Regeringsgeboue vir kwarantyn geïdentifiseer

Die minister van openbare werke, Patricia de Lille. (Foto: Phando Jikelo/ANA)

Die regering het reeds dosyne geboue wat in staatsbesit is, geïdentifiseer wat as kwarantyngebiede vir koronavirus-lyers kan dien. Só het die minister van openbare werke en infrastruktuur, Patricia de Lille, Donderdag aangekondig.

Sy het onderneem dat sulke kwarantynsentrums in elkeen van die land se 44 distriksmunisipaliteite en metro’s opgerig sal word.

Hiervan is ’n paar reeds bekend, veral in die Vrystaat, KwaZulu-Natal, Limpopo en Noordwes. De Lille sê die klem sal val op digbevolkte, armoedige gebiede waar dit moeilik of selfs onmoontlik is vir inwoners om self-isolasie toe te pas.

Die twee plekke wat reeds in die Vrystaat beskikbaar gestel is, is die hospitale in Ladybrand en Trompsburg. In KwaZulu-Natal is eiendomme in Durban-Noord, Pietermaritzburg, Port Shepstone en Richardsbaai beskikbaar.

In Limpopo is persele in en om Tzaneen, Phalaborwa, Pietersburg, Warmbad en Potgietersrus reeds geïdentifiseer. Verskeie geboue in Noordwes, wat vier hospitale insluit, sal ook as plekke vir kwarantyn dien.

Die nuwe koronavirus Covid-19. (Grafika: CDC/Alissa Eckert, MS; Dan Higgins, MAM via Wikimedia Commons)

Die minister het behoorlik ingeklim onder leweransiers wat wil geld maak uit die korona-krisis. Sy het ’n voorbeeld genoem van ’n verskaffer wat ontsmettingsmiddels se prys in een week van R9 tot R75 verhoog het, en gesê sulke mense sal aan die pen ry.

De Lille het ook aangedui dat grensheinings, spesifiek op die grens met Zimbabwe, nou dringend herstel en opgradeer word, nadat dit jare lank toegelaat is om agteruit te gaan.

Veertig kilometer omheining van 1,8 meter hoog gaan binne die volgende maand vir die twintig kilometer oos en wes van die Beitbrug-grenspos buite Musina (Messina) opgerig word, teen ’n koste van R37,2 miljoen. Beitbrug is die grens tussen Zimbabwe en Suid-Afrika.

Voorts het De Lille aangekondig dat alle entiteite wat aan haar departement rapporteer, nuwe sanitasiereëlings ingestel het.

(Argieffoto: GCIS)

Die minister is ook bekommerd oor die stand van die konstruksiebedryf wat ’n groot knou gaan kry weens sowel die koronavirus as die regering se tekort aan geld. Sy onderhandel tans met pres. Cyril Ramaphosa en haar kabinetskollegas oor hoe om die konstruksiebedryf te ondersteun.

Intussen het die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) begunstigdes gevra om nie almal op die eerste van die maand na betaalpunte te stroom nie, aangesien dit kan veroorsaak dat meer as 100 mense op ʼn slag byeenkom. Dit is teen die spesiale maatreëls wat die regering ingestel het om die verspreiding van die virus te bekamp. Sassa-beamptes gaan ook nie meer huisbesoeke afê nie en gaan die aantal begunstigdes wat op een slag in die poskantoor toegelaat word, reguleer.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.