Reën oor groot dele van SA verwag

(Argieffoto: pixabay)

Reën en donderbuie word vir die res van die week oor groot dele van die land verwag. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het ook ’n waarskuwing vir swaar donderstorms vir Woensdag vir dele van KwaZulu-Natal, die Noord-Kaap en die Oos-Kaap uitgereik.

Volgens Kgoloselo Mahlangu, ʼn weervoorspeller verbonde aan die weerdiens, is daar Woensdag tussen 30% en 60% kans vir reën in dele van Gauteng, Noordwes, die Vrystaat, Mpumalanga, die Oos-Kaap die oostelike dele van die Noord-Kaap, die suidelike dele van Limpopo en die noordoostelike dele van die Wes-Kaap. ’n 80% kans vir reën word vir KwaZulu-Natal voorspel.

Mahlangu sê die reën sal tot die naweek in hierdie dele voortduur. Reën sal na verwagting teen Donderdag in die westelike en sentrale gedeeltes van die Noord-Kaap en groot gedeeltes van die Wes-Kaap opklaar.

Die weerdiens het ’n geelvlak-waarskuwing uitgereik vir hewige donderbuie en sterk suidwestelike wind in die noorde van KwaZulu-Natal. Die weerdiens waarsku dat die stormweer tot moontlike kitsoorstromings kan lei.

’n Geelvlak-waarskuwing is ook uitgereik vir hewige donderstorms met buitengewone weerlig, swaar reën, hael en sterk wind in die oostelike binneland van die Oos-Kaap.

Maroela Media het vroeër berig dele van die Noord-Kaap wat jare lank onder droogte gebuk gaan, het sedert die begin van die week goeie reën ontvang. Boere in dele van die Kalahari het tot soveel as 40 mm reënval op een dag aangeteken.

Agri Noord-Kaap sê hoewel hulle dankbaar is vir die reën, is dit nie naastenby genoeg om ’n verskil aan die droogtetoestand te maak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Casper ·

Ons kan net saam met inwoners van die Noord-Kaap bid dat die reën ook in die gebied sal val waar dit broodnodig is.Mag one Hemelse vader die hemelse sluise oopmaak oor daai gebied.

jzjz05 ·

Ek hoop die voorspelling sluit PE se damme se opvang gebied in.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.