Regering se adviseurs ontsteld oor ‘onwetenskaplike’ besluite

Dr. Zweli Mkhize. Foto: GCIS

Daar is duidelik ʼn gaping tussen dit wat wetenskaplikes en kenners uitvind en voorstelle wat hulle aan die hand doen en die strategiese aanslag wat die regering ten opsigte van Covid-19 volg.

Só sê die DA nadat lede van die ministeriële advieskomitee (MAK) die regering se strategie om Covid-19 te hanteer, die afgelope naweek in die media kritiseer het.

Dr. Glenda Gray, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (MNR) en lid van die MAK, het Saterdag aan News24  die regering se plan om die inperking stelselmatig uit te faseer as “onwetenskaplik en onsinnig” beskryf. Sy sê die landswye afsondering moet eerder onmiddellik gelig word en nie-farmaseutiese benaderings soos die was van hande, sosiale distansiëring en die dra van maskers moet eerder gebruik word om te keer dat die virus verder versprei.

Pres. Cyril Ramaphosa het verlede week aangekondig dat vlak 3 van afsondering aan die einde van Mei in sommige gebiede ingestel sal word.

Gray het gesê dat die stelselmatige uitfasering van afsondering geen wetenskaplike basis het nie en dat van die regulasies skynbaar “uit die duim gesuig is”.

Prof. Shabir Madhi, voormalige hoof van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) en lid van die MAK, het tydens ’n paneelgesprek aan die Daily Maverick gesê dat meer mense gaan sterf van siektes wat nie Covid-19-verwant is nie en dat Suid-Afrikaners nou self verantwoordelikheid vir hul gesondheid moet kan neem.

Beamptes van die departement van gesondheid het dié uitsprake glo skerp gekritiseer tydens ʼn vergadering van die MAK Saterdagaand, het News24 berig. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het die kritiek as “onbillik” bestempel en gesê geen streek in die land voldoen tans aan al die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se vereistes om die verligting van die afsonderingstydperk te regverdig nie.

Siviwe Gwarube, DA-skaduminister vir gesondheid, sê dié uitlatings deur kenners is kommerwekkend. “Dit is nou duidelik dat die regering onwillig is om wetenskaplike bewyse as riglyne te gebruik om die land se strategie teen Covid-19 te lei,” sê sy.

Sy sê hoewel die party die afgelope weke die departement se ingrypings verwelkom het, dit nie langer ʼn strategie kan ondersteun wat nie op wetenskaplike feite gebaseer is nie.

Gwarube het ʼn beroep op Mkhize gedoen om die data waarop besluite gebaseer word, eerlik en deursigtig met die land te bespreek.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Nie Verbaas ·

Daar is dit nou. Magsbehepte ANC nou blootgestel. Skandelik hoe oningeligtes net na hulself luister.

Jan ·

Hoop maar die klomp in die parlament luister na die kenners. Hulle raadgeewers is onbevoeg en rasisties

Anel ·

Hulle sien hulle het fout gemaak en weet nie hoe om dit reg te maak nie. Is ook nie bereid om te erken dat hulle fout gemaak het en die land in ‘n groter krisis gedompel het as wat die virus kan doen. Ons lewe lank kyk ons na ons gesondheid. Nie hulle na ons nie. As hulle hulle nie na hulle self kan kyk nie, is dit nie ons probleem nie.

Snowball ·

ANC sukkel seker maar met ‘n wetenskaplike benadering. Onsinnige en onuitvoerbare ideologië, wat rasbeheptheid voorstaan is meer hulle tipe benadering.

Paul ·

Hulle hou so baie van die “mag” wat hulle nou het dat hulle dit nie wil afstaan nie!! Dan dink die idiote ook dat hulle slimmer is as hierdie wetenskaplikes!!

henndrik ·

Dit is duidelik dat daar ander bedoelings agter die afsondering is want daar word regtig baie snaakse besluite geneem wat geen mens met ‘n gesonde verstand kan verstaan nie en daar word ook geen verduideliking daaroor gegee nie behalwe dat ‘besluite geneem is met ‘n goeie rede’. Dit maak eenvoudig nie sin nie

Michael 1 ·

Dit is wat gebeur as jy sit met n regering wat nie eers n spaza winkel doeltreffend kan bestuur nie.

Kokerboom ·

Ek stel voor dat ALLE ANC ministers en parlementslede se vergoeding gekoppel word aan die Korona virus uitfaseringskaal.
Op vlak 5 (reeds te laat) kry hul geen vergoeding of net ‘n basiese salaris. Dit word opwaarts aangepas in verhouding soos die skaal afwaarts aangepas word. Dan sal die kaders hul weerhou van gevoellose arrogante uitsprake en besluite en voel hoe dit voel om geen of min inkomste te kry en te oorleef soos die man in die straat!!!

Sam ·

Die ANC bly wat dit altyd was: onbeholpe en onbekwaam. Sal hulle nooit tot ‘n besef kom hoe hulle hierdie land benadeel en vernietig het nie? Ek verstaan hoekom Afrikastate meeste van die tyd in geweldadige rebellies gewikkel is: dit is die enigste manier om van die onbeholpenheid ontslae te raak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.