Regering swyg oor lewenskostekrisis

Foto ter illustrasie. (Foto: Helpende Hand)

Hoewel die ANC-regering nie self die las van stygende inflasie en lewenskoste aan sy eie sak voel nie, swyg hy boonop ook oor die benarde situasie waarin gewone Suid-Afrikaners hulself tans bevind.

Maroela Media het vroeër berig dat inflasie vir die eerste keer in vier maande gestyg het, van 6,9% in Januarie tot 7% in Februarie.

Dit is ’n beduidende toename van die vorige maand en oorskry die Resewebank se teikenband vir inflasie.

StatsSA het Woensdag aangekondig dat die prys van kos en nie-alkoholiese drankies die afgelope jaar met 13,6% gestyg het. Dit is die skerpste styging in byna 14 jaar.

Kossoorte soos brood, mieliemeel, beskuit, macaroni, soutkoekies en vleis het veral baie duurder geword.

Dr. Dion George, die DA se woordvoerder oor finansies, sê ’n nadere ontleding van die syfers lê die werklike omvang van die krisis bloot.

“Vervoerkoste het met 9,9% gestyg en brandstof met 10,6%.

“Kospryse het met ’n massiewe 14% toegeneem, met brood, ’n noodsaaklike kosproduk, wat met 20,5% duurder geword het.”

George sê ’n regering wat werklik omgee, sal die brandstofheffing verlaag, belastingvoordele vir sonkrag verhoog om verbruikers uit Eskom se greep te bevry én meer produkte van BTW vrystel.

Dit sluit in basiese stapelitems soos hoender aan die been, beesvleis, geblikte bone, mieliemeel, margarien, grondboontjiebotter, babakos, koffie, tee en soppoeier.

BTW op hierdie kossoorte raak die armste mense in die land – en hulle stoei reeds om kos op hul gesinne se tafel te sit.

“Hierdie ingrypings is maklik om toe te pas en ook bekostigbaar as die regering net die regte besluite neem rakende die besteding van belastingbetalers se geld.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.