Regering te stadig vir duisende e-visumaansoeke

(Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Uit die 6 329 e-visums wat die nasionale departement van binnelandse sake afgekeur het, is meer as die helfte van die hand gewys omdat die departement bloot nie betyds die verwerking van dié visumaansoeke afgehandel het nie. Dit is dus afgekeur omdat die datum waarop die aansoeker wou reis, reeds verstryk het.

Die departement het hierdie syfers vandeesweek tydens ʼn sitting in die nasionale raad van provinsies onthul. Dit volg op ʼn vroeëre aankondiging deur dieselfde departement dat slegs 48,8% van alle e-visumaansoeke suksesvol verwerk is. Slegs 3,2% is goedgekeur en aan aansoekers uitgereik.

“Dit is uiters kommerwekkend dat die ondoeltreffendheid van ons e-visumstelsel steeds die herstel van toerisme stuit, asook ons [Suid-Afrika se] doelwit vir beter skakeling met die Afrika-vasteland en om meer Afrika-toeriste na ons bestemming te lok,” het Mireille Wenger, die Wes-Kaapse LUR oor finansies en ekonomiese geleenthede, gesê.

“Ons visumstelsel moet dít juis bevorder en nie beperk soos tans die geval is nie.”

Luidens terugvoer wat deur die departement aan Wenger verskaf is, het die departement altesame 13 887 e-visumaansoeke ontvang. Slegs 6 769 van hierdie aansoeke is verwerk – en net 440 is goedgekeur. Altesame 6 329 aansoeke is afgekeur, waarvan 3 687 (58%) bloot was omdat die departement die aansoek eers ná die reisdatum verwerk het.

“E-visums is veronderstel om ʼn gerieflike opsie te wees vir besoekers om hul visumaansoeke aanlyn te voltooi, eerder as om ʼn besoek aan ʼn Suid-Afrikaanse konsulaat af te lê.”

Wenger sê dis tyd dat die regering daad by woord voeg en met daadwerklike stappe en tydlyne vorendag kom om die ernstige gebreke met die visumstelsel uit te klaar.

Maroela Media het ʼn navraag aan die departement van binnelandse sake gestuur oor die probleme met dié stelsel, maar nog nie terugvoer ontvang nie.

Altesame 14 lande kom tans in aanmerking vir e-visums, naamlik Kameroen, China, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Egipte, Kenia, Indië, Iran, Mexiko, Nigerië, Filippyne, Pakistan, Saoedi-Arabië en Uganda.

Pres. Cyril Ramaphosa het boonop in April vanjaar by die vyfde beleggingskonferensie in Johannesburg gesê dat Suid-Afrika sy e-visumstelsel wil uitbrei om ʼn bykomende 20 lande in te sluit.

Nuwe kategorieë sal volgens die president op die e-visumstelsel geskep word, waaronder studie-, sake- en oorplasingsvisums binne maatskappye.

Dít, het Ramaphosa gesê, sal Suid-Afrika in staat stel om vaardighede en beleggers te lok en werk te skep, terwyl die indiensneming van Suid-Afrikaners beskerm en bevorder word.

Nuwe afstandwerkvisum glo binnekort hier

Die departement van binnelandse sake het juis in die week aangedui dat hy daartoe verbind is om die instelling van ʼn afstandwerkvisum teen Junie af te handel. Die Wes-Kaapse departement vir toerisme en ekonomiese ontwikkeling beding al jare lank vir só ʼn visum.

Dit sal mense wat van enige plek af kan werk, na Suid-Afrika lok waar hulle dan hul werk kan voortsit terwyl hulle hul geld aan dinge soos verblyf, kos en vermaak bestee.

Vereistes vir hierdie visum sluit in bewys van werk, ʼn minimum inkomstevlak en mediese versekering.

Cayla Murray, die DA se woordvoerder oor finansies en ekonomiese geleenthede in die Wes-Kaap, sê sy hoop dat die departement by sy onderneming sal hou om hierdie visum teen Junie vanjaar in te stel, aangesien dit werkskepping in die Wes-Kaap sal bevorder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lillian ·

Ag vader, klim net deur die draad by die grens. Almal doen dit. Goedkoper en jy is verseker van toegang tot die land

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.