Reeva help nou jong vroue só

Reeva Steenkamp

Dit was die afgelope week nege jaar nadat Reeva Steenkamp op Valentynsdag deur haar kêrel, die voormalige Paralimpiese atleet Oscar Pistorius, doodgeskiet is. Tog leef haar nalatenskap voort deur vroue in die regsberoep wat baklei vir geregtigheid.

Die 28-jarige Olga de Wet van Gqeberha (Port Elizabeth) is vroeër vandeesmaand as staatsaanklaer by die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) ingesweer nadat die Reeva-regsbeurs deur die Reeva Rebecca Steenkamp-stigting ses jaar gelede aan haar as finalejaar-regstudent toegeken is.

Olga was die eerste ontvanger van dié beurs wat sedertdien aan nóg vier regstudente toegeken is.

“Hoe spesiaal is dit tog om deel van Reeva se nalatenskap te kan wees?” meen Olga, wat in November ook as ʼn trustee en mede-uitvoerende hoof van die Reeva Rebecca Steenkamp-stigting aangewys is.

Staatsaanklaer Olga de Wet. (Foto: Verskaf)

Dié stigting is in 2016 – drie jaar ná die model se dood – op die been gebring om voort te bou op die visie wat sy voor haar dood gehad het: Om geweld teen vroue en kinders te beveg.

“Die missie van die stigting is opvoeding en bemagtiging en daarom het die raad van trustees destyds ʼn gesamentlike besluit geneem om jaarliks ʼn beurs aan ʼn finalejaar-regstudent toe te ken,” vertel Olga.

Dié staatsaanklaer was ʼn regstudent aan Unisa toe die beurs dieselfde jaar nog aan haar toegeken is – ʼn oomblik “wat haar altyd na aan die hart sal bly”.

“Die stryd teen die bekamping van geweld teen nie net vroue en kinders nie, maar ook mans is iets waarmee ons elke dag gekonfronteer word. Die statistieke is skokkend en dit is daarom belangrik dat almal saamstaan om juis hierdie geweld teen te staan op die regte manier, deur opvoeding, bewusmaking en bemagtiging.”

Olga de Wet was die eerste ontvanger van die Reeva-regsbeurs. (Foto: Verskaf)

Olga sê daar is ʼn gesegde van Reeva wat haar altyd sal bybly: “Onthou, jy is spesiaal en die wêreld is joune om te geniet. Almal het die reg om geliefd en veilig te voel.”

Olga stem volkome hiermee saam. “Ons almal verdien om veilig te wees en régtig te glimlag. Dit is in ons hande om ʼn verskil te maak in ons gemeenskap.”

Sy erken dat die pad na sukses nie altyd maklik was nie. “As dit nie vir my ouers, die beurs en die stigting was nie, sou my moed my dalk begewe het. Ek is ewig dankbaar vir die wonderlike ondersteuningstruktuur en leiding.”

Olga sê die NVG streef ook geregtigheid na, sodat mense in vryheid en veiligheid kan leef. “Dit is vir my ʼn groot eer om my te vereenselwig met hierdie waardes. Benewens die eer, is dit een van my grootste drome wat bewaarheid is en ek is bevoorreg om te sê dat ek daagliks by leiers leer wat nie net ʼn passie het vir wat hulle doen nie, maar ook bereid is om hul kennis met ons te deel.

“Ek leef my droom.”

Olga de Wet, June Steenkamp en Tania Koen. (Foto: Verskaf)

Olga werk as deel van die stigting nou saam met Reeva se ma, June, en mede-uitvoerende hoof van die stigting, Tania Koen.

“Ons is so trots op Olga,” sê Koen, wat ook as regsverteenwoordiger vir June en haar man, Barry, optree.

Pistorius dien tans tans 13 jaar tronkstraf vir Reeva se moord uit nadat hy haar op 14 Februarie 2013 in sy huis doodgeskiet het.

Daar is einde verlede jaar begin met die proses om die voormalige sportheld op parool vry te laat. Daar was vroeër sprake dat Reeva se ouers met hom byeen sou kom, maar dit is nie duidelik of die samekoms wel plaasgevind het nie. Koen wou ook nie vandeesweek op die herdenkingsdag van Reeva se dood iets hieroor verklap nie.

Om meer oor die Reeva-regsbeurs te wete te kom, besoek die stigting se Facebookblad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Perdeby ·

Dink julle opsrif is bietjie verkeerd, sy kan nie meer mense help nie, behalwe ‘n organisasie.

Swerwer ·

Hierdie berig het my skoon aangedaan . Dankie vir die nalaentskap wat met soveel passie en liefde tot baie ander positief kan bydra tot geregtigheid.

Se maar net ·

????Laat my maar wonder, eerste wat die beurs ontvang en dan later toe ook ‘n trustee van die stigting geword? Waar is die ander wat van die beurs gebaat het?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.