Reën val, maar Vaaldam bly leeg

Hartbeespoortdam. Foto: Sonja en Renier Boucher op Facebook via Reënval in SA.

Die swaar reënval in Gauteng wat reeds tot oorspoelings in Centurion en die ooste van Pretoria gelei het, het min bygedra tot die damvlakke van Gautengers se grootste waterbron.

Ondanks swaar reënval die afgelope week, was die Vaaldam Dinsdag volgens die departement van water steeds net 39,05% vol.

Dit is boonop minder as wat Rand Water einde November by dié dam gemeet het. Toe was die dam 41% vol. Teen 2 Desember, tydens die hittegolf wat groot dele van die land laat sweet het, was die dam 40% vol. Die Vaaldam was boonop in September 55% vol.

In ander opvangsgebiede in Gauteng, waaronder die Hartbeespoort- en die Roodeplaatdam, is die damme egter 100% vol. “Al die sluise is by die Hartbeespoort- en Roodeplaatdam oopgemaak,” sê Leon Basson, ʼn DA-raadslid in die streek.

Volgens Rand Water het daar Dinsdag slegs sowat 1,5 mm reën in die Vaaldam se opvangsgebied geval. Maandag het sowat 22,4 mm reën in die Vaaldam-omgewing geval, sê Rand Water.

Anthony Turton, ʼn waterkenner, verduidelik dat die water wat na Gauteng se damme stroom, geskei word deur die Witwatersrandrif. Alle reën wat in die suide val, vloei na die Atlantiese Oseaan, tot by die Oranjerivierkom, waarvan die Vaalrivier ʼn voedingsrivier is.

Al die reën wat noord van die Witwatersrand val, vloei in die Indiese Oseaan, tot by die Limpoporivierkom, waarvan die Apies-, Moreleta- en Hennopsriviere substrome is. “Die belangrikste reën wat aan die een kant van die kontinentale waterskeiding val, vloei nou na damme soos Hartbeespoort en Roodeplaat. Die Vaaldam sal uiteindelik water kry omdat dit ook gereën het in die Oranjerivierkom, maar daar is baie damme om te vul en die vloei neem tyd,” sê hy.

Turton sê dit gaan nie soseer oor reën wat op die regte of verkeerde plek val nie, maar oor die werklikheid dat die bevolkingsverspreidingspatroon in Suid-Afrika nie voordeel trek uit die natuurlike waterbronne nie.

“Johannesburg is die enigste groot stad ter wêreld wat nie teen ʼn rivier, meer of waterfront lê nie. Dit is dus baie kwesbaar vir die ingenieurstelsels wat oor ʼn eeu en ʼn kwart ontwikkel is en wat ontwerp is om water opdraand te pomp.

“Johannesburg [en Gauteng] is dus veral kwesbaar vir die verlies aan vaardighede weens kaderontplooiing. Tensy die beleid omgekeer word en die aanstelling van tegnies bekwame mense weer die norm word, sal Gauteng stadig maar seker swig voor die strukturele kwesbaarheid van infrastruktuur,” sê hy.

Intussen kan Gautengers steeds hewige reënval vir die res van Dinsdag verwag, sê die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAW).

Talle motoriste is vandeesweek gestrand gelaat nadat hul voertuie meegesleur is weens die vloede en gestrande inwoners van Pretoria moes met ʼn helikopter bevry word. “Wees altyd bedag wanneer daar vloede in jou omgewing voorkom en moenie probeer om verspoelde paaie oor te steek nie. Slegs 20 cm water is nodig om jou kar te skuif,” sê die Weerdiens.

Die nat, koue weer sal na verwagting nog tot die middel van die week voortduur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

John ·

?… maar dit is dan waar die nat steenkool probleme gee en die stasies oorstroom is. Skynbaar moet dit ook nooit weer in daardie gebied reèn nie… seker ‘n nuwe gebeurtenis agv klimaatsverandering. Net, hoe het die Vaaldam ontstaan?

magda ·

Wat kan n mens se – jy het dit of nie – en duidelik het die ene dit NIE.

Misky ·

Diè hele dam vlak kwessie laat my nou weer dink aan die een of ander slim minister wat eenmaal gesê het die damme is te groot gebou en daarom vat dit langer om vol te raak…. mentaliteit ontbreek en geen redenasie vermoë nie

Geskok ·

Dit was nie ‘n minister nie dit was ons eie president wat dit kwytgeraak het????????

Strandloper ·

Dalk net dalk moet die kadertjies tog die sluise toe maak….of nie?

Thinus Erasmus ·

Die afloopwater van die goeie reën moet eers afloop na die damme toe, dit vat maar dae en selfs weke. Eers as die grond versadig is sal die reën die riviere se oorsprong en fonteine voed – die afloopwater ís gewoonlik nie voldoende om groot damme vol te maak nie.

Heila Fourie ·

GOD alleen gee ons reen en omdat die anc en kie nie in GOD glo nie sal ons altyd swaar trek.
Aanbid HOM en hy gee mildelik
Dankie
Heila

Hetmari ·

Liewe genade as ek d nuusberigte lees ys ek vir d “slim geleerdes”. Dis logies om n sluis oop te maak dat water kan begin vloei voordat die water van d reen en vloede in die opvanggebied (Mpumalanga ens) die dam bereik en sodoende n vloed later, laer af probeer verhoed. As hul wag om n sluis oop te maak tot dam vol is..kan vloede later plekke laer af groot skade berokken. En kragstasies wat oordpoel is wil ek graag sien.. in hul beplanningsfase word heel eerste gekyk na ligging en word so gebou dat water altyd sal “af” vloei.. Maar deesdae is daar snaakse verskonings. Ietsie om aan te kou: Hoe kom dit dat steenkool deesdae nat word maar in die sestig plus jare gelede nooit?… Toe is dit met oop treintrokke aangery en nie met toe lorries wat maklik onder dak of by bunkers kan inry nie…

Elize ·

Ons het die afgelope week baie na aan die 300mm reën gekry en almal om ons se damme is vol en vloei tans sterk in die Vaalrivier in. Dit is nog steeds besig om by ons te reën. Die vlak van die Vaalrivier is styg beslis, dis net ‘n kwessie van dae dan sal die Vaaldam begin water kry. Geduld is die wagwoord!

B ·

Sekere inligtingsbronne gebruik nie meer DWA se sensordata, want dis na bewering nie meer wetenskaplik betroubaar. (Vaaldam s’n by name)

aj ·

Gauteng het TE VEEL MENSE vir die beskikbare water …. EN vir die regeer-vermoë van die ANC.

Die mense getalle moet dringend BESTUUR word!

Robert ·

Baie swak opskrif. Die Vaaldam is nie leeg nie en as die skrywer net bietjie navorsing wil doen oor waar dit reën dan sal dit makliker wees om te sê die water is oppad na die Vaaldam wees net geduldig.

Dorotie ·

Die afgelope 5 dae wat dit so mildelik gereen het (en ons dit so absoluut nodig het), is ek gewalg deur die mense se reaksie. Ek het 10 kassies plantjies geplant en nou verdrink dit, Ek ruik vrot van al die water. Ek wil die son sien skyn. My honde trap my huis vuil. Ek kry nie my wasgoed droog nie

Moenie vra hoekom dit so sleg gaan in SA nie. Ons vra die Here, Hy gee op die regte tyd en dan se ons vir Hom, dit is nou genoeg, gee weer wanneer ons vra, maar nou is dit genoeg.

Dit is nie Sy skuld dat daar oorstromings is nie, die MENSE is die oorsaak van al die ellende, as alle instandhouding gedoen het sou daar minder probleme wees.

Moenie vra en as jy kry nee dankie se nie. Ons gaan nog swaar gestraf word en dan moet ons nie kla nie. Ons as volk verdien om gestraf te word.

Leon ·

Hoekom kry Tswane nie water van die Hartebeespoort dam en die Roodeplaat dam nie? Dit is ‘n goeie vraag Hulle is vlak by ons.

Robert ·

Leon: ry bietjie op die Moloto pad so 12 km uit die stad dan sal jy ‘n gebou sien net na die Roodeplaat dam se afdraai aan die linkerkant van die pad. Dit is ‘n filtreer stasie wat water filtreer wat uit die Roodeplaatdam kom en na die stad gepomp word. Dit word nou al vir meer as 5 jaar gedoen. Mense dink alle water kom vanaf die Vaaldam, die Rietvlei dam voorsien ook water aan Pretoria. Die Roodeplaat dam en die Hartbeespoort dam voorsien water aan besproeings boere deur middel van ‘n kanaal sisteem

SjN ·

Die Vaaldam is te groot, as hy kleiner gebou was het hy vinniger vol geword, woorde van die vorige minister, maak sin ne.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.