepe is in vier ure geregistreer tussen 08:00 en 12:00. Hursthill-depot dek woonbuurte soos Northcliff, Noordgesig, Melville, Aucklandpark, Mayfair, Emmarentia en Crown.

“Die navrae hou hoofsaaklik verband met MV-foute in die gebied wat insluit ʼn paneel wat in Greenside opgeblaas het, ʼn kragonderbreking in Albertsville, ʼn kragonderbreking wat MTN in 14de Laan bedien en ʼn fout in die Crown-gebied wat tot Mayfair strek,” het Mangena verduidelik.

“Al dié foute het gebeur toe die elektrisiteit weer tussen Maandagaand en Dinsdagaand aangeskakel moes word ná fase 6-beurtkrag. Ons netwerk word geraak deur beurtkrag en verbruikers se gedrag wanneer die elektrisiteit weer aangeskakel word.”

Hy het gesê die netwerk, wat reeds oud is, is onder enorme druk weens grootskaalse lasverskuiwing en ʼn verandering in die stroom wanneer die elektrisiteit af- en aangeskakel word.

“Die hoë oproepvolumes en die impak van die reën beteken dat dit langer vat as gewoonlik om kragtoevoer te herstel. Die agterstand beteken dat ons nie kan voldoen aan ons standaard van vier ure nie. Vir veiligheidsredes kan ons ook nie toelaat dat operateurs aan die stelsel werk tydens beurtkrag nie, omdat die elektrisiteit enige tyd kan terugkeer.”

Mangena doen ʼn beroep op verbruikers om geduldig te wees. “Ons het nog spanne ontplooi om seker te maak die betrokke gebiede se kragtoevoer word so vinnig as moontlik herstel. Ons vra om verskoning vir enige ongerief wat hierdeur veroorsaak word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wat weet ek. ·

Is reg die weer speel n rol. Kan iemand net verduidelik hoekom Honeydew elke liewe dag omtrent sover die maand en omtrent elke 2 de dag in November sonder Krag gesit het en sit.

Alex ·

Hoe werk hulle operateurs dan aan die stelsel wanneer dit nie beurtkrag is nie en daar heeltyd krag is? Sit jy nie in elk geval die skakelaar af, of daar nou krag is of nie, voor jy aan drade werk nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.